ʼn Geseënde ? en voorspoedige ?

(Foto: Pixabay)

Hier op die stertkant van die jaar kry ek heelwat navrae oor die skryfwyse van Kersdag, Kersfees, Nuwejaarsdag en Nuwejaar en al die samestellings en afleidings wat ʼn mens met dié woorde kan maak. Dit is byvoorbeeld vir die meeste mense onproblematies om Kersfees met ʼn hoofletter te skryf, maar wat van Kersboom/kersboom en in die Nuwejaar / in die nuwe jaar?

Die eerste beginsel wat ʼn mens moet onthou, is dat die hoofletter gebruik word om eiename te merk. In samestellings met Kers- is daardie deel van die woord ʼn vervorming van Krist, wat ʼn vorm van Christus is. Die Kerstmis (Nederlands) is die mis wat op Kersdag vir Christus gehou word; ʼn mens sien dié etimologie ook nog in die Engelse Christmas. Dit beteken woorde soos Kersdag en Kersfees word om twee redes met ʼn hoofletter geskryf: Dit is die naam van ʼn feesdag (sien AWS 9.3 wat bepaal dat die name van spesiale dae met hoofletters geskryf word), en dit is ʼn samestelling met ʼn eienaam wat in die saamgestelde vorm as eienaam optree (ook AWS 9.3).

Onder hierdie beginsel is woorde met Kers- as eerste deel deurlopend met ʼn hoofletter. Jy gaan dus skryf Kersdag, Kersfees, Kersete, Kersdiens, Kersliedere, Kersboodskap, Kersprogram, Kersboom, Kerskaartjie, Kersversierings en Kersvakansie.

Die “probleem” hier is dat baie gebruikers aanvoel dat die Kers- in die laaste paar voorbeelde begin verbleek het (sien AWS 9.23). Hulle is gemakliker met kerskaartjie as Kerskaartjie en met kersversierings as met Kersversierings. Die verband tussen kersversierings en die betekenis ‘versierings vir Christus’ is vir gebruikers baie ver, baie verder as die verband tussen Kersdag en ‘dag vir Christus’ in elk geval.

Daarbenewens weet mense Kersversierings is nie ʼn eienaam nie, dit is ʼn soortnaam, wat die skryfwyse met die hoofletter vir hulle nog meer problematies maak. ʼn Mens kan hierdie verskuiwing sien as jy in ons app gaan naslaan en opmerk dat sommige bronne dié woorde met hoofletters opgeneem het en ander dit met kleinletters het. Die AWS is byvoorbeeld baie reëlvas met Kerskaartjie en gee dit slegs met die hoofletter. SkryfGoed se tesourus gee dit met ʼn kleinletter, wat beteken dit gaan nie gemerk word as jy dit in ʼn teks met ʼn kleinletter tik nie. Hoekom die verskil? Die AWS se woordelys is opgestel deur die Taalkommissie wat sulke inskrywings volgens die reëls maak. SkryfGoed se tesourus is opgestel uit (geredigeerde) tekste wat deur gewone mense geskryf is.

Nog ʼn komplikasie waarvan jy moet kennis neem, is die skryfwyse van Kersboom/kersboom: Die AWS maak ʼn onderskeid tussen die twee: ʼn Kersboom is ʼn ding wat jy in jou huis sit en tydens Kersfees met liggies versier. Die kersboom met die kleinletter is blykbaar die volksbenaming vir ʼn lang, regop boom wat inheems aan die Laeveld is.

Nuwejaar het ook ʼn stel bepalings en voorwaardes: As jy die term gebruik om na die dag of die feesgety te verwys, is dit ʼn eienaam en derhalwe met ʼn hoofletter. Jy skryf dus Oujaar, Oujaarsaandvuurwerk en Oujaarsaandoordaad, en Nuwejaarsdag, Nuwejaarsvieringe, Nuwejaarsvoorneme en Nuwejaarsbabelas. Jy kan iemand vreugde toewens vir Nuwejaar, maar as jy die persoon voorspoed wil toewens vir die hele jaar wat voorlê, moet jy verwys na die nuwe jaar. Of, as jy die hele probleem net wil omseil, kan jy skryf: ʼn Geseënde Kersfees en ʼn baie voorspoedige 2020!

