’n Komma voor “en”

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Talle gebruikers vra raad oor hoe hulle die “nuwe” reël moet interpreteer wat bepaal dat daar ook ʼn komma voor en gebruik moet word. Die reël waarna hulle verwys, is 13.41 in AWS-11, en dit lui soos volg:

ʼn Komma skei twee sinne (albei met onafhanklike sinsvolgorde) wat met ʼn neweskikkende verbindingswoord verbind word.

Hier is die antwoord in ʼn neutedop:

  • Die neweskikkende voegwoorde maar, en, want en of skakel sinne gelykwaardig. Dit beteken hierdie soort voegwoorde skakel twee sinne sonder dat die sinsvolgorde verander.
  • Sinne kan onafhanklike of afhanklike sinsvolgorde hê.
  • Onafhanklike sinsvolgorde beteken die sinne kan uitmekaar gehaal word en net so gebruik word (dis m.a.w. sinne wat hoofsinne kan wees), bv.:

Jeanette het my daardie middag gebel. Sy wou by my ʼn patroon leen. < Jeanette het my daardie middag gebel, want sy wou by my ʼn patroon leen.

  • Afhanklike sinsvolgorde beteken die sin kan nie op sy eie gebruik word nie, want die sin is “afhanklik” van ʼn hoofsin. Sinne wat met onderskikkende voegwoorde aan ʼn hoofsin geskakel word, is bysinne, d.w.s. sinne waarvan die werkwoorde na ʼn plek naby die sinseinde skuif, bv.:

Jeanette het my daardie middag gebel omdat sy by my ʼn patroon wou leen.

  • In die verlede het ons reeds kommas geplaas tussen sinne wat met die neweskikkende voegwoorde want, maar of of geskakel word, bv.:

Jeanette het my gebel, want sy wou ʼn patroon leen.

Jeanette het my gebel, maar ek het nie ʼn patroon gehad nie.

Jeanette het my nie gebel nie, of ek het nie die foon gehoor nie.

  • Om die kommagebruik eenvormig te maak voor neweskikkende voegwoorde wat twee onafhanklike sinne (sinne wat hoofsinne kan wees) so neweskikkend skakel, pas ons dieselfde reël voor en toe as wat ons voor die ander neweskikkende voegwoorde toepas, bv.:

Jeanette het my die middag gebel, en ek het dadelik vir haar die patroon gegee.

  • Hierdie reël geld net in kontekste waar die en twee sinne met onafhanklike sinsvolgorde skakel. As jy dus wil toets of die sin ʼn komma nodig het, kyk na die volgorde van die stuk sin ná die en.
  • Waar die en sinsdele of woorde skakel, geld die reël nie, bv.:

Jeanette het my gebel en my gevra.

Jeanette het my en Patrys vir patrone gevra.

  • Die reël geld ook nie waar die en twee sinne met afhanklike sinsvolgorde skakel nie, bv.:

Jeanette het my gebel, wat sy nooit doen nie en wat my eintlik verstom het, om my vir ʼn patroon te vra. 

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Ek verkies dit. Die “Oxford Comma” help baie male om dubbelsinnigheid uit te skakel. Bv “My pa, ma, die tweeling, Jannie en Sannie” teenoor “My pa, ma, die tweeling, Jannie, en Sannie”. In die eerste voorbeeld kan Jannie en Sannie die tweeling wees, OF hulle kan ander mense wees. In die tweede voorbeeld is dit duidelik dat Jannie en Sannie nie die tweeling is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.