Hoe klink jóú Afrikaans?

Argieffoto (Foto: Kidaha, Pixabay)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), in samewerking met Afrikaans.com, wil graag Afrikaans se ryke verskeidenheid en kleurvolheid aan die wêreld laat hoor.

Jy kan nou ʼn kort storie van 120 woorde voorlees en die opname dan aanlyn op ʼn wêreldkaart aandui, sodat mense kan hoor hoe Afrikaans in verskillende dele van die land en wêreld klink.

Die data sal ook gratis aan navorsers beskikbaar gemaak word om navorsing te doen oor Afrikaanse uitspraak.

Die storie wat voorgelees word, is Die noordewind en die son, ʼn bekende fabel van die Griekse wysgeer Esopus. “Die les van die storie is dat ʼn mens meer kan bereik sonder geweld. Die noordewind en die son word wêreldwyd as ʼn standaard teks gebruik vir vergelykende studies oor tale,” verduidelik VivA waarom dié verhaal gekies is. “Dié storie is ook al voorheen gebruik vir navorsing oor Afrikaanse uitspraak. Die teks is so vertaal en saamgestel om alle Afrikaanse klanke te bevat.”

Die noordewind en die son (‘n fabel deur Esopus)

Op ʼn keer het Noordewind en Son stry gekry oor wie van hulle nou eintlik die sterkste was.

Net toe kom daar ʼn reisiger verby, toegehul in ʼn lekker warm jas. Hulle besluit toe dat dié een wat dit kan regkry om die reisiger te dwing om sy jas uit te trek, die sterkste is.

Toe blaas Noordewind ure lank vir al wat hy werd is. Maar hoe harder hy blaas, hoe stywer knoop die reisiger die baadjie om hom vas. Uiteindelik laat Noordewind al sy pogings vaar.

Toe dit Son se beurt is, skyn hy gloeiend, en dadelik trek die reisiger sy jas uit.

En so moes Noordewind erken dat Son wel die sterkste van hulle twee was.

Hoe laai jy jou voorlesing op?

  • Besoek die Spraakatlas op VivA se webwerf.
  • Navigeer na jou blyplek op die kaart.
  • Jou merker word outomaties effens (met ʼn paar kilometer) verskuif sodat jou presiese woonplek nie aangedui word nie.
  • Klik op die ikon van die swart mikrofoon.
  • Vul die kort vraelys in (jou naam en van word nie bekendgemaak nie, dit word slegs in die vraelys gebruik om tussen verskillende klanklêers te kan onderskei) en gee toestemming dat VivA jou klankopname mag vrystel vir ander mense om na te luister, asook vir navorsingsdoeleindes.
  • Lees die storie Die noordewind en die son voor terwyl dit opgeneem word.
  • Laai jou opname op deur op die “stuur”-knoppie te klik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.