Die voegwoord en voegwoordelike bywoord: voëls van eenderse vere?

Argieffoto (Foto: Nicman/Pixabay)

Deur Nadine Fouché-Karsten

  1. Inleiding

In ʼn kort opsomming uit die boek Die gans die dacht dat hij een eend was (Mike van Herwijnen en Danielle van Wiel, 2018) word vertel dat die wind op ʼn stormagtige aand die eier van ʼn gans na die nes van ʼn eend gewaai het. Wanneer hierdie gans gebore word, kom die ouers geensins agter dat een van hul eie kuikens omgeruil is met ʼn gans nie, maar namate die klein gans ouer word, kom hy agter dat hy anders as die res is. Nou is die vraag: Is die kleine gans ʼn gans, hoewel hy soos ʼn eend voel?

Ek dink dit is presies wat met die “sogenaamde” drie groepe voegwoorde waarna op skoolvlak verwys word, gebeur het. Een stormagtige aand het ʼn wind per ongeluk ʼn groepie woorde soos dan, dus, daarom, nogtans en anders (kom ons noem hierdie groep “die ganse“), na die nessie van die voegwoorde (“die eende“) – byvoorbeeld maar, en en want wat voorbeelde van groep 1-voegwoorde is; en sodat, dat, omdat en indien wat voorbeelde van groep 3-voegwoorde is – gewaai. Gevolglik is dan, dus, daarom, nogtans, en anders verkeerdelik groep 2-voegwoorde (oftewel “eende”) begin noem. Dit is hoe daar tans van onderwysers verwag word om voegwoorde te onderrig, soos blyk uit die onderstaande uittreksel uit die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring van Afrikaans Huistaal vir graad 7 tot 9.

Figuur 1. Die drie groepe voegwoorde wat op skoolvlak onderskei word (Departement van Basiese Onderwys, 2011:52)

Wat tot verdere verwarring bydra, is dat hoewel woorde soos dan, dus, daarom, nogtans, en anders verkeerdelik onder voegwoorde ingedeel word, ʼn alternatiewe benaming wat die korrekte woordsoort daarvan is (naamlik voegwoordelike bywoorde) in hakies gegee word (vergelyk weer figuur 1). Hoe kan ʼn woord ʼn bywoord wees, maar hy word terselfdertyd gebruik as ʼn voorbeeld van ʼn voegwoord?

Die doel van hierdie blog is om bostaande verwarring rondom die klassifisering van woorde soos dan, dus, daarom, nogtans en anders uit te skakel deur aan te dui dat hulle nié as voorbeelde van voegwoorde dien nie. Geen Afrikaanse woord behoort soos die kleine gans oor sy identiteit te wonder nie.

  1. Ooreenkomste tussen die sogenaamde drie groepe voegwoorde

Die gans en die eend toon bepaalde ooreenkomste, byvoorbeeld die feit dat albei geveerde diere en swemvoëls is met taamlik eenderse snawels wat min of meer afgeplat is (vergelyk figuur 2 hier onder). Net so het woorde soos dan, dus, daarom, nogtans en anders en die groep 1- en groep 3-voegwoorde almal enkele eienskappe gemeen.

Figuur 2. Gans (links) en eend (regs) [Beskikbaar gemaak deur Forever Friday.]

Almal wat aan die sogenaamde drie groepe “voegwoorde” toegeken is, het die funksie om aan te dui hoe die dele van ʼn teks met mekaar verband hou. Vergelyk die volgende sinne:

  • Voorbeeld 1: Hy het nie sy werk gedoen nie, daarom is hy afgedank. [Die woord daarom dui aan dat die deel wat handel oor onafgehandelde werk die oorsaak is van die persoon se afdanking.]
  • Voorbeeld 2: Ek moet gaan, want hulle verwag my. [Die voegwoord want dui aan dat die tweede deel van die sin ʼn rede gee waarom die betrokke persoon moet vertrek.]
  • Voorbeeld 3: Harry slaap, sodat hy uitgerus is. [Die voegwoord sodat dui aan dat die tweede deel van die sin ʼn doel gee (die persoon wil uitrus) vir die eerste deel van die sin (die handeling van slaap).]

Daarby is die gebruik van die sogenaamde drie groepe voegwoorde opsioneel. Hoewel hulle vir die leser aandui hoe die skrywer wil hê die teks geïnterpreteer moet word en ʼn “vlot leespatroon” in die teks tot stand bring, kan dit net sowel weggelaat word. Bostaande sinne kan as twee simplekse (of enkelvoudige) sinne herskryf word.

  • Voorbeeld 4: Hy het nie sy werk gedoen nie. Hy is afgedank.
  • Voorbeeld 5: Ek moet gaan. Hulle verwag my.
  • Voorbeeld 6: Harry slaap. Hy is uitgerus.

