Soorte naamwoorde in Afrikaans

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Hierdie blog is deel van die reeks blogs oor woordsoorte, en is gebaseer op die afdeling oor naamwoorde soos vervat in die Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG). Die grammatika is ʼn gratis, aanlyn bron en is beskikbaar in VivA se Taalonderrigportaal.

Die definisie van naamwoorde wat in ASG gegee word, lui soos volg:

‘n Naamwoord benoem selfstandighede (ook genoem dinge of aansyne) wat lewend en konkreet (soos mense, diere en plante), nielewend en konkreet (soos voorwerpe en plekke), of abstrak (soos gevoelens, idees of handelingstipes) is.

Die belangrikste inligting wat ʼn mens uit hierdie definisie kry, is dat ʼn naamwoord ʼn ding benoem, en dat hierdie ding konkreet of abstrak kan wees. Die belangrikste afleidings wat ons uit hierdie inligting kan maak, is dat dinge gewoonlik telbaar of ontelbaar is, en dat naamwoorde gevolglik gewoonlik lidwoorde en meervoude kan kry.

Ons identifiseer ses soorte naamwoorde in Afrikaans:

  1. eienaamwoorde
  2. soortnaamwoorde
  3. abstrakte naamwoorde
  4. massanaamwoorde
  5. versamelnaamwoorde
  6. maatnaamwoorde

Die soorte naamwoorde word geïdentifiseer op grond van hulle taalkundige eienskappe, met ander woorde hoe hulle morfologies, sintakties en semanties optree.

Voor ons kom by hoe om tussen die soorte naamwoorde te onderskei, kom ons kyk net vinnig na daardie eerste deel van die definisie wat sê dat naamwoorde dinge benoem. Wat beteken daardie benoem in ʼn taalkundige konteks? Onthou dat taal ʼn instrument is waarmee ons die werklikheid om ons beskryf, en ons gebruik woorde om na dinge in die werklikheid te verwys. As ons die woord boom op papier neerskryf, is daar nie ʼn boom op die bladsy nie, daar is ʼn paar inkstrepe op die bladsy. As ons die woord sê, kom daar nie ʼn boom by ons monde uit nie, daar kom klank uit. Taal verwys net, en die ding waarna die naamwoord verwys, noem ons in die taalkunde ʼn referent.

Die onderskeid tussen eienaamwoorde en soortnaamwoorde het te doen met die soort referent waarna hulle verwys. Moenie aan die twee woordsoorte dink as boksies nie, dink daaraan as ʼn glyskaal. Aan die een kant het ons eienaamwoorde, waarvan die referent ʼn unieke eksemplaar is. Aan die ander kant het ons soortnaamwoorde, waarvan die referent ‘n tipe of soort is.

Dit klink vreeslik ingewikkeld, maar dit is eintlik glad nie. So werk dit:

Die seun ry graag fiets (seun = soort/tipe) teenoor Marius ry graag fiets (Marius = spesifieke seun; ʼn unieke eksemplaar van die soort).

ʼn Stad is ʼn besige plek (stad = soort/tipe) teenoor New York is ʼn besig plek (New York = spesifieke stad; ʼn unieke eksemplaar van die soort).

Hoekom moet ons eienaamwoorde kan onderskei? Omdat eienaamwoorde gewoonlik ʼn unieke eksemplaar benoem, kry dit moeilik ʼn onbepaalde lidwoord. Bonus: Eienaamwoorde kry hoofletters. As ons weet hoe om ʼn eienaamwoord te herken, weet ons watter woorde hoofletters moet kry.

Die onderskeid tussen abstrakte naamwoorde en soortnaamwoorde het te doen met hoe abstrak of konkreet die referent is. So werk dit:

Hannelie het ʼn nuwe bril (bril = sintuiglik waarneembaar) teenoor Hannelie het deursettingsvermoë (deursettingsvermoë = nie sintuiglik waarneembaar nie).

