Druk in die drukte – hulp met homonieme

Argieffoto (Foto: geralt/Pixabay)

Ek werk aan ʼn lys homonieme. Dit moet as voorbeeldmateriaal dien vir die stukkie in Taalonderrigportaal (hou VivA se webblad dop, die eerste aflewering land in Januarie 2019) oor homonieme. Maar ek gaan mos nou nie die wiel van voor af uitdink nie, ander (baie meer ervare en geleerde) skrywers voor my het al sulke lyste gemaak. Ek begin sommer daar en pas net voorbeeldmateriaal aan.

Ek soek en raap en skraap, raadpleeg ou handboeke (ek het nog my ma se skooluitgawe van Barnes!), die Groen Bybel (Afrikaans, my taal, waarmee almal in die ou bedeling grootgeword het), en elke digitale lys wat Google vir my kan uitspoeg. Sit naderhand met ʼn stewige lysie. Begin voorbeeldsinne uitdink om die betekenisverskille te illustreer. En net daar val ek vas. Want sommige van dié betekenisverskille lyk vir my homonimies ver, maar sommige lyk vir my polisemies naby. Ek kan sweer dié voorbeelde is nie homonieme nie, maar dis dan as homonieme in gestandaardiseerde lyste opgeneem, nou wat nou?

Steek kers op by my kollega, prof Gerhard van Huyssteen. Sommer gou doen hy klinkklare antwoorde aan die hand. Ek probeer hier so bondig moontlik opsom wat hy gesê het.

Kom ons begin net eers by die definisies. Ek dink ons het almal lank genoeg onder Afrikaansonderwysers deurgeloop dat ons dit onthou:

Homonieme is verskillende woorde wat etimologies verskillende oorspronge het en (toevallig) in Afrikaans dieselfde klink en dieselfde gespel word. As jy ooit twyfel oor die term, onthou dat ons die woord uit Grieks kry waar homo ‘dieselfde’ en onoma ‘naam’ beteken het. Homonieme is dus letterlik dieselfde naam wat vir verskillende dinge gebruik word.

Daarteenoor is ʼn poliseem een woord wat verwante betekenisse het. So ʼn woord het ʼn bepaalde oorsprong, maar het met verloop van tyd betekenisuitbreiding ondergaan sodat dit in verskillende kontekste verskillend aangewend word. Die term kom ook uit Grieks, waar poli- ‘baie’ of ‘veel’ beteken het en sem verwys het na ‘teken’. Baie betekenisse, sien.

Let mooi op die onderskeid:

homonieme = verskillende woorde, verskillende oorspronge, lyk en klink dieselfde, verskillende betekenisse
polisemiese woord = dieselfde woord, dieselfde oorsprong, lyk en klink dieselfde, verwante betekenisse

Nou goed, in my lys homonieme teken ek onder andere die volgende op:

Waar ek toe vasval, is by die woord druk. Want omtrent in elke boek is druk as ʼn homoniem aangeteken, maar Gerhard slaan sommer dadelik ʼn spyker in druk se homonimiese doodskis: druk, seg hy, is een polisemiese woord, nie twee homonimiese woorde nie.

Ek gaan kyk, en ja, sowaar – al die betekenisse wat ek in my lys het (ʼn druk gee, druk besig, druk ʼn papier met ʼn duimspyker vas) het te doen met die oorspronklike betekenis van ‘ʼn krag op iets uitoefen’ (in Engels: ‘pressure’).

Nou hoe op aarde moet ʼn arme tweedetaalleerder in graad agt weet wanneer woorde homonieme is en wanneer ʼn woord polisemies is as die handboekskrywers so dwaal? Maklik, sê Gerhard: Jy slaan na. (Dis natuurlik die antwoord op enige navraag, maar goed, hierdie een is darem maklik op te spoor.)

Die woordeboekmakers het hier vir ons al die werk reeds gedoen, As ʼn mens in ʼn woordeboek soos die HAT of WAT naslaan, sal jy sien dat daar by die woord druk slegs een inskrywing is. Ja, daar is ʼn klomp betekenisse wat onder druk gegee word (die HAT dui byvoorbeeld aan dat dit ʼn s.nw., ʼn ww., ʼn b.nw. of ʼn bw. kan wees), maar dis betekenisse vir een woord. Polisemies, volgens die definisie hier bo.

So lyk die inskrywing vir druk in die HAT (ek knip en plak hier, iets wat ek normaalweg nie doen nie omdat ek glo woordeboekmakers se werk moet beskerm word, maar ek wil graag illustreer hoe die inskrywing lyk):

 

Daarteenoor lyk ʼn woordeboekinskrywing vir steel so in die HAT:

 

Die belangrike ding om hier van kennis te neem, is die nommers in boskrif (Engels: superscript) langs die twee inskrywings vir steel. Hierdie nommers dui vir ons aan dat ons nie met een woord met verskillende betekenisse te doen het nie, maar met twee verskillende homonieme. Let op dat dit nie by druk so aangedui word nie. Al die betekenisse vir druk word onder die een inskrywing (sonder die nommer) geplaas. Alles is betekenisse van een polisemiese woord.

Mag dit jou uit jou homonimiese hel en jou polisemiese druk haal. En jou herinner dat jy nooit taalkunde mag pleeg sonder ʼn woordeboek nie.

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmer Swanepoel ·

‘n Eg maak nie vore in die grond maar maak grond gelyk deur kluite te breek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.