Su-an sorg vir ure se luistergenot

Su-an Müller-Marais met haar ATKV-mediaveertjie (Foto aan Maroela Media verskaf deur Afrikaans.com)

Su-an Müller-Marais is ʼn ambassadeur van Afrikaans.com. Hierdie onderhoud is een van ʼn reeks wat ons oor dié betrokke ambassadeurs vir Afrikaans publiseer om te wys watter verskil hulle vir Afrikaans maak. – Red

Deur Alita Steenkamp

Su-an Müller-Marais het die vermoë om enigeen met wie sy ’n onderhoud voer, onmiddellik op sy of haar gemak te laat voel, hetsy voor die televisiekameras of voor ’n radiomikrofoon. Nie alle radio-omroepers kry die geleentheid om ook televisieaanbieding te doen nie en nie alle televisieaanbieders slaag ewe goed daarin om met radiowerk, wat baie meer intiem is, sukses te behaal nie. Tog het Su-an lankal bewys dat sy een van die handjievol bedrewe uitsaaiers is wat nie omgee met watter medium sy werk nie.

Su-an het met die jaarlikse ATKV Mediaveertjie-toekennings wat op Vrydagaand 12 Mei by Gold Reef City se Lyric-teater plaasgevind het, vir die tweede jaar in ’n ry met die trofee as beste aanbieder by ’n gemeenskapsradiostasie weggeloop. Neem ’n mens in ag hoeveel gemeenskapsradiostasies daar in die land is met ’n verskeidenheid omroepers by elke stasie, is hierdie ’n merkwaardige prestasie.

Su-an vertel dat sy nie regtig gedink het aan ’n loopbaan as radio-omroeper nie. Sy het kommunikasiekunde studeer en haar honneursgraad in Afrikaans-en-Nederlands met Filmkunde behaal en het haar loopbaan afgeskop as ’n dramaonderwyser by die Hoërskool Menlopark. In dié tyd het haar ma, sonder Su-an se medewete, haar CV vir verskeie radiostasies gestuur. Sy was dus aangenaam verras om op ’n dag ’n oproep van Radio Tygerberg 104 FM te ontvang om haar te nooi vir ’n onderhoud vir ’n nuwe stasie wat hulle in Pretoria wou begin, naamlik GOOTfm 90.5.

“Ek dank nou nog my sterre dat hulle my gekies het bo ander mense met baie meer ervaring, want ek was totaal ’n groentjie as omroeper. Ek moes van voor af begin maar gelukkig is ek ’n vinnige leerder en het hulle my die ruimte gegee om te groei. Eers nadat ek voltyds begin uitsaai het, het ek besef hoe baie ek van radiowerk hou,” sê Su-an.

Su-an se werksdag begin in die oggende om sesuur wanneer sy as deeltydse aanbieder help met die aanbieding van die Groot Ontbyt, ’n ontbyt-televisieprogram wat weeksdae vanaf 06:00 tot 08: 00 op kykNET aangebied word. Hierna is daar gou tyd vir ’n vinnige koppie koffie en diep asemhaal voordat sy om nege, in dieselfde gebou, voor die radiomikrofoon inskuif vir haar program Su-an en so aan op GROOTfm 90.5. In hierdie program is daar benewens die nuus en die musiek wat sy speel ook onderhoude met bekendes. Twee maal per week maak sy plek vir haar “Kunstekalender” waarin sy fokus op die nuutste rolprente, kunsuitstallings of teaterproduksies wat in Afrikaans aangebied word.

Su-an Müller-Marais met haar ATKV-mediaveertjie (Foto aan Maroela Media verskaf deur Afrikaans.com)

Su-an, een van Afrikaans.com se ambassadeurs, se liefde vir Afrikaans het in haar ouerhuis gestalte gekry. Afrikaans is suiwer gehou en woorde soos bruistablet, gaskoeldrank, wielewaal en blatjang was van kleins af deel van haar woordeskat.

As Afrikaanse ambassadeur wat ’n radioprogram aanbied, is dit heerlik om goeie Afrikaans te praat, maar sy sien ook ruimte vir groei in ons taal en glo dat selfs slang soms aanvaarbaar is.

