Hoe heet u? En hoe skryf u dit?

Argieffoto (Foto: TeroVesalainen/Pixabay)

Sommige van ons dra nie net swaar aan ons genetiese belasting nie, ons het boonop nog ʼn klomp name van voorouers geërf wat ons met ons moet saamdra (met geen plaas om daarvoor te wys nie), net soos die arme jong seuntjie in Jan Pohl se lawwe liedjie “Die Mannetjie”. Ek het in my skooldae ook onder die bank ingeduik as my name van die klaslys afgelees is, maar ek het darem met die jare geleer om my klomp name met trots te aanvaar omdat dit my verbind aan mense vir wie ek lief was. Maar as dit by die skryfslag kom … Nie net pas dit nooit op ʼn vorm in nie, wanneer daar nog titels bykom, raak dinge behoorlik morsig.

Die skryfwyse van titels plus voorname plus vanne is een van die kwessies waaroor ek gereeld navrae kry (en dan opvolgvrae ook, omdat daar so baie voorwaardes en veranderlikes betrokke is). Dit is belangrik om daarvan kennis te neem omdat die reëls vir Afrikaans en Engels verskil. Die saak is natuurlik behoorlik bereël, maar die reëls en konvensies is so ʼn bietjie versprei in normeringsbronne, en daarom is dit dalk nuttig om alles hier bymekaar te hê.

Ek sorteer die bespreking onder ʼn paar beginsels. As ʼn mens hierdie beginsels leer, val die res nogal gemaklik uiteen.

  1. Voorname, byname, voorletters en vanne begin met hoofletters.

AWS 9.3 bepaal dat eienaamwoorde met hoofletters geskryf word. Dit beteken in ʼn rits name is dié dele van die naam wat pertinent eienaamwoorde is met ʼn hoofletter: Jana Luther, Marlie Coetzee.

Hierdie reël geld ook byname (Koekie Koekemoer, Rooigert Harmse, Vleis Visagie) voorletters (JM Coetzee, André P Brink), dubbelloopvoorname en -vanne (name en vanne met koppeltekens) (Anne-Marie Beukes, Jan-Hendrik Coetzee, Anna Neethling-Pohl) en voorname of vanne wat uit meer as een eienaamkomponent bestaan (Sophia Margaretha Jacoba Kapp, Peet Janse Groenewald).

AWS 9.3 (d) bepaal dat lidwoorde, voegwoorde of voorsetsels wat in ʼn eienaamwoord voorkom met ʼn kleinletter geskryf word. As jou voornaam of van ʼn woord in het soos van, der, de, du, le of la is daardie woorde met ʼn kleinletter as dit in die middel van die lang eienaam voorkom: Jan van Tonder, Gert van der Westhuizen, E du Preez, Grootvoet la Grange, NP van Wyk Louw, Rooigert Janse van Vuuren, Christo van Rheede van Oudtshoorn.

As dié lidwoord, voegwoord of voorsetsel egter aan die begin van die eienaam voorkom, kry dit ʼn hoofletter om vir die leser aan te dui dat dit deel is van die eienaam en nie die gewone sin nie. As jou voornaam of van met ander woorde ʼn lidwoord, voegwoord of voorsetsel in het en daar is geen ander element van die eienaam (soos voorletters of ʼn voornaam) voor dié woorde nie, skryf jy dit met ʼn hoofletter: Van Tonder, Van der Westhuizen, Du Preez, La Grange, Van Wyk Louw, Van Rheede van Oudtshoorn.

In ʼn tabel lyk die voorbeelde so:

As ʼn mens telkens die inligting in die eerste kolom wegneem, kry die eerste woord van die eienaamgedeelte wat daarop volg die hoofletter:

  1. Titels begin met kleinletters, tensy dit aan die begin van die sin staan of ʼn aanspreekvorm is.

Die skryfreëls wat hier bo gegee is, word toegepas al staan daar twintig titels voor die naam en al is die persoon hoe belangrik. Die reël geld of die titel nou uitgeskryf word en of die afkorting daarvoor gebruik word. Ons skryf met ander woorde:

Vra vir meneer Johann.
Vra vir meneer Johann Strydom.
Ontmoet me Carla-Anne Oliphant.
Ons stel vanaand vir ds Du Plessis de Lange voor.
Dit was gedurende sy jare as dosent by Wits dat prof Van Wyk Louw sy meesterstuk geskryf het.

