Taaldag: Ons eie Afrikaanse werklikheid

Deur prof. Danie Goosen

Prof. Danie Goosen

Verskeie van ons ken vroeë Afrikaanse gedigte soos Eugene Marais se Winternag (1905) of Jan F Celliers se Dis al (1908). Jonger lesers van die Afrikaanse digkuns ken waarskynlik ook verskeie gedigte wat die afgelope dekades gepubliseer is. Terloops, hoeveel Afrikaanse digbundels het nie in die jongste tyd die lig gesien nie! Vanaf Winternag (die eerste literêr-volwaardige Afrikaanse gedig) tot en met vandag presteer die Afrikaanse digkuns op ʼn bykans ongeëwenaarde wyse.

Wanneer ons vandag ʼn gedig soos Winternag lees, gryp dit ons steeds aan die hart. Ons voel soos van ouds diep geroer, ondanks die feit dat Winternag reeds meer as ’n eeu gelede gepubliseer is. Dit bly ʼn boeiende vraag waarom gedigte (of, om die net wyer te span, ook bekende Afrikaanse romans en dramas) ons steeds aangryp. Wat gebeur wanneer ʼn Afrikaanse gedig, roman of drama ons diep roer?

ʼn Vanselfsprekende (maar tegelyk onvolledige) antwoord hierop is dat literêre werke met ons emosies praat. ʼn Gedig spreek die emosionele kant van ons menswees aan, word daar gesê. Gedigte raak ons harte. As sodanig verskil ʼn gedig van ʼn wetenskaplike formule, omdat ʼn wetenskaplike formule eerder ʼn beroep op ons verstand doen. Wetenskaplike formules laat ons emosioneel koud, maar dit verryk ons verstandelik. Só word daar dikwels geredeneer.

Nou, hierin lê heelwat waarheid opgesluit. Elkeen van ons kan daarvan getuig. Nogtans moet dit gekwalifiseer word. Alvorens ons by ʼn belangrike kwessie kan stilstaan, moet eers genoem word dat die teenoorstelling tussen ʼn gedig en ʼn wetenskaplike formule – tussen hart en kop – sake vereenvoudig. Met hierdie onderskeid word die volle verhaal nog nie vertel nie. Gedigte hoef nie net ʼn saak van die hart te wees nie, maar kan ook ʼn aanspraak op ons verstand maak. Winternag daag ons verstandelik uit om onder meer oor die verskrikking van die dood na te dink.

Aan die ander kant het wetenskaplike formules nie net op ons verstand betrekking nie. Nuwe wetenskaplike formules kan selfs die mees rasionele en nugtere op ʼn emosionele wyse wegvoer. Enigeen wat die geskiedenis van wetenskaplike kennis volg, sal weet met watter emosionele opwinding die ontdekking van nuwe kennis dikwels gepaardgaan. Hart en verstand kan nie so maklik van mekaar geskei word nie.

Maar goed, dit daar gelaat. Ek wil eintlik ʼn ander antwoord op bogenoemde vraag (“waarom raak ʼn Afrikaanse gedig, roman of drama ons diep?”) gee. As ons dieper kyk, handel die antwoord nie in die eerste plek oor die kwessie van hart of verstand, emosies of rasionaliteit nie. As ons die vraag effens anders formuleer, kan dit duideliker blyk wat ek in gedagte het. Die vraag is: “Wat gebeur wanneer ons ʼn goeie Afrikaanse gedig, roman of drama lees?” Die antwoord hierop kan soos volg geformuleer word: Wanneer ons ʼn Afrikaanse gedig soos Winternag lees, word (om dit effens vreemd te formuleer) die “Afrikaanse werklikheid” self daarmee oopgemaak. Geleerdes verwys ook na dié gebeure as ʼn “onthulling”. In en deur Winternag word die Afrikaanse werklikheid self onthul.

In ander woorde geformuleer: Met ʼn gedig soos Winternag tree ʼn Afrikaanse werklikheid na vore – dit is ʼn werklikheid wat deur unieke kleure, lewenstyle, tradisies, denkpatrone en godsdienstige opvattinge gekenmerk word. Kortom, deur middel van so ʼn gedig word iets onthul van wie en wat ons is; van die aard en wese van ons eie wêreld. Die unieke aard hiervan kan nie genoeg beklemtoon word nie. Winternag kan uiteraard in enige ander taal vertaal word. Iets wesenliks gaan egter met elke vertaling verlore, naamlik die unieke aard en wese van ons eie Afrikaanse werklikheid. Geen vertaling kan dit so “onthul” as juis die Afrikaanse gedig self nie.

In Winternag word die koue landskap (“O koud is die windjie en skraal…”) gebruik om verskillende aspekte van ons psigiese en geestelike ervaring – sowel die donker as die hoopgewende kante daarvan – op ʼn unieke wyse aan die woord te stel. Hoe vertaal ʼn mens die laaste strofe: “In elk’ grashalm se vou blink ʼn druppel van dou, en vinnig verbleek dit tot ryp in die kou”? Ons weet bykans intuïtief dat dit ʼn dieper kant van ons ervaringswerklikheid ontsluit. Geen vertaling kan dit vasvang nie.