“As ’n wit Afrikaanssprekende is dit vir my belangrik om uit te beeld dat ek absoluut divers en oop is vir alle kulture en alle vorme van vernuwing en opgradering. Dit gaan tog oor eenheidsvorming binne diversiteit en Afrikaans kan die bindingsmiddel tussen baie kulture/dialekte wees. Ouer mense is soms beswaard oor jongmense wat Afrikaans deurspek met ander tale. Jongmense dink weer ouer mense is oudmodies deur aan te dring op suiwer Afrikaans. Om dinamies te kan groei saam met ons taal, moet alle generasies oopkop genoeg wees om sekere tradisies, vooropgestelde idees en stigmas te laat gaan, sonder om die nostalgie van die geskiedenis te verloor. As ek dus moet ruimte maak vir iets wat ek beskou as slang, ter behoud van Afrikaans, doen ek dit met graagte. Die mooi van ons taal lê juis in die diverse dialekte en agtergrond,” sê Su-an.

Su-an is tans te hoor as agent Sally in die vervolgverhaal Vuurvreters wat op verskeie gemeenskapsradiostasies uitgesaai word. Die opnames vir hierdie vervolgverhaal word gedoen by Maroela Media se radio-ateljee in Centurion en van hier word dit dan na gemeenskapsradiostasies landswyd versprei. Vir Su-an was dit ’n heerlike geleentheid om weer ’n bietjie te kon delf in haar toneelspeelvaardighede. Vuurvreters is geskryf deur Jo Kleynhans en Bettie Kemp behartig die regie. Van die anders spelers wat deel vorm van die rolbesetting is onder meer Lochner de Kock, Anton Dekker en Heidi Molentze.

Su-an is getroud met Günther Marais, ’n kwantitatiewe finansiële analis na wie sy verwys as haar stille, hoogs-intelligente steunpilaar. “As Günther kon, sou hy my met somme probeer verduidelik het dat alles oukei gaan wees wanneer ek soms oorwerk is. Hy kry dit egter baie goed reg om in my regterbreintaal, met ’n glas goeie rooiwyn, ook dieselfde te doen,” lag sy.

Batman die swart kat is ’n onnutsige tienerseun en hy maak die huisgesin voltallig en is beslis die punt van hulle harte, sê Su-an.

Sy geniet dit om kos te maak en om hierdie geregte met ander te deel, is deel van haar liefdestaal. Sy hou ook baie van reis en nuwe plekke, vreemde mense, uitdagende ompaaie en uitgebreide natuurskoon maak van elke nuwe bestemming ’n heerlikheid.

Su-an het voorwaar ’n groot uitdaging op hande want met twee Veertjies in haar hoed vir die radiowerk wat sy doen, sal sy geensins kan verslap nie. Sy lag en gee toe dat dit ekstra druk op ’n mens plaas. “Die Veertjie is ’n wonderlike pluimpie want dit gee ’n mens meer outoriteit in dit wat jy doen en dit is altyd lekker om goeie terugvoer te kry. Al gaan ek meer oop wees vir kritiek, gaan ek nie my aanslag verander nie. Ek gaan net aanhou om te doen wat ek doen sonder om die wiel te probeer herontwerp.”

Op die vraag wat haar opgewonde oor haar werk maak, antwoord sy: “Soms sal die luisteraars heerlik saamgesels en dan kom daar vanuit die bloute ’n wonderlike getuienis. Ander kere sal ’n luisteraar iets snaaks stuur wat almal se lewe sal opbeur. Op daardie oomblik voel ’n mens meer as net ’n konneksie oor die klankgolwe. Dit word ’n sielskonneksie tussen jou en die luisteraar en dit vloei net so dat jy die punt bereik waar jy voel: ‘Wow, hierdie mense het ’n inset in my lewe en ek moontlik in hulle lewens ook’. Dis oomblikke soos daardie wat van elke dag voor die mikrofoon iets besonders maak.”

Lees meer oor Su-an Müller-Marais as Afrikaans.com-ambassadeur.

Afrikaans.com poog om ʼn nuttige saamkomplek vir gebruikers van Afrikaans te skep en die voortou te neem in die skep van ʼn aanlynbeweging wat Afrikaans positief bemark en beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.