Spog internasionaal met jou digkuns

Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam (Foto: Facebook)

Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam (Foto: Facebook)

Die derde Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam, voorheen die “Festival voor het Afrikaans”, vind 8 tot 10 April 2016 plaas in Amsterdam se Compagnietheater. Die doel van die fees is om Afrikaans by Nederlanders en Vlaminge bekend te maak.

“Die verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands bied ’n pragtige ruimte aan mense om op taalgebied met mekaar in kontak te tree, en lekker te gesels oor die ooreenkomste, maar ook die verskille tussen die tale,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê. “’n Ander doel van die fees is om bekende en onbekende Afrikaanse kunstenaars ’n verhoog in die buiteland te bied waar hulle in Afrikaans kan optree. Die program van die fees weerspieël verder die diversiteit van gemeenskappe wat Afrikaans as eerste, maar ook as tweede of derde taal praat.”

Die Gedigtewedstryd

Die fees wil graag soveel moontlik mense in Nederland, Vlaandere, Suid-Afrika en Namibië entoesiasties maak oor die mooi en unieke band tussen Nederlands en Afrikaans. “Daarby vind ons dit ook belangrik om die publiek, en ook die jonger generasie aktief te betrek,” lui die verklaring. “Daarvoor het die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam ʼn gedigtewedstryd vir amateurs in die lewe geroep.”

Die tema van die gedigtewedstryd is “Tussen Ons”, die verwantskap tussen Afrikaans en
Nederlands; tussen Suid-Afrika en/of Namibië en Nederland/ Vlaandere. Daar moet by voorkeur (tot ’n mindere of meerdere mate) verwys word na die huidige, aktuele situasie, maar vir die res geld digterlike vryheid.

Kategorieë
Die wedstryd bestaan uit die volgende kategorieë:
– Kategorie 1: Afrikaans
– Kategorie 2: Nederlands

Die Reëls
– Die gedig moet in Afrikaans of Nederlands wees;
– die gedig moet nie meer as 200 woorde wees nie;
– die gedig moet by die tema hou, om in aanmerking te kom vir ’n prys;
– die beoordelingskomitee kies die wenners; en
– die gedigtewedstryd is uitsluitlik vir amateurs.

Stuur jou gedig per e-pos ingestuur na [email protected].
Meld asseblief op elke inskrywing die volgende:
– Naam en adres
– Ouderdom op 8 April 2016 en geboortedatum

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 4 April 2016.

Beoordeling
Die mooiste gedig wen. Watter gedig die mooiste per kategorie is, word deur die beoordelaarskomitee bepaal.

Die Pryse
Eerste prys vir kategorie 1 (Afrikaans): €100
Eerste prys vir kategorie 2 (Nederlands): €100

Wenners uit Nederland en Vlaandere mag hulle gedigte kom voorlees by die fees en kry ook gratis toegang tot die fees in Nederland, maar reiskoste na die fees word nie vergoed nie.

Vir die wenners uit Suid Afrika wag ’n verrassing: kykNET maak moontlik ʼn spesiale gedigfilm van die Suid-Afrikaanse wengedigte!

Die feesorganisasie behou die reg voor om die gedigte te gebruik tydens die fees en vir promosiedoeleindes.

Sluit by die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam se Facebook-blad aan of volg hulle op Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heidi ·

Mag mens niks skryfwerk gepubliseer hê om as amateur geklassifiseer te word?

Bart (A.K.A) ·

Slegs professionele digters, wat geld verdien met hul digkuns, mag nie deelneem nie. As jy nie ‘n professionele digter is nie, mag jy deelneem!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.