Is dit ge- of is dit ge- ge-? Die lang pad vir verlede deelwoorde

Argieffoto

Ek kry vroegoggend ‘n navraag van ‘n VivA-gebruiker wat in ‘n taalargument met kollegas vasgeval het: Skryf ‘n mens Die ondersteuners het op die spelers geskree en gevloek of is dit Die ondersteuners het op die spelers geskree en vloek? Die rede vir die verwarring en die vraag is dat daar blykbaar ‘n reël in skoolgange ronddool wat lui dat “twee aksies wat op dieselfde tydstip plaasvind nie in die verlede tyd albei ge- kry nie”.

Ek het simpatie met die vraagsteller en die verwardes, want dit is weer een van daardie skoolreëls wat gemaak is om kinders te help, maar eintlik almal van die wal in die sloot help. Onthou maar altyd: As die kortpad ‘n kortpad was, sou die lang pad daarlangs geloop het. Dit geld ook vir taalreëls.

Die lang pad loop eintlik so:

  • In ‘n sin met twee hoofwerkwoorde kry albei hoofwerkwoorde in die verlede tyd ge-. In ‘n sin met ‘n skakelwerkwoord en ‘n hoofwerkwoord kry net die skakelwerkwoord ge-.

Die “twee aksies wat op dieselfde tydstip gebeur” is deur welmenende onderwysers geskep om kinders te probeer help om tussen hierdie twee konstruksies te onderskei, maar dit is verwarrend, soos duidelik uit die navraag blyk.
Twee hoofwerkwoorde herken ‘n mens daaraan dat elk ‘n aparte handeling uitdruk. As die een weggelaat word, is die ander werkwoord steeds ‘n uitdrukking van ‘n onafhanklike handeling wat plaasvind. Hierdie handelinge kan op dieselfde tydstip plaasvind; die tydsverloop het niks met die saak te make nie:

Die ondersteuners skree en vloek op die spelers. x Die ondersteuners skree op die spelers. x Die ondersteuners vloek op die spelers.
Die kinders lag en praat in die klas. x Die kinders lag in die klas. x Die kinders praat in die klas.

As hierdie sinne in die verlede tyd geskryf word, word albei hoofwerkwoorde verlede deelwoorde:
Die ondersteuners het op die spelers geskree en gevloek. x Die ondersteuners het op die spelers geskree. x Die ondersteuners het op die spelers gevloek.
Die kinders het in die klas gelag en gepraat. x Die kinders het in die klas gelag. x Die kinders het in die klas gepraat.

Daarteenoor is ‘n skakelwerkwoordkonstruksie ‘n kombinasie van ‘n medewerkwoord en ‘n hoofwerkwoord waar die hoofwerkwoord die primêre handeling uitdruk. Let wel: Die skakelwerkwoord is nie semanties leeg (betekenisloos) nie, maar dit druk nie die handeling uit waaroor die sin gaan nie. In die volgende sinne is daar telkens ‘n skakelwerkwoord en ‘n hoofwerkwoord:

Die ondersteuners staan en vloek op die spelers.
Die kinders sit en praat in die klas.

As ‘n mens die hoofwerkwoord hier weglaat, is dit ander sinne:
Die ondersteuners staan op die spelers.
Die kinders sit in die klas.

Wat eintlik gebeur is:
Die ondersteuners vloek op die spelers
Die kinders praat in die klas.

Dis by hierdie skakelwerkwoordkonstruksies waar ‘n mens versigtig moet wees, want slegs die skakelwerkwoord kry ge-:
Die ondersteuners het op die spelers gestaan en vloek.
Die kinders het in die klas gesit en praat.

Wat meer is, die AWS maak voorsiening daarvoor dat die ge- by hierdie bepaalde skakelwerkwoordkonstruksies opsioneel is:
Die ondersteuners het op die spelers staan en vloek.
Die kinders het in die klas sit en praat.

Die ge- is selfs by die skakelwerkwoord laat baie duidelik streektaal. (Let wel, nie verkeerd nie, net nie geskik vir formele skryftaal nie.)
Die skoolhoof laat roep die kinders.
Die skoolhoof het die kinders laat roep.
Die skoolhoof het die kinders gelaat roep.

Mag jy hierna jou ge-‘s van jou ge- ge-‘s onderskei.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Taalgebruik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

At Dippenaar ·

Ons taal bly maar pragtig en interressant. Maak nie sal hoe jy hom praat nie!

IK ·

Waarom ‘ek het geprobeer’ teenoor ‘ek het probeer’ wat meer sin maak. Daar is nog sulkes.

Jacques ·

Want probeer is gewoonlik ‘n skakelwerkwoord. Jy kan nie net probeer nie jy moet iéts probeer. Probeer speel, probeer werk, probeer eet. Dan is die speel, werk, of eet die hoofwerkwoord. En die skakelwerkwoord hoef nie ‘n ge- te kry nie

Pieterd ·

Jacques, ek is seker jy is reg, maar jou antwoord los nie die verwarring op nie. In bygaande artikel word gestel dat “ge” opsioneel is by skakelwerkwoorde. IK se vraag gaan skynbaar juis daaroor of dit in sy/haar voorbeeld ook die geval is (probeer en geprobeer?)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.