Steve Hofmeyr oor Afrikaans

Steve-Hofmeyr-en-AG-Visser

Steve Hofmeyr tydens verjaardagvieringe van Laerskool AG Visser in Heidelberg. Foto: Steve Hofmeyr/Facebook.

Ek het eintlik nee gesê toe klein Tarien Trollip my uitnooi om op AG Visser se verjaardag by die AG Visser-laerskool te gaan praat. Maar toe sy weer skryf en mooi vra, moes ek plan maak. Hier is my toespraak:

Taal is ʼn manier om die wêreld te ken. En ons lewenstaak is om die wêreld en sy dinge te leer ken. Daar sal nooit genoeg tale wees nie en nie een taal beskryf alles dieselfde nie. En dis reg so.

Daarom kry ek lekker as vertalers sê iets het verlore gegaan in die vertaling. Ek kry lekker as vertalers sukkel, want dit is hoe dit moet wees. Maar as een taal afstomp of weggevat word, verbied en verbrand word, verloor ons ʼn manier om die wêreld te ken. Dit is ʼn onpeilbare verlies.

En as daardie taal wat brand en verlore gaan myne is, verklaar jy nie net oorlog teen my taal nie, jy verklaar oorlog teen my manier van die wêreld ken. Hoe ek kyk, hoe ek proe, hoe ek huil, hoe ek lag, hoe ek liefhet, hoe ek sing, hoe ek dans en selfs hoe ek stil raak. Want as ek stil raak, raak ek stil in Afrikaans.

Ander vertel my ek worry te veel, dat Afrikaans nooit sal uitsterf solank as ons dit net praat nie. Maar om die taal net te praat is nie genoeg nie. Want dan neem jy die taal terug na die straat, kombuis en landerye waar Afrikaans eerste gepraat is. Dis reg so, maar onthou, Afrikaans is soveel meer as net dit. Dit is ʼn jong taal, maar een van die eerste Afrikatale wat in die vorige eeu so vinnig so ʼn enorme biblioteek kon bou. Nie enige ou biblioteek nie, maar ʼn honderd-miljoen-ton-olieskip vol brandstof met die potensiaal om honderd-miljoen ligte aan te skakel op ʼn honderd-miljoen verskillende plekke. Weet jy watter plekke?

In die spreekkamer van Dr AG Visser, toe hy sê: Kom na my tuin waar die donkerrooi rose/Duist’re geheime vertrou aan die nag…

Die lig op die stoep van Jan FE Cilliers aan die einde van ʼn oorlog, toe hy skryf: dis ʼn graf in die gras/dis ʼn vallende traan/dis al…

Die lig in die leë kinderkamertjie toe Totius se dogtertjie een aand sterf nadat weerlig haar tref en hy skryf: Sy was so teer soos ʼn vlindertjie/sy’t lugtig omheen geswerf/ʼn asempie wind kon haar vlerkies breek/en kyk watter dood moes sy sterf…

Die lig in die kamers van Eugene Marais toe hy skryf: O treurig die wysie/op die ooswind se maat/ soos die lied van ʼn meisie/in haar liefde verlaat…

Die lig teen die mure van verlange, toe Elisabeth Eybers oor ma sê: En moeder was ʼn donker vrou/ met ʼn stiletskerp gees…

Afrikaans was die lig in die kloosterkamertjie van Sheila Cussons toe sy bid: vermetel tuis is ek in U…
In die studeerkamers van NP van Wyk Louw toe hy aan haar verklaar: Nog in my laaste woorde sal jy wees/nog in die laaste skeemring van my dink…

Afrikaans is die lig in CJ Langenhoven se studeerkamer op Arbeidsgenot toe hy neerpen: Uit die blou van onse Hemel, uit die diepte van ons see…

As jy Afrikaans wil wegneem, moet jy duisende ligte gaan afskakel. Moet jy tienduisende boeke gaan haal uit die Afrikaanse skole, regsdepartemente, mediesefakulteite, filosofiedepartemente, wetenskaplaboratoriums en die handboeke van verdedigingsmagte en landbouskole en biblioteke. Daar is en was GEEN ander Afrikataal wat hierdie kontinent al so vroeg in daardie plekke verteenwoordig het nie. Dis ʼn skoot in die siel van Afrika as hierdie taal afstomp en dit is die einde van my verwysingswêreld as Afrikaans weggevat word.