Om terug te keer na die metafoor van die gans en die eend: Ten spyte van ooreenkomste rakende hul voorkoms, verskil die gans en die eend tog in die opsig dat die eersgenoemde byvoorbeeld meer regop as die eend loop om vinnig op land te kan beweeg en hardloop. Hoewel ooreenkomste tussen die sogenaamde drie groepe voegwoorde bestaan, kan verskeie verskille rakende die gebruik van die sogenaamde groep 2-“voegwoorde” en groep 1- en groep 3-voegwoorde opgemerk word.

  1. Die verskille tussen die sogenaamde drie groepe “voegwoorde”

Die sogenaamde groep 2-“voegwoorde” (soos in Hy het nie sy werk gedoen nie, daarom is hy afgedank) het bloot ʼn skakelingsfunksie. Die gebruik daarvan het ten doel om die aard van die verband tussen taaleenhede eksplisiet uit te druk. Dit bring met ander woorde die taaleenheid daarvóór in verband met die taaleenheid wat daarna volg.

Bykomend tot bostaande funksie het groep 1-voegwoorde (bv. maar, en en want) en groep 3-voegwoorde (bv. sodat, dat, omdat en indien) ook ʼn saamvoegfunksie, aangesien dit sinne verbind. Dit is die woorde wat van twee simplekse (of enkelvoudige) sinne ʼn komplekse sin (oftewel veelvoudige of saamgestelde sin) maak.

  • Neem die voorbeeldsin Ek moet gaan, want hulle verwag my as voorbeeld. Die groep 1-voegwoord (naamlik want) verbind die twee simplekse sinne (naamlik ek moet gaan en hulle verwag my) op dieselfde manier/vlak sonder dat enige woordordeveranderinge plaasvind. Groep 1-voegwoorde word daarom neweskikkende voegwoorde genoem, want hulle verbind gelykvlakkige sinne wat op hulle eie gebruik kan word.
  • In die voorbeeld Harry slaap, sodat hy uitgerus is verbind die groep 3-voegwoord (naamlik sodat) ongelykvlakkige sinne. Groep 3-voegwoorde word daarom onderskikkende voegwoorde genoem, want hulle verbind ’n sin wat op sy eie ʼn sin kan wees (bv. Harry slaap) met ʼn sin wat nie op sy eie ʼn sin kan wees nie (bv. hy uitgerus is).

Hierdie saamvoegfunksie verklaar ook waarom ons na want en sodat as voegwoorde verwys – die woorde voeg sinne aan mekaar. Sou die bostaande sinne geskei word, het die groep 1- en groep 3-voegwoorde nie in een van die sinne ’n plek nie – veral nie ná die eerste werkwoord nie. Dit bevestig ook hul saamvoegfunksie.

  • Voorbeeld 7:

Ek moet gaan, want hulle verwag my.
Ek moet gaan. Hulle verwag my.
Maar nie: *Ek moet gaan. Hulle verwag want my.

  • Voorbeeld 8:

Harry slaap, sodat hy uitgerus is.
Harry slaap. Hy is uitgerus.
Maar nie: *Harry slaap. Hy is sodat uitgerus.

in teenstelling met die sogenaamde groep 2-“voegwoord”

  • Voorbeeld 9:

Hy het nie sy werk gedoen nie, daarom is hy afgedank.
Hy het nie sy werk gedoen nie. Hy is daarom afgedank.

[In bostaande sin kan die taalgebruiker daarom natuurlik weglaat, siende dat dit ʼn opsionele deel van die sin is – soos in afdeling 1 aangetoon is.]

Die feit dat die sogenaamde groep 2-“voegwoorde” as deel van ʼn daaropvolgende sin gebruik word wanneer ʼn (komplekse) sin in (simplekse) sinne verdeel word, bevestig dat dit inderdaad nié ʼn saamvoegfunksie verrig nie en daarom nié as ʼn voegwoord gereken kan word nie.

Die sogenaamde groep 2-“voegwoorde” vorm met ander woorde altyd deel van die sinstruktuur, aangesien ʼn mens die woorde wat aan dié groep toegeken word, op verskillende plekke in die sin kan plaas en steeds ʼn konvensionele sin vorm. Groep 2-“voegwoorde” het dus posisionele beweeglikheid.

  • Almal het hom gewaarsku; nietemin, hy het alleen gaan stap.
  • Almal het hom gewaarsku, nieteminhet hy alleen gaan stap.
  • Almal het hom gewaarsku, hy het nietemin alleen gaan stap.

