Só word Jaap Steyn onthou

Prof Jaap Steyn

Prof. Jaap Steyn (Foto: Verskaf)

Verskeie mense het die afgelope week hulde gebring aan die bekroonde taalhistorikus en skrywer prof. Jaap Steyn wat verlede naweek in Bloemfontein dood is. Maroela Media het vroeër berig Steyn is in die ouderdom van 83 aan natuurlike oorsake dood.

Vir meer as ses dekades het Steyn sy lewe aan Afrikaans gewy. In die stilte van sy woonstel waar hy omring was deur stapels en stapels boeke het hy hom verdiep in sake wat vir hom belangrik was.

“Hy was werklikwaar ʼn boekvraat; ʼn ernstige boekvaart,” vertel prof. Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-skryfskool en jarelange vriend van Steyn. “Ernstig in die sin dat hy nie veel vir blote ontspanning gelees het nie. Dit was vir hom ʼn lewenstaak om ingelig te wees oor die dinge wat vir hom saak maak.”

Odendaal sowel as prof. Hans du Plessis, emeritus van die Noordwes-Universiteit en skrywer, onthou hoe die magdom boeke Steyn se motorhuis oorgeneem het. Deels omdat Steyn nie ʼn motor besit het nie, maar grootliks omdat sy dors na boeke en kennis nooit gelaaf kon word nie. Volgens Odendaal het Steyn wel ʼn rybewys gehad, maar dit later net nie weer hernu nie.

“Ek vermoed hy het nooit ʼn behoefte gehad om te bestuur nie. Hy het altyd gestap waar hy wou wees – ongeag hoe ver dit was,” sê Du Plessis. Hy was ook goed bevriend met Steyn. Hulle ken mekaar sedert 1977 toe hulle saam by die destydse RAU gewerk het.

Du Plessis vertel dat hy dikwels saam met Steyn, Odendaal en prof. Christo van Rensburg, wat in 2018 dood is, gereis en geleenthede bygewoon het. Dié viermanskap het oor die jare ‘n hegte vriendskap ontwikkel wat diep gewortel is in wedersydse respek, lojaliteit en broederskap.

“Jaap was een van mees belese mense wat ek geken het. Hy was onsettend lojaal, verskriklik beskeie en het ʼn vlymskerp humorsin gehad,” vertel Du Plessis.

Weens sy skugter persoonlikheid en beskeidenheid was hy nie iemand wat jy sommer so leer ken nie, vertel Odendaal. “Jy het hom maar deur sy boeke leer ken.”

‘n Foto uit 2017 waar Jaap Steyn (middel) in gesellige luim verkeer saam met Christo van Rensburg (links) en Hans du Plessis (regs). (Foto: Verskaf)

Steyn was bekend as biograaf, kultuurhistorikus, joernalis en dosent in algemene taalwetenskap aan die Randse Afrikaanse Universiteit en professor-navorser in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Deur die jare het Steyn verskeie pryse vir sy werk en wetenskaplike bydrae tot Afrikaans ontvang. Dit sluit in: die Eugène Marais- en Ingrid Jonkerprys vir sy digbundel Die grammatika van liefhê, die Recht Malan- en die Louis Luyt-prys vir Tuiste in eie taal (1980), die CJ Langenhoven-prys vir taalkunde vir Trouwe Afrikaners: Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek (dit word in 1988 aan hom toegeken), die SA Akademie se Stals-prys vir geskiedwetenskappe, die Recht Malan- en Insigpryse van onderskeidelik die Nasionale Boekhandel en die tydskrif Insig vir die biografie Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal en die Louis Hiemstra-prys vir niefiksie vir die biografie Die honderd jaar van MER.