Die wêreld verloor 10 tale per jaar. Daar is al 750 afgestorwe of amperdood tale wêreldwyd. Maar daardie tale gaan sommer net dood. Afrikaans is nie so ʼn taal nie. Hy kantel nie. En as hy bietjie bloei, is dit omdat daar mense is wat baie hard werk om my taal te kwes. Maar ons taal kantel nie, want ons wat dit praat is nie kantelbokke nie.

Tog is ons arme taal die sondebok van die eeu. Die wêreld vertel ons ons taal is nie cool nie. Maar kom ek sê jou wat: niemand hier gaan jou forseer om Afrikaans te praat nie. Daardie dae is verby. Maar hier is wat ek en jy gaan doen: ons werk is om soveel cool dinge in Afrikaans te doen, dat almal dit sal WIL praat. En dit alleen is ons plig teenoor ons nageslag. Om hulle te lei na selfontdekking van hierdie pragjuweel in ons kulturele skatkis.

Ek wil voor ek hier loop vandag sien en hoor hoe julle hierdie taal rondrol in julle kieste soos kougom, soos spookasem, soos plomp. Kou hom, want jy kan nie gatvol gekou raak aan ʼn taal nie. Heit. Hier is sommer vier lekker Afrikaanse woorde: kougom, spookasem en, ja …. gatvol. Maar wat is plomp, oom, vra jy?

ʼn Bekende kok vertel hoe ʼn visserman ʼn “seebamboes vol kreef of perlemoen stop, dit verseël en dit nét so in die siedende vuur op ʼn Weskusstrand gooi. Wanneer hy die verskrompelde bamboes later oopbreek, is die paljas plomp daarin.” (Mariëtte Crafford)

Kou hom vandag, want jy kan nie gatvol gekou raak aan Afrikaans nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Steve Hofmeyr

Steve Hofmeyr is onder meer skrywer, aktivis en geselsprogramaanbieder. Hy het meer as 2 miljoen CD's op sy kerfstok en is 'n driemalige SAMA-wenner (insluitende Besverkoopte Suid-Afrikaanse Kunstenaar 2004). www.stevehofmeyr.co.za

Deel van: Afrikaans, Bekendes, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

TTh ·

Pragtig gestel Steve, ek glo Afrikaans is die taal vir Afrika, indien alle Afrikane die taal kan omhels en gebruik, kan Afrika ‘n ware transformasie ondergaan.

EMK ·

Mooi maar dalk te “hoog” vir laerskoolkinders? Mens praat tog op hulle vlak dan nie – en party is maar 6 jaar oud! En moet my nou nie met klippe wil gooi nie, dis net my gevoelente!

Chris W ·

Ek kon dit nie beter gestel het nie as jy nie STEVE! Wel gedaan ,ek en my familie is TROTS op jou !!

Reinhardt ·

Ek is glad nie n fan van Steve nie, maar goeie hel dit is goed gestel. Welgedaan. Ek het vandag n nuwe respek vir jou gekry Steve.

Johan 2 ·

Lyk my allmal wat na hom luister word n aanhanger…die res laat hul lei deur die “Engelse” media.

Doons ·

EMK ,Toe ek n klein seuntjie was het ek eenkeer geluister na baie slim ooms en tannies, oa Dr’s De Ridder en Meissner en ek het toe besluit ek wil ook so wees.Ek se dankie vir Pres. Steve dat hy hierdie lieflike boodskap in kinderhartjies gebere het,ek glo die saad is geplant en sal groei!

EMK ·

Doons, as jy so sê. Soos ek die kleintjies bekyk sit hul soms grootoog maar die gedagtes dwaal en kort voor lank stamp hul aanmekaar en giggel en doen. Ek sou regtig elke kind se opinie wou hoor. Maar ja, dis nou nie waaroor dit hier gaan nie, ek glo steeds dis bietjies te hoog vir kleintjies al is dit goed. Mens praat met elkeen op sy eie vlak glo ek en hierdie, alhoewel goed is vir my meer vir groter kinders/grootmense. Net MY mening, jy hoef nie saam te stem

Asjas ·

Geen ander taal gee my hoendervleis soos Afrikaans nie. My man is Engels en selfs hy se hy het nog nooit ‘n mooier taal as Afrikaans gehoor nie.