ʼn Mens kan hier maklik deurmekaar raak deur “sintuiglik waarneembaar” net te interpreteer as “sigbaar”. Onthou dat as ʼn mens ʼn ding kan voel (Hannelie het ‘n hoofpyn), ruik (Hannelie het ʼn nuwe parfuum), hoor (Hannelie het ʼn skril stem) of proe (Hannelie het ʼn bitter smaak in haar mond), is dit steeds ʼn soortnaamwoord.

Daarteenoor is ʼn abstraksie iets waarvan jy hoogstens die simptome kan waarneem. As Hannelie deursettingsvermoë het, werk sy waarskynlik hard en aanhoudend, maar ʼn mens kan nie deursettingsvermoë sien, hoor, ruik, voel of proe nie.

Hoekom moet ons abstrakte naamwoorde kan onderskei? Abstrakte naamwoorde is meestal nie telbaar nie, en kry dus meestal nie onbepaalde lidwoorde of meervoude nie.

Die onderskeid tussen massanaamwoorde (ou naam: stofname) en soortnaamwoorde het te doen met hoe telbaar die referent is. Die telbaarheid van ʼn referent bepaal hoe gemaklik dit onbepaalde lidwoorde en meervoude neem.

Karien eet graag appels (appel > ʼn appel > appels = soortnaamwoord) teenoor Karien eet graag heuning (heuning > *ʼn heuning > *heunings = massanaamwoord).

Hoekom moet ons massanaamwoorde kan onderskei? Massanaamwoorde is nie telbaar nie, en kry dus nie onbepaalde lidwoorde of meervoude nie.

Versamelnaamwoorde tree saam met naamwoorde op, en dui die versameling aan waarin die ding voorkom.

Die trop bobbejane maak amok in die kamp (trop = versamelnaamwoord; bobbejane = soortnaamwoord).

Onthou dat daar nie altyd ʼn 1:1-verhouding is tussen ʼn versamelnaamwoord en die soortnaamwoord nie. ʼn Mens kan ook van ʼn groep bobbejane praat, en dan is groep ʼn versamelnaamwoord. En as ʼn mens ʼn woord soos trop sonder ʼn soortnaamwoord gebruik, is dit ʼn soortnaamwoord: Die trop maak amok in die kamp (trop = soortnaamwoord). Die woord self bepaal dus nie of dit ʼn versamelnaamwoord is nie, die optrede van die woord in ʼn bepaalde konteks maak dit ʼn versamelnaamwoord.

Hoekom moet ons versamelnaamwoorde kan onderskei? Versamelnaamwoorde is naamwoorde wat los van die daaropvolgende naamwoorde geskryf word. Gewoonlik is naamwoord + naamwoord = samestelling, maar met versamelnaamwoorde bly die eerste naamwoord los.

Maatnaamwoorde tree ook saam met naamwoorde op, en dui die hoeveelheid aan waarin die ding voorkom.

Sy het ʼn hele bottel water met een teug leeggedrink (bottel = maatnaamwoord; water = massanaamwoord).

Dit is nie altyd moontlik om te bepaal of ʼn woord ʼn maatnaamwoord of versamelnaamwoord is nie. In ʼn sin soos Sit net ʼn gerf koring in ʼn blompot, kan gerf ʼn maatnaamwoord of versamelnaamwoord wees. Dit is nie nodig om hoofbrekens oor dié onderskeid te kry nie, want die rede waarom ons maatnaamwoorde in ʼn sin moet kan herken, is dieselfde as vir versamelnaamwoorde:

Hoekom moet ons maatnaamwoorde kan onderskei? Maatnaamwoorde is naamwoorde wat los van die daaropvolgende naamwoorde geskryf word. Gewoonlik is naamwoord + naamwoord = samestelling, maar met maatnaamwoorde bly die eerste naamwoord los.

VivA-groete

Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae