Sonneblomme of sonneblom – wat groei daar op jou land?

Argieffoto (Foto: WikiImages, Pixabay)

Kry vandag ʼn interessante navraag van ʼn gebruiker: Het ʼn boer ʼn land vol sonneblom of sonneblomme? Daar het ʼn gesprek ontstaan daaroor, hoor ek, en die ouer garde wat deelneem, sê dis enkelvoud, die jonger lede sê die meervoud is korrek.

Dis juis vir my interessant omdat die vraag so ʼn paar maande gelede by die Taalkommissiesitting opgeduik het, en ʼn hele komitee vol baie slim taalkundiges ʼn middag lank geredekawel het oor die antwoord. Wat vir my net een ding sê: Dis nie sommer ʼn ou hierjykwessietjie nie.

Die uitslag is, ná die lang geredekawel en behoorlike navorsing, deur kollega Jana Luther uiteengesit in ʼn werksdokument waarin die grammatika van Afrikaans beskryf word. (Dis nog aan die gebeur, maar hou maar VivA se webwerf en Facebookblad dop vir meer inligting daaroor. Dit beloof om vir taalgebruikers, studente, onderwysers en leerders baie waardevol te wees.) Daarvolgens is hier ʼn baie interessante streektaalverskynsel aan die werk.

Ten eerste moet ʼn mens verstaan wat die verskil is tussen massanaamwoorde en soortnaamwoorde. (Moenie jou oë rol nie, dis nie so moeilik nie, en dis nou ʼn geleentheid om met jou hoërskool-Afrikaans te woeker!)

Massanaamwoorde is woorde soos vleis, koring, water en suiker. Die eienskap van massanaamwoorde is dat dit nie telbaar is nie, wat meebring dat jy nie ʼn meervoud daarvoor gaan gee nie en dat jy dit nie saam met die onbepaalde lidwoord (ʼn) gaan gebruik nie. ʼn Mens praat byvoorbeeld nie van *korings of *ʼn koring nie, en as jy verwys na twee suikers is jy eintlik besig om te vra vir twee teelepels suiker; ʼn vleisie is ʼn klein stukkie vleis, en die Krismistafel wat altyd onder drie vleise kreun, bevat eintlik drie soorte vleis. In hierdie gevalle het ons met die meervoud en die lidwoord van ʼn massanaamwoord ʼn soortnaamwoord gemaak.

Dit is dus korrek om te skryf ʼn slagter verkoop vleis, ʼn boer saai koring, Kaapstad het ʼn tekort aan water en Suid-Afrika se suiker kom van KwaZulu-Natal en die Laeveld. Toets dit maar: Die meervoud gaan nie hier werk nie, en ʼn mens kan ook nie ʼn konteks skep waar die onbepaalde lidwoord gaan werk nie.

Woorde soos beeste, skape, varke en sonneblomme is soortnaamwoorde, al wil ons eintlik daaraan dink as iets wat net in ʼn groot groep voorkom. Hulle is telbaar (al gaan jy moeilik tel aan ʼn land vol sonneblomme, is dit teoreties moontlik om hulle te tel) en daarom kan hierdie woorde meervoude neem. Dit is ook telkens moontlik om na een eksemplaar daarvan te verwys: Die beeste wei in die boonste kamp. X ʼn Bees wei in die boonste kamp. En Die boer plant sonneblomme in die land. X Daar is ʼn enkele sonneblom in die land oor.

Die interessantheid kom in by die feit dat sprekers ewe gemaklik van hierdie soortname massaname maak deur die meervoud en lidwoord weg te gooi. Sonder dat hulle die teorie rondom massanaamwoorde geken het, het hulle die struktuur daarvan begryp en soortnaamwoorde as massanaamwoorde ingespan. Dit gebeur veral in die streeksvariëteite, maar ek dink daar is min gebruikers wat gaan fout vind met ʼn konstruksie soos Hy boer deesdae hoofsaaklik met bees. Of Die skaap in die onderste kraal moet nog gedip word. Of Hy het oorgeskakel van koring na sonneblom. Dit is dus heeltemal korrek om te sê Hy plant sonneblomme of Hy plant sonneblom. Dis net twee verskillende woordsoorte, en die meeste sprekers sal vir jou kan sê hulle snap instinktief die onderskeid tussen telbaarheid en ontelbaarheid in hierdie kontekste.

Die boer mag dus lustig plant aan sonneblomme of sonneblom. Wat die boer net glad nie mag doen nie, is om sonneblomme te groei.

Daar is sekere werkwoorde in Afrikaans wat nie oorganklik is nie (moenie hiperventileer nie, dit beteken maar net hulle kry nooit ʼn voorwerp nie), en groei is so ʼn onoorganklike werkwoord. Babas kan groei, mielies groei (darem weer), die ekonomie groei (hopelik) en mense se vrese en frustrasies groei (daagliks), maar niemand, nie eers die oulikste boer, kan iets groei nie. Hy kan nie mielies, koring, sonneblomme of ʼn baard groei nie, hy kan dié goed net kweek. (En te oordeel aan die ou onindrukwekkende ou yligheidjie op die kinnebak, moes sommige boere dit ook maar liewer nie gekweek het nie.)

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Patriot ·

Sonneblom. Sonneblomme is die blom soort wat jy in jou tuin plant. Want hulle is waarlik net blomme. Maar sonneblom is die saad plant wat op jou land is , en jy oes bv 10 ton sonneblom.

Hendrik ·

As ek kan sê “ek het ‘n koring geplant”, moet ek dan sê “ek het sonneblomme geplant”? Nee, “ek het sonneblom geplant” soos ek koring geplant het. In hierdie geval is koring en sonneblom mos beide nie naam van die gewas. Maar op my sonneblomland staan 200000 sonneblomme per hektaar, en miljoene koringplante per hektaar. In die boerderygemeenskap word na koring en sonneblom op dieselfde manier verwys.

Delene ·

Ons het so gepraat. Die sonneblomme staan mooi op die land. Maar, die land is vol sonneblom. Die sonnblom kom op. As daar maw van die plant gepraat word sonneblom en van blom …sonneblomme.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.