Speel Wordle in Afrikaans

Watse, die Afrikaanse weergawe van Wordle, is deur AH Welgemoed vir Klyntji ontwikkel. (Foto: Klyntjie/Facebook)

Wordle, die Engelse woordbouspeletjie wat wêreldwyd die belangstelling van taalliefhebbers en vertalers geprikkel het, kan nou ook in Afrikaans gespeel word.

Watse, die Afrikaanse weergawe van Wordle, is deur AH Welgemoed vir Klyntji ontwikkel en is op dieselfde raamwerk as die oorspronklike speletjie gegrond.

Gebruikers kry ses probeerslae om die vyfletterwoord van die dag te raai. Groenblokkies dui aan dat dit die regte letter in die regte blok is, oranje beteken dat die letter in die woord voorkom, maar in ʼn ander blok, en letters in swart blokkies kom nie in die woord voor nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Wordle al hoe gewilder word en intussen gelei het tot spontane pogings om soortgelyke speletjies vir ander tale te ontwikkel. Die New York Times het ook sy beursie nadergetrek om dié uiters gewilde speletjie aan te skaf.

Lau Chaak-ming, ʼn Hongkongse linguistiekprofessor, se Kantonese weergawe van die speletjie heet “Zidou”. Hy het dit ontwikkel met behulp van “jyutping”, ʼn metode om Kantonees na die Westerse alfabet te translitereer.

“ʼn Kollega het eenkeer tydens ontbyt gevra of ek nie ʼn jyutping-weergawe kan ontwikkel nie. Ons het toe woorde op die spyskaart hardop gelees en besef dat baie frases vyf letters bevat,” het Chaak-ming aan AFP gesê.

Die Engelse woordbouspeletjie Wordle het wêreldwyd die belangstelling van taalliefhebbers geprikkel. (Foto: Stefani Reynolds/AFP)

Chaak-ming meen hy het dit net gedoen om pret te hê – al sou daar net ʼn paar honderd mense wees wat Zidou speel.

“Dit het my egter verras dat meer as 10 000, dalk selfs 100 000 mense, al hierdie speletjie gespeel het. Ek is baie gelukkig.”

Wordle stel ʼn eenvoudige uitdaging aan lesers: dit dink aan ʼn vyfletterwoord en daag die gebruiker dan uit om in ses of minder probeerslae te raai wat die woord is.

Gebruikers kan Watse, die Afrikaanse weergawe van Wordle, gratis op Klyntji se webwerf speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois

Ek het hom met ‘n paar dae voorgespring by https://wortel.wrintiewaar.co.za .