In ʼn tabel lyk dit so:

As dieselfde titel aan die begin van ʼn sin staan, word dit natuurlik wel met ʼn hoofletter geskryf:

Me Carla-Anne Oliphant is die wenner.
Dominee KM du Plessis de Lange word vanaand voorgestel.
Generaal Solomon “Solly” Radebe sal die programrede lewer.

Waar ‘n titel op sy eie ʼn aanspreekvorm is, kan dit ingevolge AWS 9.5 met ʼn hoofletter of ʼn kleinletter geskryf word:

Onthou nou, dominee/Dominee, die erediens begin om negeuur.
My genugtig, generaal/Generaal, die troepe is al weer laat.

  1. Punte by die afkortings van enkelvoudige titels en by voorletters is opsioneel.

Ingevolge AWS 3.13 mag jy die afkortings van niesaamgestelde titels en voorletters met of sonder punte skryf. Die konvensie in die media is om dit deurlopend daarsonder te skryf (dis altyd ʼn kwessie van ruimte). Jy mag dit skryf soos wat dit vir jou gemaklik is, maar hou dinge eenvormig. As jy die titels sonder punte skryf, skryf ook die voorletters daarsonder. En as jy weggetrek het sonder punte, hou dit deur jou teks eenvormig.

Die volgende is met ander woorde alles korrek:

Verwys die navraag na genl. Radebe. X Verwys die navraag na genl Radebe.
Die boekprys gaan aan me. L.M. Marx X Die boekprys gaan aan me LM Marx.

Saamgestelde titels moet met die punte geskryf word:

Verwys die navraag na genl.maj. Sithole.

Een voetnoot hieroor: In die reëlgedeelte van die AWS word daar aangedui dat afkortings van titels met of sonder punte geskryf word, maar in die afkortingslys (gratis toeganklik via VivA se webblad of slimfoontoepassing) word slegs die vorm met die punt gegee. As jy met ander woorde met die soekfunksie na afkortings soek, gaan jy nie ʼn antwoord kry as jy die vorm sonder die punt intik nie. Die program is so opgestel dat dit net die afkorting opspoor indien jy dit 100% korrek intik. Dit is baie makliker om, as jy na afkortings soek, die volvorm in te tik en dan in die afkortingslys te gaan kyk hoe die afkorting lyk. Onthou dan net van die wisselvorm.

  1. Titels word net voor eienaamwoorde afgekort.

As jy ʼn titel (sonder die eienaamgedeelte) gebruik om na ʼn persoon te verwys, word dié titel nooit afgekort nie. Dit word bepaal in riglyn 2 by hoofstuk 3 in die AWS, die hoofstuk wat oor afkortings handel. Jy kan byvoorbeeld skryf:

Stuur die brief aan mnr. Johann.
Stuur die brief aan mnr. Johann de Lange.
Stuur die brief aan mnr. J. de Lange.
Stuur die brief aan mnr. De Lange.

Maar jy kan nie so skryf nie:
*Stuur die brief aan mnr.

Dit is dus jou keuse of jy die volvorm of die afkorting saam met die eienaam wil gebruik, die AWS skryf dit nie voor nie. Maar laat jou lei deur die soort teks wat jy skryf. As jy byvoorbeeld ʼn amptelike dokument skryf of ʼn lys maak, is die afkortings eintlik standaard. As jy literêre tekste skryf, word sulke titels nooit afgekort nie.

Met dié kennis tot jou beskikking kan jy dus nou die arme kind in Jan Pohl se gediggie “Die Mannetjie” behoorlik benoem: Hy is jongeheer Jan Donderdag van Gorrelberg van Staden Kasparus Bart Keet. Hopelik besorg dit hom, indien dan nou nie ʼn familieplaas nie, ‘n ou foto in ʼn mooi raam en die wete dat hy hoort.

VivA-groete
Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen` ·

Goeie artikel. Help my asseblief met die volgende: As ‘n mens nie on-net is nie, is jy netjies. As jy nie onverdraagsaam is nie, is jy verdraagsaam. As jy nie ongeduldig is nie, is jy geduldig. En as mens nie onnosel is nie? Is jy nosel? Ek het dit nou al verskeie kere so gebruik………maar kry nêrens ‘n woord soos “Nosel” nie? Bestaan dit nie?

Netta ·

Goeie vraag! Nou het jy my ook aan’t wonder. Hierdie was een van die beter taalkundige artikels.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.