Só sê ATKV Winterskool-kategoriewenner

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Die wenner van die dramakategorie van die skryfkompetisie van Winterskool 2019, aangebied deur die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit in samewerking met Maroela Media, het planne om haar wenstuk op die planke te bring!

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en Maroela Media het onlangs die wenners aangewys van die Winterskool 2019-skryfkompetisie.

Die wenners was:
Verhale:
Natie Engelbrecht met As die blou verdwyn
Eenbedrywe: Naomi Malan met Brood
Gedigte: Zerelda Esterhuizen met Kinderverse

As wenprys is elk van die kategoriewenners kwytgeskeld van die inskrywingsfooi vir die ATKV-Skryfskool se Winterskool 2019, wat in Junie aan die NWU-kampus te Potchefstroom aangebied is. Maroela Media het ook die wenners se verblyfkoste vir die kursustydperk gedek.

Die drie wenners het ook die geleentheid gehad om, tydens die Winterskool, aan verder aan hul tekste te werk en dit te skaaf tot ʼn finale produk uiteindelik hier op Maroela Media gepubliseer kan word.

Naomi Malan laat weet dat die Winterskoolervaring haar oortuig het van die potensiaal van haar drama, getiteld Brood. Daarom dat sy verkies om nie die weergawe wat sy sedertdien herwerk en versterk het, op die internet beskikbaar te maak nie.

Harry Kalmer, wat in die eenbedryfkategorie as beoordelaar opgetree het, oordeel dat Naomi Malan se Brood duidelik bo die ander inskrywings uitgestyg het. “Die teks wat sy ingedien het, getuig van ’n insig in teaterkonvensies en van harde werk. Malan wend ook dinge soos simboliek en spanning aan – elemente wat altyd help om ’n gehoor te boei. Plek-plek getuig die teks ook van ’n insig in die teaterwêreld en van wat daarmee saamgaan,” het Kalmer gesê.

Malan reken die ATKV Winterskool 2019 het haar horisonne verbreed en haar blootgestel aan verskeie genres van Afrikaanse skryfwerk.

“Ek spreek my besonderse dank en waardering uit aan onder andere Bernard Odendaal, Hans du Plessis, Franci Greyling, Louis Esterhuizen, Thys Human, Sophia Kapp en al die uitgewers betrokke dat ek nuwe inspirasie gevind het as skrywer.

“As pryswenner van die Dramaskryfkategorie bedank ek Maroela Media vir die verblyf wat vir my geborg is, en die ATKV-Skryfskool dat ek die Winterskool self kosteloos kon bywoon.

“Bo en behalwe die inspirasie wat ek as skrywer uit die Winterskool kon put, het die gesellighede wat daarmee gepaard gegaan het die geleentheid gebied om te kon network met gevestigde en opkomende skrywers.

“Wat ’n wonderlike voorreg om ʼn inspirerende resensie van my dramateks, Brood, te kon ontvang van wyle Harry Kalmer. Sy dood laat voorwaar ’n enorme leemte in die Afrikaanse skryfkunswêreld. Sy resensie het my weer laat glo in my droom as skrywer; ook dat Brood die nodige trefkrag het om gehoorlede in die toekoms te raak.”

Sy beveel die jaarlikse Winterskool van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit ten sterkste aan vir enige aspirantskrywer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.