T.T. Cloete (31.5.1924 –29.7.2015): ’n Gelowige intellektueel en groot digter het ons ontval

TT-cloete

Foto: Brenda Veldtman vir NB Uitgewers

T.T. Cloete se werk as literator en digter ken ek intiem. Van aangesig tot aangesig het ek hom egter maar ’n handvol kere ontmoet.

Dit was elke keer ’n opwindende, openbarende ervaring.

Ek onthou hoe hy eendag onthuts opgemerk het dat hy die vorige week ’n Nederlandse vertaling van die Spaanse liberale filosoof en essayïs José Ortega y Gasset se “Bespiegelingen over leven en liefde” weer ’n slag by die universiteitsbiblioteek op Potchefstroom uitgeneem het. (Hy moes op daardie stadium self aan ’t skryf gewees het aan sy besinnend-outobiografiese vertelling “Die ander een is ek”, wat in 2013 verskyn het.) Wat moes hy ontdek? Die stempelkaartjie voorin daardie boek het gewys dit was nog net een keer tevore uitgeneem – doer in die 1950’s. Deur homself, toe hy ’n jong dosent aan die toenmalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys was.

Cloete was ’n leser (en onthouer van wat hy gelees het) soos min. Sy gestremdheid, ’n uiteindelike gevolg van die poliomiëlitus wat hy in die 1940’s opgedoen het as jong student aan die Universiteit van Pretoria, het hom in ’n belangrike mate ’n lessenaarmens gemaak. So geteister deur siektetoestande was hy dat dokters in die 1970’s al gevrees het vir sy lewe, en hy enkele jare later moes aftree.

Tog het dié intellektueel alles wat buite en bo, selfs binne ons is, ewe liefgehad as boeke. Boeke was vir hom die instrumente om dit alles beter te kan waarneem. Hy het tuingemaak, met voëls geboer, sterre gekyk, gestap toe hy nog kon, graag in die motor geklim (want hy kon tot naby aan die einde van sy lewe nog self bestuur) en die wildernis gaan besigtig. Hy het ’n ryklike lewe bly voer tot hy een-en-neëntig geword het.

Dis nie om dowe neute dat ’n bloemlesing uit sy eerste sewe bundels, wat in 2001 saamgestel is, die titel “Die baie ryk uregekry het nie.

Vroeër vanjaar was ek teenwoordig toe iemand hom vra hoe hy op hoë ouderdom dit regkry om steeds aan meer as een boek gelyk te werk (waarvan hy geesdriftig aan ’t vertelle was). Hy het gelag en gesê ons moet hóm nie vra nie. Hy weet nie hoekom iemand soos romanskrywer en dramaturg André P. Brink vroeg in Februarie vanjaar moes sterf terwyl hý nog kan voortlewe nie – Brink was in daardie jare toe hy wat Cloete is Ortega y Gasset die eerste keer gelees het, ’n honneursstudent van hom aan die PUK.

Hy is seker maar ’n witbroodjie van God, sê hy toe en trek sy skouers op. Lag weer. Die dag voor hy op 31 Mei 2014 negentig sou word, het hy sy motor gevat en Klerkskraaldam toe gery, ’n stuk of veertig kilometer noordwes van Potchefstroom geleë. Van daar het hy die pad al langs die Mooirivier af tot weer terug in Potchefstroom gevolg. En Psalm 100 gesing, al vier die strofes, het hy vertel.

Nie die woorde van sy eie 2001-beryming nie; die ou woorde van Totius se omdigting. Dié was mos ook ’n Potchefstromer toe hy aan die Psalms gewerk het, doer in die 1920’s. Die tyd toe Cloete die eerste keer die lewenslig aanskou het op sy ouers se plaas in die Vredefort-distrik.

Daardie woorde van Totius is vir hom soos relieke, het hy vervolg: konkrete oorblyfsels van die óú mense se vroomheid. In die ry het hy naderhand die ruite afgedraai. “Want goedertieren is die Heer, sy goedheid eindig nimmermeer.” Só het hy die wind in gesing. Hy wat sukkel om te verstaan waarom God juis hóm gekies het, hóm werkloos gemaak het om beskikbaar te word om oor God en Sy skepping digterlik te stamel in Afrikaans.

Hierdie “stamel”-tyd wat hom gegun is (hy het eers in 1980, op 56-jarige leeftyd, sy eerste digbundel gepubliseer), het een van Afrikaans se heel belangrikste religieuse digters opgelewer. Beskou ’n mens die eietydse literature in ander tale, byvoorbeeld die Nederlandse, dan lyk dit of religieuse digkuns tans ’n bietjie as ’n randverskynsel geag word. Nie in Afrikaans nie. Daarvoor het T.T. Cloete, saam met veral Sheila Cussons, gesorg.

Die fokuspunt in Cloete se digkuns is die dinamiese eenheid-in-verskeidenheid in die aardse en kosmiese verskynsels. Dít, veral, wou hy verken. Dié toespitsing het gespruit uit sy diepgesetelde Christelike oortuigings. Veral die skeppings-, onderhoudings- en bestierswerk van die goddelike Vader-figuur het hom aangegryp.