Wat gebeur as ʼn taal sterf? Teen die agtergrond van hierdie enkele notas oor die onthullende werking van gedigte kan ons só op hierdie ietwat weersinwekkende vraag antwoord: As dit so is dat die werklikheid by wyse van taaluitdrukkings soos gedigte oopgemaak word, is dit ook so dat die werklikheid met die dood van ʼn taal eweneens toegemaak word. Met die dood van ʼn taal sterf ʼn werklikheid.

Taaldood gaan met ander woorde nie net met die verlies van nog ʼn taal uit die groot skat van tale (tans nog meer as 6 000 tale wêreldwyd) gepaard nie. Taaldood gaan met werklikheidsverlies gepaard. Met die afsterwe van ʼn taal word die werklikheid self in sy volle kleur, glorie en volheid verminder. Laasgenoemde gebeur selfs hier in ons eie wêreld. Met die tragiese afsterwe van ʼn unieke Khoi-San-taal – soos die N/uu-taal – is dit nie net die aantal Khoi-San-tale wat verminder nie. Volgens mediaberigte word N/uu tans slegs nog deur enkele bejaardes gepraat. Met die komende dood van N/uu sal ʼn unieke werklikheid met sy sonderlinge klanke, kleure en lewenstyle tot ʼn einde kom. So word ons almal armer; ook diegene wat nog nooit van die N/uu-taal gehoor het nie. Voortaan sal ons wêreld deur ʼn mindere rykheid aan werklikheid gekenmerk word.

Hoe kan daar gesorg word dat Afrikaans nie net voortbestaan nie, maar dat dit steeds op ʼn unieke, skeppende en diepgaande wyse gestalte aan ons werklikheid gee? Hoe kan daar gesorg word dat ons werklikheid steeds deur ons moedertaal ontsluit word?

Hierdie vrae is ook vir Akademia van belang. Wat ons nog nie hierbo gesê het nie, is dat die ontsluiting van ons werklikheid nie net in die letterkunde gebeur nie. Ontsluiting gebeur ook in die akademiese taal. Om dit só te formuleer: In en deur Afrikaans as universitêre taal word ʼn besondere dieptedimensie van ons Afrikaanse werklikheid onthul. Indien Afrikaans as universitêre taal tot ʼn einde sou kom, sou ons werklikheid verskraal word. Ons werklikheid sou voortaan sonder hierdie besondere dieptedimensie (dinge soos die akademiese denke, rasionele gesprek, die goeie argument, navorsing en die soeke na die waarheid) gekenmerk word.

Positief geformuleer: In die mate waarin Akademia vandag die ruimte skep waarbinne Afrikaans as akademiese taal gekultiveer en uitgebou word, skep dit tegelykertyd die ruimte waarbinne genoemde dieptedimensies van die Afrikaanse werklikheid steeds ontsluit kan word.

Op hierdie manier sorg Akademia dat ons werklikheid nie vervlak en dit uiteindelik sy volle aantrekkingskrag (ook vir die denkende Afrikaanssprekende) verloor nie. Nee, dit sorg daarvoor dat ons werklikheid steeds verryk, gekleur en uitgebou word by wyse van, onder andere, akademiese denke, die goeie argument, navorsing en eeue-oue soeke na die waarheid.

Goed, dit bring ons ten slotte weer by bogenoemde vraag: “Hoe kan daar gesorg word dat ons werklikheid steeds deur ons moedertaal ontsluit word?”

Ons is almal bewus van die talle voorwaardes wat vir tale aanwesig moet wees om steeds lewende tale te kan bly. Ondanks die oorbekendheid daarvan, sluit ons af met die opmerking dat moedertaalonderrig gewis een van die heel belangrikste voorwaardes is. (Soos wat die afgelope jare gereeld deur geleerdes aangevoer word, word die belangrikheid van moedertaalonderrig vir “kognitiewe ontwikkeling” dubbel en dwars deur navorsing bevestig.)

Sonder moedertaalonderrig verskraal tale en word hul vermoë om die werklikheid te ontsluit, verminder. Met goeie moedertaalonderrig daarenteen gebeur die teenoorgestelde. Deur Afrikaanse onderrig op skool en universiteit te ondersteun, word Afrikaans in staat gestel om die volle diepte, kleur en rykheid van die Afrikaanse werklikheid te onthul. Op Afrikaanse Taaldag vier ons hierdie diepte, kleur en rykdom wat Afrikaans ons gee.

  • Danie Goosen is die akademiese hoof by Akademia.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Akademia het sowaar ‘n slag geslaan met prof Goosen. Bind hom styf vas.

Marthinus

Wat lekker is van Engels, is dat feitlik elke belangrike historiese dokument en letterkundige werk daarin vertaal is, tot groot plesier van Engelssprekendes. In Afrikaans het ons nie daardie voorreg nie. Ek probeer sulke materiaal in Afrikaans vertaal, maar uitgewers stel nie belang nie. Hulle soek net kookboeke, godsdiens, misdaadrillers, gedigte. Hulle verkies ook manuskripte van bekendes, omdat dit verkope sal waarborg. (Dit is die nadeel van `n klein taal.) Maar, in die 1920’s tot 1960’s het baie boeke en materiaal verskyn wat Afrikaans se horisonne verbreed het. Ek kry die indruk dat uitgewers vandag nie veel omgee vir Afrikaans… Lees meer »