In 2000 ken die Suid-Afrikaanse Akademie die NP van Wyk Louw-medalje aan Steyn toe vir buitengewone prestasie van volgehoue aard op die gebied van die geesteswetenskappe. Steyn was ʼn erelid van die SA Akademie.

dr-danie-langner-en-jaap-steyn

Dr. Danie Langner en prof. Jaap Steyn tydens die bekendstelling van Steyn se boek ‘Afrikanerjoernaal’. (Foto: Verskaf)

Huldeblyke vir Steyn het die afgelope week ingestroom.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en hoofleier van Die Voortrekkers, beskou Steyn se dood as ʼn enorme verlies vir Afrikaans.

“Die FAK spreek sy leedwese uit met die familie, vriende en gewese kollegas van Steyn met sy heengaan. Sy dood is ʼn groot verlies vir die Afrikaanse taal, vir die Afrikaanse intellektuele lewe, asook vir die Afrikaners as kultuurgemeenskap,” sê Langner.

Steyn is in 2015 deur dié organisasie gehuldig vir sy volgehoue en indringende werk oor Afrikaans wat nog lank bewaar sal word en stof tot nadenke sal wees vir die volgende geslagte.

Langer het destyds met die oorhandiging van dié toekenning gesê: “Hy is die voorbeeld van die beiteltjie in NP van Wyk Louw se gedig waar ʼn klein klein beiteltjie, blink en geslyp, eers ʼn klippie, dan ʼn rots en dan die planeet kloof sodat hy op die dag sien hoe die nag daar anderkant oopgaan met ʼn bars wat van sy beitel af dwarsdeur die sterre loop.”

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op sy beurt ook hulde aan Steyn gebring.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan sy suster Ria en familie. Sy dood laat ʼn  onmeetbare leemte op die terrein van Afrikanerkultuurgeskiedenis, Afrikaanse taalwetenskap en letterkunde.”

Volgens dié organisasie het Steyn met sy werke Tuiste in eie taal, Trouwe Afrikaners en Ons gaan ʼn taal maak die kultuurgeskiedenis van Afrikaans en sy sprekers op ʼn meesterlike en onverbeterlike wyse gedokumenteer.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, sê dit is sy nederigheid en humorsin wat haar altyd sal bybly.

jaap-steyn-skrywer

Die taalhistorikus en skrywer Jaap Steyn. (Foto: Kraal Uitgewers)

“Benewens sy kennis en skryfvernuf sal hy veral onthou word as ʼn helder denker, nederige mens, fynproewer van humor, vurige liefhebber van en aktivis vir Afrikaans en ʼn lojale vriend. Ons sal hom mis en ons wens sy geliefdes troos in die hartseer tyd toe.”

Kraal Uitgewers, wat onder meer Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare uitgegee het, het ook sy medelye betoon.

“Prof. Jaap se sagte benadering, nederigheid, onbeskryflike kennis en sy liefde vir Afrikaans én die geskiedenis was enkele van die karaktereienskappe wat hom so geliefd gemaak het. Die Kraal Uitgewers-span salueer ʼn meesterlike skrywer,” sê Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder by Kraal Uitgewers.

Nadat Steyn in 1997 afgetree het, was hy nog vyf jaar as deeltydse navorser aan die Universiteit van die Vrystaat verbonde en was tot met sy dood ʼn navorsingsgenoot van die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans van die Universiteit van die Vrystaat.

Steyn sal onder meer onthou word vir die verskeie literêre publikasies, soos Dagboek van ’n verraaier (1978), Hoeke Boerseuns ons was (1991), asook Sonkyker: Afrikaners in die verkeerde eeu (2008) waarna hy as ʼn “herinneringswerk” verwys het.

Hy sal ook onthou word vir die deeglikheid en insig waarmee hy navorsing aangebied het.

Odendaal sê: “Uitstaande kenmerke van Steyn se werk is dat dit nog altyd leesbaar was vir Jan Alleman. Hoewel sy navorsing akademies van aard was, het hy oor die vermoë beskik om dit op ʼn helder en doeltreffende wyse te formuleer sodat dit vir ʼn wye gehoor toeganklik kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Ons eer sy nagedagtenis.

Chef

Die groot geeste van samelewing sterf uit. Respek!