Dit was sy oortuiging dat ’n mens in die verweefde verskeidenheid van die skeppingsdinge as ’t ware die vingermerke van God kan waarneem. “Onversadig” en met “heilige nuuskierigheid” (soos twee van sy meer onlangse digbundels heet) het hy daarom as ’t ware deur die komplekse, dikwels teenstrydige werklikheid – ten spyte van die beperkthede van ons menslike vermoëns – op soek na die Godsopenbaringe gegaan. Dit digterlik vertolk. Die beheerste dinamiek wat sy digwerk kenmerk, die dinamiese spel tussen patroonvorming en variasie wat betref klankgebruik, woordgebruik en –skepping, vers- en sinsbou, is stilistiese en verstegniese illustrasies van dié soektog.

Ook die wyses waarop sy digbundels opgebou is, waarop gedigte in reekse en afdelings ingedeel is, al dan nie; ja, selfs hoe sy digbundels mekaar opgevolg het om saamhorende maar ook variërende reekse te vorm, is uiteindelik vergestaltings van die dinamiese eenheid-in-veelheid wat hy in die skepping waargeneem het. “Elke gedig van Cloete is deel van ’n geheel: van ’n aangroeiende oeuvre wat volgehou besig is met ’n indringende kyk na en ‘verbeel aan’ die geskakeerde skepping. In sy bundels ‘rinneweer’, ‘rekonstrueer’ en ‘genereer’ die digter se ‘gekweste oog’ die waargenome werklikheid,” het een kritikus (L. Venter, in 1991) geskryf, met aanhaling van woordeskat uit sommige van sy gedigte.

Nie net tot die skatkis van die Afrikaanse religieuse digkuns het Cloete enorm bygedra nie. Ekologiebewustheid en -kommer is ’n tema van toenemende belang in die Afrikaanse poësie, en ook hierin het Cloete ’n sleutelrol gespeel. Omdat die skeppingsdinge, dus ook die natuur, Godsopenbarende kenmerke besit, rus luidens talle gedigte van hom ’n morele plig op die mens, ook die (Christelik-gelowige) kunstenaar, om ’n medeskeppende en bewaringsrol in hierdie verband te speel.

Van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans het uit sy pen gevloei: oor sy wederhelf en kinders, oor familie en vriende. Sy erotiese verse, selfs oor prikkelpoppe soos Marilyn Monroe, spreek van verwondering en deernis, en sal nie vergeet kan word nie.

Gedigte oor bejaardword het in die afgelope twee dekades ’n nogals opvallende plek in die Afrikaanse poësielandskap begin inneem. Positiewe aspekte van veroudering staan dikwels in sulke bundels, soos in Cloete se belangrike bydraes hiertoe, voorop: verworwe wysheid en insig; die soberheid om verby verstrooiende uiterlikhede tot die essensie van sake deur te dring; berusting, verdraagsaamheid, humorvolheid en vergewensgesindheid; soms ’n uitgesproke of geïmpliseerde (hoopvolle) blik op ’n hiernamaalse bestaan. Daarby moet die verwoording van intense, deernisvolle meelewing met sterwendes in bundels van hom soos “Heilige nuuskierigheid” en “Onversadig” gereken word.

Cloete het as Christelik-gelowige digter nooit weggeskram daarvan om ook die skadukante van die lewe en die werklikheid in sy gedigte te vertolk nie – en toenemend so. Om dit in terme van sy jongste gepubliseerde bundel te stel: sowel die lyflik-uitspattige en verworde “karnaval”-kant as die geestelik-opbouende en –skeppende “Lent”-sy van ons bestaan kom onder sy digterlike loep.

Daarom dat in bundels van hom soos “Uit die hoek van my oog” en “Karnaval en Lent” ’n noemenswaardige bydrae tot die sogenaamde “nuwe verset”-stem in die Afrikaanse digkuns opklink. Dit betref byvoorbeeld die lot van die armes en versaaktes van die nuwe Suid-Afrikaanse bedeling, asook die ontmagtigde Afrikaners (wat soos “bywoners” word) en die benadeling van Afrikaans in sy hoër funksies.

1980, die jaar waarin Cloete met “Angelliera” gedebuteer het, word soms as ’n belangrike datum met betrekking tot die nuwe aansien van die vaster vers in Afrikaans gesien. Sy rol hierin kan nie onderskat word nie. Sy dinamies-variërende benutting van eindryme en reëlmatige strofeboupatrone as kenmerke wat dikwels met die vaster tipe vers verbind staan, het hom ’n leidende rol hierin laat speel. Dié rol is versterk deur die herhaaldelik bekroning van sy bundels: meer as ’n dosyn keer, waaronder twee maal met die prestigeryke Hertzogprys.

Ewe tekenend van sy digterlike aansien is die opmerklike invloed (“tegnies én metafisies”, volgens Joan Hambidge in 1993) wat van sy werk op dié van ander digters uitgegaan het. ’n Mens kan letterlik tientalle digters noem wat iewers in hul werk iets van Cloete se digterskap eggo, sy dit by wyse van toespeling of direkte erkenning. Vandaar dat Daniel Hugo, in ’n artikel uit 1996, kon meen dat Cloete die Afrikaanse poësie van die 1980’s oorheers het; en vandaar dat Joan Hambidge hom ongeveer dieselfde tyd tot “grootste lewende digter” in Afrikaans wou uitroep.

’n Reus het genieters en koesteraars van die Afrikaanse letterkunde ontval.

Lees alle stories oor TT Cloete hier

Bernard Odendaal

Meer oor die skrywer: Bernard Odendaal

Prof. Odendaal is 'n dosent en ook betrokke by die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Nóú pra' jy, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

neelsie ·

Wat n merkwaardige en gewaardeerde persoon.
n Intelektuele gelowige……,n nalatingskap wat elkeen van ons kan navolg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.