Ek weet gebruikers hou nie van wollerigheid by reëls nie. Mense wat by my navraag doen, wil klinkklare antwoorde hê: Is ʼn ding reg of verkeerd? Ja of nee! By samestellings met Kers- is die korrekte skryfwyse met ʼn hoofletter. Maar ek meld die wollerigheid, want ek wil nie hê jy moet iemand wat vir jou ʼn kerskaartjie in plaas van ʼn Kerskaartjie stuur oor die vingers tik nie. Taal verander, en sommige loop voor op die veranderingpad, terwyl ander (soos ek) al kermende en bakleiende agterna kom. Daar moet vir almal in die taal plek bly.

Intussen is dit tyd vir my om al VivA se gebruikers ʼn geseënde Kerstyd toe te wens. Mag jou Kersliggies maklik ontknoop, mag die skaapboud murgsag wees, mag jou skoonfamilie en jou kleinkinders jou waardeer, en mag dit vir jou en jou geliefdes ʼn tyd van vrede, liefde en welbehae wees. Mag die Nuwejaar vir jou feestelik wees, en mag 2020 vir jou dié dinge inhou wat jy nodig het maar vergeet het om voor te wens.

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Regs! ·

Die eerste beginsel wat jy moet onthou is dat kersfees van heidense afkoms is, daarom kan jy maar daaroor praat of skryf met die grootste minagting as moontlik!

E.K. die eerste ·

AG TOG! Elke jaar sê ek maar weer vir die ou klomp wat oordeel – Kersfees is wat JY daarvan maak. Vir my nog altyd ‘n Christusfees. Die boom verteenwoordig lewe – Christus lewe vir ons selfs na Sy aardse dood. Die liggies verteenwoordig dat Hy die Lig van die wereld is. Die geskenke herinner ons aan die gekenke wat die wyse manne aan baba Jesus gebring het (o en ja, onthou daar was NIE 3 wyse manne, dit staan nêrens in die Bybel hoeveel hulle was nie!). Hou tog op om te karring oor heidense afkoms nonsens. Die oorspronklike fees het verander in ‘n Christusfees so dis oorwinning op sigself van Christendom oor sg heidense afkoms as jy daaroor wil karring.

H vd merwe ·

Aangaande E. K die eerste se kommentaar. Kersfees en Christusfees of wat mense dit dit ookal noem om dit te probeer regverdig bly verkeerd en alle aspekte daarvan. Al het jy reeds die kersboom en kersvader weggegooi maar doen nog die eetding saam, dan blt dit steeds gruwelik. Jy bring geen eer aan Vader om ń heidense afgods aanbidding te pro eer verchristelik nie – dit is dalk erger as die fees self. Asb mense, laat staan die dinge van die wêreld en gaan ondersoek die Woord met opregtheid en begin om hierdie gruwels uit jou gesin en uit jou volk uit te roei. Vriendelike groete

H vd merwe ·

Aangaande E. K die eerste se kommentaar. Kersfees en Christusfees of wat mense dit dit ookal noem om dit te probeer regverdig bly verkeerd en alle aspekte daarvan. Al het jy reeds die kersboom en kersvader weggegooi maar doen nog die eetding saam, dan bly dit steeds gruwelik. Jy bring geen eer aan Vader om ń heidense afgodsaanbidding te probeer verchristelik nie – dit is dalk erger as die fees self. Asb mense, laat staan die dinge van die wêreld en gaan ondersoek die Woord met opregtheid en begin om hierdie gruwels uit jou gesin en uit jou volk uit te roei. Vriendelike groete

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.