Die bloedjies se bekers

Argieffoto (Foto: Med Ahabchane/Pixabay)

Dis jaarbladtyd, en ek verneem daar is vriendskappe wat in die proefleesproses sneuwel. Dit is gans onnodig; die jaar is nog uitmergelend lank, en die AWS is ook hiermee behulpsaam.

Hier is ʼn klompie antwoorde op vrae wat ek die afgelope twee weke gereeld gekry het, wat dalk die taak kan vergemaklik:

  • Dit is seunspan, met een s daar in die middel. Die reël wat jy hier toepas, is AWS 19.16 wat bepaal dat ʼn mens nie ʼn verbindings-s gebruik as die tweede deel van ʼn samestelling met ʼn s begin nie. Daarom skryf ons ook manskoene, meisieskool, damesandale.
  • Dit is meisies- en seunspan. Of seuns- en dogterspan. Kyk AWS 19.16 (b) wat bepaal dat die verbindings-s wel voor die weglaatteken gebruik word, al word dit nie in die samestelling gebruik nie (in navolging van die uitspraak).
  • Daar is ʼn verskil tussen meisies-en-seunskoor (een koor met meisies en seuns) en meisies- en seunskoor (twee kore, een met meisies en een met seuns) (AWS 12.37 (b)).
  • Dit is meer gebruiklik om van meisiespanne as dogterspanne te praat (dogter word eerder gebruik om na ʼn familieverwantskap te verwys), maar dogter is nie verkeerd nie. As daar ʼn trofee vir ʼn dogterpresteerder of ʼn dogterspan is, is dit nie nodig om dit ʼn meisiepresteerder of ʼn meisiespan te maak nie.
  • Die skryfwyse van die ouderdomskategorie word in AWS 7.2 se voorbeelde geïllustreer. Die onder word afgekort en daar is ʼn spasie daarna. Dan die ouderdom, dan die A of B: o. 17A. Die o. is altyd ʼn kleinletter, tensy dit aan die begin van ʼn sin staan. Die solidus (skuinsstreep) in die plek van die punt is nie korrek nie, want dit beteken ‘per’ of ‘of’.
  • Indien hierdie ouderdomskategorie in ʼn samestelling optree, is daar slegs ʼn koppelteken tussen die kategorie en die woord, nie tussen die afkorting en die ouderdom ook nie: 17A-span, o. 17-ligawenners.
  • Indien daar twee spanne genoem word en die weglaatteken ingespan word, werk dit soos by enige ander woord: meisies- en seunspan x 17A- en o. 18A-span.
  • Spelers speel in die eerste span. Dit is ʼn spelfout om dit vas te skryf. Dieselfde geld tweede span of derde span of veertiende span.
  • Omdat bogenoemde los is, is die weglaatteken hier foutief: eerste, tweede en derde span. Dit is ook foutief by eerste krieketspan of eerste onderwaterhokkiespan of eerste seunsonderwaterhokkiespan.
  • Indien hierdie eerste in ʼn samestellende samestelling voorkom, is dit vas:
  • Streekname is met hoofletters, ook waar dit in samestellings optree: Gautengliga, Suidkusafdeling.
  • Geografiese eiename waarin daar ʼn rigtingbepaler is, word met ʼn koppelteken geskryf (AWS 12.31): Bonteheuwel-Noord-streek, KwaZulu-Natal-Suid-ligawenners.
  • Die woorde senior en junior is byvoeglike naamwoorde en dus los: junior koor, senior redenaarspan.
  • Die junior en senior is vas as dit in samestellende samestellings optree: juniorkoorafrigter; seniorredenaarsligawenner.

Laat weet gerus as daar nog vrae is, ek help graag. Stuur ʼn whatsapp na 062 126 0295 of ʼn e-pos na [email protected].

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.