Husse met lang ore

(Foto: Christin Hume/Unsplash.)

Kry in die week ʼn versoek van ʼn gebruiker: Verduidelik bietjie vir ons waar die uitdrukking husse met lang ore vandaan kom. Wat is ʼn hus?

Die kort weergawe van die antwoord is: Daar is nie so iets nie. Daar is ʼn woord soos husse, ja, maar ons gebruik dit nie in enige ander konteks as in ʼn uitdrukking wanneer ons ʼn nuuskierige agie op sy/haar plek wil sit nie. Taalkundig beteken dit dat daar nie ʼn referent vir die woord is nie (die woord is nie ʼn ding in die werklikheid se naam nie), wat natuurlik goed inpas by die rede waarom ʼn mens in die eerste plek so ʼn uitdrukking gebruik: Dit is ʼn respons op ʼn lastige vraag of ʼn geneul, nie ʼn poging om nuttige inligting aan die vraer of neuler te verskaf nie.

Die langer antwoord is: Ons kry die woord husse uit Nederlands. In ʼn artikel wat in 1996 in Onze Taal gepubliseer is, skryf ene Wander dat die Nederlandse uitdrukking “husse met je neus ertusse” (husse met jou neus daartussen) dekades lank deur ma’s gebruik is om kinders weg te jaag wat wou weet wat in die kospotte aangaan. Ook in daardie konteks is husse ʼn onsinwoord sonder ʼn identifiseerbare referent.

Wander skryf wel verder dat hy in ʼn 1961-uitgawe van Van Dale (ʼn Nederlandse verklarende woordeboek) afgekom het op ʼn inskrywing vir die woord hus waarin daar aangedui word dat die woord, benewens die vaste uitdrukkings waarin dit voorkom, ook kan beteken ‘troep’ of ‘boel’. In ʼn later uitgawe van dieselfde bron word daar aangedui dat hus afgelei is van die werkwoord hussen/hutselen, wat beteken ‘deurmekaarskud’. Ons kry nog oorblyfsels van daardie hutselen in die Afrikaanse woord hutspot, wat (letterlik) verwys na ʼn gereg wat van klein stukkies oorskietkos gemaak is, of (figuurlik) verwys na ʼn deurmekaarspul, gewoonlik ʼn plek of ʼn situasie waarin mense van verskillende herkomste of geaardhede saamgegooi is (sien die inskrywing vir die woord in die WAT).

Boshof en Nienaber skryf egter in ʼn 1967-uitgawe van Afrikaanse etimologieë, ʼn publikasie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, dat die skakel tussen husse en daardie Nederlandse hutselen nie “bevredig” nie. Hulle meen dat dit eerder verband hou met die Nederlandse tussenwerpsel hus, ʼn geluid wat ʼn mens maak om ʼn lastige dier weg te jaag of aan te hits.

ʼn Ander moontlikheid is dat dit verband hou met die Middelnederlandse woord Hussen, wat ʼn variante vorm van Hussiten was en waarmee daar by uitbreiding ook na sigeuners verwys het.

In dr Anton Prinsloo se kosbare Annerlike Afrikaans word daar niks gesê oor die oorsprong van die woord nie, maar hy het wel die volgende variasies van die uitdrukking opgeteken:

1.husse met ore wat kinders nie hoef te hore (Graaff-Reinet); dis husse, krulle, marisse, wat steek jy jou neus daartusse (Tulbagh); dis husse en (of steek) jou neus daartusse (Bethal, Pretoria, Steytlerville); husse met pastei wat jou neus moet uitbly (Boegoeberg); husse en dooi perde (Victoria-Wes); husse petisse wat kinders nie hoef te luste (Graaff-Reinet); husse met skaappootjies gestowe (Stellenbosch); husse en droë vye (Riversdal): antwoord op ‘n nuuskierige vraag, veral van ‘n kind, om te kenne te gee: “jy hoef dit nie te weet nie”, “moenie nuuskierig wees nie, dit gaan jou nie aan nie”.
2.husse en tusse: alles en algar deurmekaar (Carnarvon)

Uit die Nederlandse bronne waarin ek iets oor husse kon opspoor, is dit duidelik dat die uitdrukking hoofsaaklik gebruik is om op vrae oor kos te reageer. Ek ken husse met lang ore goed uit my eie kinderdae, maar dit is net gebruik as antwoord op die vraag “Wat is dit?” as my ma nie lus was om vir my te sê nie, soos wat dit ook in die WAT gedefinieer word. Die antwoord in ons huis op “Wat eet ons vandag/vanaand?” was baie eerder pap en tik, maar dit was darem in die jare voor tik ʼn ding geword het.

Ná al die gesoek en gelees oor husse kon ek dus nie met meer inligting vorendag kom as dat dit werklik ʼn onsinwoord sonder ʼn referent is nie, dat dit in Nederlands hoofsaaklik gebruik is om kinders by kospotte weg te jaag, en dat dit in Afrikaans moontlik effe verskuif het om ʼn kind by enige ander ding weg te jaag. Wat ek wel met groot sekerheid kan sê, is dat neulende kinders en geïrriteerde ma’s niks verander het nie, en dat dié onsinwoord waarskynlik sy plek in Afrikaans vir ewig sal behou.

VivA-groete

Sophia

Bronnelys:

  • Boshoff, S.P.E. en Nienaber, G.S.1967. Afrikaanse etimologieë. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns: Pretoria.
  • Middelnederlandsch Woordenboek. [https://gtb.ivdnt.org/iWDB/search?actie=results&wdb=wnt%2Cvmnw%2Conw%2Cmnw&uitvoer=HTML&lemmodern=%22hus%22]
  • Prinsloo, A. 2008. Annerlike Afrikaans. Protea Boekhuis: Pretoria
  • Wander, B. 1996. “Hussen met …”, Onze Taal, Jaargang 65. [https://www.dbnl.org/tekst/_taa014199601_01/_taa014199601_01_0167.php]
Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Taalgebruik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leonne

So SA is n HUTSPOT van mense met verskillende geaardhede, waavan meeste GEEN ore het nie!

Androclus

Ek was onder die indruk dis hase,want hase het lang ore ahahahhha