Merriam-Webster se Woord van die jaar aangekondig

Foto: Pixabay

Die Merriam-Webster-woordeboek het pas sy Woord van die jaar aangekondig.

Peter Sokolowski, leksikograaf en uitvoerende hoof van die maatskappy, het aangekondig dat “feminism” (feminisme) die woord van die jaar vir 2017 is.

Volgens Sokolowski is dié woord gekies omdat die totale soektogte na die woord op Merriam-Webster se webwerf vanjaar met meer as 70% vanaf die vorige jaar toegeneem het. Hy sê veldtogte soos #MeToo, die beweging wat bewusmaking wil skep oor seksuele teistering en aanranding, Time Magazine se ‘persoon van die jaar’ en uitsprake soos dié van Kellyanne Conway, ʼn Trump-raadgewer, wat gesê het sy “distansieer” haarself van die term, het ook daartoe bygedra.

Sokolowski sê flieks het ook ʼn rol in hul keuse vir Woord van die jaar gespeel. Hy sê flieks soos Wonder Woman, die eerste superheld-fliek met ʼn reusebegroting waar ʼn vrou die regisseur was, en The Handmaid’s Tale, wat die verhaal vertel van vroue wat van hul regte ontneem word en as seks-slawe gebruik word, was veral groot rolspelers.

Volgens die oorspronklike Noah Webster-definisie (1841) van “feminisme” het die woord bloot verwys na “vroulike kwaliteite”. Dié woord se betekenis het intussen verander na “die teorie van politieke, ekonomiese en sosiale gelykheid tussen die geslagte” of “iemand wat hom/haar daarvoor beywer dat vroue op alle gebiede dieselfde regte en geleenthede as mans moet hê” (HAT).

Merriam-Webster se woord van die jaar in 2016 was “surreal” (surrealisties).

Dié woorde het die top-10 in 2017 gehaal:

  1. “feminism” – feminisme
  2. “complicit” – aandadig
  3. “recuse” – om te onttrek
  4. “empathy” – empatie
  5. “dotard” – met verwysing na ʼn seniele of bejaarde persoon
  6. “syzygy” – ʼn Byna reguitlyn van drie hemelliggame (soos die son, maan en aarde tydens ʼn son- of maansverduistering) in ʼn gravitasiestelsel.
  7. “gyro” – ʼn Griekse dis
  8. “federalism” – federalisme
  9. “hurricane” – orkaan
  10. “gaffe” – flater

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

My woord is ‘domenerend/dommenerend’ wat wel verband het met ‘dominerend’. Domineer is om baasspelerig- of oorheersend op te tree. Dit is presies wat hierdie sterttrappers op die pad met jou doen deur nie ‘n volgafstand te handhaaf en eintlik beduie jy moet padgee of hoort nie op die pad selfs al doen jy 120km/h. Dis egter ‘n dom/onnosel manier van handeling en dis waar die nuwe woord ‘dommenerend/domenerend’ sy oorsprong het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.