Taaldag: Hoeveel moeite gaan jy vir jou hartstaal doen?

Deur Riana Crafford

Riana Crafford

Een van die uitdagings verbonde aan ʼn minderheidstaal is die feit dat die sprekers daarvan deur die taal wat deur die meerderheid gepraat word oorweldig word. Hulle hoor met ander woorde hulle tweede taal meer as hulle moedertaal.

Dink ʼn bietjie hoe ʼn Suid-Afrikaner se dag tipies verloop: Vandat die wekker in die môre afgaan, is dit net Engels, Engels, Engels. Geen wonder mense sê hulle stel hulle “alarm” nie! (Dis nou na aanleiding van die Engelse toepassing op hulle slimfoon.)

As jy, soos ek, lief is vir klassieke musiek en op Classic FM inskakel, moet dit jou nie verbaas dat al die komponiste (waarvan die oorgrote meerderheid nié Engels is nie) se vanne en komposisies in Engels aan luisteraars voorgehou word nie. Is daar dan nie ʼn beduidende deel van hulle luisteraars wat Afrikaanssprekend is nie? Dit gaan nie juis beter met ons kinders nie, al luister hulle nie na klassieke musiek nie. Die “koel” kunstenaars is in soveel gevalle nie Afrikaans nie, dus luister hulle so baie na Engelse lirieke.

Om nie eers te praat oor die “gaming” wat hulle so graag aanlyn doen nie. (Hulle verseg om dit “speel” te noem; hulle sê dis ernstige sake.) Dis altyd in Engels. Niks van dié aard is in Afrikaans nie! Kan iemand nie net Minecraft in Afrikaans vertaal nie, asseblief?

By die werk kan jy net so hier en daar met jou Afrikaanse kollegas ʼn persoonlike gesprek in Afrikaans voer; die res van die tyd praat ons almal noodgedwonge Engels. Ironies, want nou probeer ons almal om onsself in ons tweede of derde taal verstaanbaar te maak. Die Suid-Afrikaners wie se moedertaal Engels is, blyk maar yl gesaai te wees. Dan kan ʼn mens maar net jou kop skud oor ons amptelike landstaal, naamlik “broken English”.

Wanneer ʼn mens se kind vorendag kom met “Mamma, ons lewer more ʼn praatjie oor …”, begin jy Googleloer dat die biesies bewe. Helaas kry jy niks in Afrikaans oor die onderwerp nie en slaan jy maar gevolglik na Engels toe oor. Dit nou terwyl die kind self besig is om op Facebook, Instagram en die res van die sosialemediaplatforms rond te swerf. Natuurlik ook met Engelse hashtags.

Dit bring my by die slotsom dat dit moeite is om mooi Afrikaans te praat. Dit kom lankal nie meer vanself nie; ʼn mens moet spesifiek hard daaraan werk. Dis net té maklik om sommer die Engelse woorde tussenin te gooi. “Is dit die moeite werd om sulke moeite te doen?” Maak dit saak of ons taalgebruik keurig en suiwer is, of is die mengelmoes van tale maar in die 21ste eeu van globalisasie aanvaarbaar?

Ons voorouers het so hard gewerk – nie net om die land te bewerk nie, maar ook om erkenning vir ʼn eie taal te kry. Is ons ook bereid om hard te werk om dit te behou?

Is dit vir jou ʼn prioriteit om suiwer Afrikaans te praat en moeite te doen om Afrikaanse woorde te vind vir begrippe wat jy normaalweg net in Engels ken? Hoeveel moeite gaan jy vir jou hartstaal doen?

In ʼn vorige artikel het ek (na my beskeie mening) baie sterk redes uitgespel hoekom dit die moeite werd is om telkens na die woordeboek te gryp wanneer jy oor die dinge van die 21ste eeu wil praat. In die lig van die volgende gegewens kan ons tog nie toelaat dat al die veld wat ons voorsate gewen het in die 21ste eeu verlore gaan nie:

  • Afrikaans is die derde grootste taal in Suid-Afrika, met sowat 6,8 miljoen sprekers, en
  • Afrikaans is een van slegs vyf tale in die wêreld wat in die 20ste eeu tot ʼn volwaardige akademiese en wetenskapstaal ontwikkel het.

As ons taal dan as ʼn nederige “kombuistaal” begin het, is dit mos nou óns verantwoordelikheid om te sorg dat dit nie spoedig weer daar eindig nie – net goed genoeg om in te skinder, maar nie om in te studeer nie! Ons wil steeds seker maak dat hoëvlakdenke akkuraat en treffend in ons mooi taal uitgedruk kan word. Solank as wat Suid-Afrikaners in Afrikaans bly navorsing doen, is daar nog hoop vir die toekoms van Afrikaans as ʼn universiteitstaal.

Nietemin, alles is beslis nie verlore nie. Dit blyk dat Afrikaans veerkragtig is. Ek is nou nie seker of dit as gevolg van, of dalk eerder ten spyte van, die feit is dat Afrikaans nog so ʼn jong taal is nie. Afrikaanssprekendes pas goed tydens die Vierde Nywerheidsrevolusie aan waar alles so snel verander.

Verandering is wel ʼn gegewe, maar niemand hou juis daarvan nie. Inteendeel, mense weerstaan verandering. Mense val maklik terug op “Dit is wat ek dit my hele lewe lank genoem het – ek gaan dit nie nóú iets anders begin noem nie.” (Dink maar aan dorps- en straatname. Lewenslange inwoners van dorpe verwys steeds na straatname wat nou nêrens meer te vinde is nie.)

Nogtans het die Afrikaanse taal verstommende veranderings en vernuwings in sy baie kort bestaan gesien. Hoe ons liewe moedertaal deesdae ingespan word, is soms verstommend. Afrikaans is ʼn integrale deel van ons kultuurskat en ook hier word daar met vernuwing gewoel.

Viva Afrikaans! Ons jong, veerkragtige taal. Ek het waardering vir ons kunstenaars wat nie op hulle laat wag om ons taal op ʼn nuwe manier te laat floreer nie.

Ek is besonder bly oor die vernuwing, want dit hou steeds ons tradisionele liedjies in die volksmond. Dankie aan al die eietydse Afrikaanse sangers wat met hierdie volksliedjies moeite doen deur om so ʼn bietjie nuwe ritmes en keurspeltegnieke te gebruik om ons kultuurskat weer gewild te maak. Jongmense sal “Afrikaners is plesierig” dalk nooit weer as ʼn volkspeledansie gebruik nie, maar hulle sing dit tog nog lekker saam met Karen Zoid – om maar een voorbeeld te noem.

Ook die kleuters sing lekker saam aan sowel nuwe as ou bekende liedjies; gunstelinge soos Hansie Slim, Jan Pierewiet, en Pollie ons gaan Pêrel toe. Dit is nou danksy Lollos. Nuwe liedjies bevat nogal kostelikhede. Luister gerus na Lollos se Seekoeiliedjie. Hoor hoe spitsvondig: “…Oppas vir die seekoei. Jy wil nie met hom stoei. Oppas, kom nie te naby, anders maak jy hom dalk see-kwaai … Seekoei, seekwaai, stoei en lag, seekoei, aai-ai-aai.” Wat ʼn raak beskrywing om die mees gevreesde dierasie in Afrika die “seekwaai” te noem!

Dankie aan almal wat met ons hartstaal moeite doen. Hou so aan. Ons sal darem graag wil hê dat ons geliefde Afrikaans grasieus moet oud word.

  • Riana Crafford is ʼn dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.