Izzy ·

Baie goed gestel, Steve. Dankie dat jy so passievol is oor ons taal.

thea ·

Steve weer briljant gese,dankie vir jou passie. Daar is twee ander woorde wat net in Afrikaans is en nie in n ander taal kan vertal word met dieselfde krag nie naamlik “LEKKER” , “VOETSEK’, lank lewe my moedertaal

Frans ·

Voetsek kom van die Nederlands ‘Voort seg ik’ wat later ‘vort sê ek’ en toe in voetsek in Afrikaans geword het.

Henk ·

Sies Maroela,waarom soooo verskoonend,amper gatkruiperig,oor die plasing van n puik mening en artikel? Nee man waar is jul “guts”?

Renati ·

So bekkomer ek myself daaglik oor my taal wat so na aan my hart lê, dan lees ek sulke berigte en voel sommer dadelik beter, Sommer meer doelgerig om saam te werk dat my taal nie sal sterf nie! Dankie Steve vir die aanmoediging!

Mien ·

Dankie Steve. Jy raak mense se harte en inspireer hulle om trots te wees op Afrikaans ! Wat van ‘n toer waar jy jou musiek kombineer met aanhalings uit ons mooiste gedigte en ander “skryfsels” ? Iets soos ‘n huldeblyk aan Afrikaans.

Gert ·

Steve, sommige mense word net gebore om ander te bekoor,…… hetsy met musiek, kuns, taal, wysheid , inspirasie. Jy is duidelik met ‘n oormaat van al hierdie en ander mooi kwaliteite geseën. Welgedaan !!!!. Wil jy nie ook met Julius Malema ‘n afspraak maak en hierdie gedeelte ook vir hom probeer verstaanbaar maak nie.

Lodewyk ·

Dis ons taal hierdie. Ons sal lewe ons sal sterwe vir hierdie taal. Probeer die volgende in enige ander taal sê sodat dit wat in Afrikaans gesê word so mooi stel. “Die bande van die motor het met die pad gepraat”. in Engels gestel “spin his wheels “. mooi so Steve.

zatopek ·

Net vanoggend luister ek na Steve se Grondgebed liedjie.

Nou laat ek sy toespraak lees, met ‘n knop in my keel en trane wat in my oe opwel besef ek, ek is nie net hartseer nie maar kwaad ook.

Rosie Marks ·

Dit was soooo lekker om weer ‘n draai te kon maak waar ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand en dit op Afrikaans uit die skatkis van baanbrekers vir Afrikaans. Dankie, Steve, dat jy dit lewendig hou.

Henry ·

Steve dis duidelik dat jy ook ‘n liefde en natuurlike aanleg vir die geskrewe woord het.
Ek dink dat Maroela gerus geleentheid kan bied om meer gereëld van jou skryfsels hier te kom plak. Jy het die vermoë om bekende strydpunte op unieke wyse aan te spreek.

Is altyd lekker om verder as skryfsels te beweeg wat bloot bevestig wat ons almal reeds weet en wat in dieselfde ou baadjie toe gewikkel word. Ou brood…

Talle van ons het vir oorgenoeg jare na die ‘wyshede’ van sg akademici en ander half-geleerdes geluister. Om altoos met dieselfde voorspelbare en dikwels vervelige ‘insigte’ gekonfronteer te word, is soms te dik vir ‘n daalder. Ons Afrikaners het laaaankal iemand nodig om vreder as die ou gevestigde en stikksienige ‘wyshere’ se ‘wyshede’ en gorrels te vorder.

Dit is nie nodig om ‘n Donald Trump triek te trek nie. Maar om van onopgesmukte waarhede te lees wat deur ‘n kunstenaar soos jyself aangebied word, kan interessante en nuwe gedagtes aan’t prikkel sit.

Anonoom ·

Dit is waar. Kunstenaars maak uitstekende leiers, vra maar vir Duitsland. Die vraag is, waarheen lei hulle?

Roelien ·

Steve dankie dat jy so passievol is oor ons taal, kultuur en ons mense. Wens daar was meer van jou!

Louise ·

Baie kosbaar oorgedra aan ELKEEN van ons wat LIEF is vir ons taal !!! Dankie Steve, jou Gawes is oneindig, en dankie dat jy dit aanwend om elkeen van ons te verryk ! Seënwense vir Afrikaans en vir jou pad vorentoe !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.