Groep 1- en groep 3-voegwoorde is egter nóóit deel van een van die sinne wat dit verbind nie. Dit word opgemerk wanneer die komplekse sin gevorm word en die voegwoord alleenlik tussen die twee sinne wat verbind is, kan staan.

  • [Ek moet gaan,] want [hulle verwag my].

Maar nie: *Ek moet gaan, hulle verwag want my.

  • [Harry slaap], sodat [hy uitgerus is].

Maar nie: *Harry slaap, hy is sodat uitgerus.

  1. Nie voëls van eenderse vere nie

Dat groep 1- en groep 3-voegwoorde wel voegwoorde is, is onteenseglik. Hulle het uitsluitlik ʼn verbindingsfunksie, hulle kan net tussen twee sinne staan, en wanneer ʼn komplekse sin in simplekse sinne verdeel word, het hulle nie in een van die twee sinne ʼn plek nie. Ons is van mening dat daar weggedoen moet word met die gebruik van groep 1- en groep 3-voegwoorde in die Afrikaansklaskamer en eerder na voegwoorde (neweskikkende voegwoorde en onderskikkende voegwoorde) verwys behoort te word.

ʼn Leesteken kan selfs in die plek van ’n neweskikkende voegwoord (soos en) gebruik word om ʼn saamvoegfunksie te verrig (Die toeskouers het laat gekom; hulle het nie plek gekry nie; vgl. AWS, reël 13.45). Dit is dan die leesteken wat verbindend gebruik word.

Die sogenaamde groep 2-“voegwoorde” is nie voegwoorde nie, maar wel voegwoordelike bywoorde – ʼn spesifieke tipe (of soort) bywoord. Ja, hulle skakel die inhoud van sinsdele net soos voegwoorde, en dit verklaar die gebruik van voegwoordelik in voegwoordelike bywoorde. Hulle verbind egter nie twee sinne nie. Dit is waarvoor ons voegwoorde gebruik. Veronderstel ek het ʼn sin met ʼn neweskikkende voegwoord, byvoorbeeld Dit het jou bevoordeel, en jy het daarvan gehou, sou die sin met ʼn voegwoordelike bywoord uitgebrei kon word, byvoorbeeld Dit het jou bevoordeel, en daarom het jy daarvan gehou. Dit is steeds die neweskikkende voegwoord wat die twee sinne (dit het jou bevoordeel en jy het daarvan gehou) saamvoeg en die verbinding bewerkstelling, terwyl die voegwoordelike bywoord (naamlik daarom) alleenlik die funksie het om die betekenis van dele van die betrokke sin met mekaar in verband te bring / te skakel.

Daarby vorm voegwoordelike bywoorde deel van die sin, aangesien hulle daarin op verskillende plekke kan gaan staan. Hierdie beweeglikheid dra daartoe by dat ons die bywoord in voegwoordelike bywoord gebruik. Vergelyk byvoorbeeld die gebruik van die bywoord soggens wat deur dieselfde posisionele beweeglikheid gekenmerk word.

  • My broer-hulle eet soggens pizza ná hulle partytjies.
  • My broer-hulle eet pizza soggens ná hulle partytjies.
  • My broer-hulle eet pizza ná hulle partytjies soggens.
  • Ná hulle partytjies soggens eet my broer-hulle pizza.

Net soos wat daar weggedoen moet word met groep 1- en groep 3-voegwoorde, behoort daar slegs na voegwoordelike bywoorde verwys te word. Die samevattende riglyne in dié afdeling kan as toetse gebruik word om te bepaal of ʼn woord ʼn voegwoord of voegwoordelike bywoord is. Vir bykomende inligting oor voegwoorde en voegwoordelike bywoorde, kan VivA se Afrikaanse Skoolgrammatika wat op VivA se webtuiste beskikbaar is, gerus geraadpleeg word. Klik op die onderstaande skakels om na die afdelings oor die voegwoord en voegwoordelike bywoord te navigeer. Lees die Oorsig-gedeelte, aangesien dit vir die skoolkonteks geskryf is.

Mag ’n gebraaide eend in die komende tyd in jou mond vlieg (m.a.w. mag jy voorspoedig wees).

VivA-groete
Nadine

Bronne geraadpleeg:
Fouché, N., Kapp, S., Luther, J. & Erasmus, C. 2021. “Woordsoorte: Bywoorde”. Taalonderrigportaal. Virtuele Institituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal?link=Afdeling-Woordsoorte%2FBywoord%2FAAG_Woordsoort_ADV_Inleiding.html]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

groenboer ·

Kon nooit kop of stert van hierdie goed uitmaak toe ek op skool was nie. Nou verstaan ek dit selfs nog minder. Gelukkig het niks daarvan eintlik enige effek op enigiets nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.