‘Ons skryf soos ons praat’ – met ʼn halwe waarheid van die wal in die sloot/slood

Argieffoto (Foto: Robin Higgins/Pixabay)

Ek kry gereeld van onderwysers vir die Grondslagfase ʼn versoek om raad hoe hulle aan hulle leerders kan verduidelik waarom ons ʼn woord soos brood met ʼn slot-d spel as ons dit eintlik met ʼn slot [t] uitspreek. (Daardie blokhakies dui aan dat dit ʼn fonetiese voorstelling van die klank is.) En klokslag is die argument: Ons is dan veronderstel om te skryf soos ons praat; hoekom kan ons dan nie broot skryf, net soos wat ons groot skryf nie?

Hierdie vraag kan ʼn mens net behoorlik beantwoord as ʼn mens na die grondbeginsels van Afrikaanse spelling terugverwys. Dié is in die voorste gedeelte van die Afrikaanse woordelys en spelreëls opgeneem, en behels die volgende:

  1. Die beginsel van tradisie. Geen taal ontstaan uit die niet nie, ʼn moderne taal soos Afrikaans allermins. Alle tale het ʼn geskiedenis, ʼn etimologie, ʼn lang verhaal van ʼn gelenery en ʼn gestelery uit ander tale, van beïnvloeding, van beleefde kontak waar sprekers met nuwe dinge en nuwe idees in aanraking kom wat nuwe woordeskat vereis. Geen taal op die aarde is sy eie maaksel nie en geen taal dra nie aan die belasting van tradisie nie. Afrikaans se nouste verwantskap is met Nederlands, en baie van die spelvorme wat vandag in Afrikaans vreemd en lastig is, is toe te skryf aan hierdie verwantskap. As ʼn mens dink aan homofone soos lei x ly; vel x fel en boordjie x boortjie, is dit alles kopsere waarvoor ʼn mens die Hollanders kan kwalik neem: Ons het dié wisseling so uit die Nederlands geërf.
  1. Die beginsel van Standaardafrikaanse uitspraak. Hierdie een is so ʼn bietjie van ʼn tameletjie, want a) elkeen wat Afrikaans praat, beskou sy of haar uitspraak as standaard (wat natuurlik vir niemand die geval is nie), en b) die konsep van ʼn verhewe soort “norm” wat net deur een groep Afrikaanssprekendes gepraat word en waarby alles anders afsteek, is lankal nie meer geldig nie. Die hedendaagse opvatting oor wat die “standaard” is, is baie breër en baie meer inklusief, maar dit laat die vraag tereg ontstaan hoekom ʼn sewejarige graadeentjie se uitspraak van muis (informeel getranskribeer mys) dan nie ook Standaardafrikaans kan wees nie.

Onthou maar vir die doel van hierdie argument dat die standaarduitspraak die vorm is wat deur die hele taalgemeenskap as die “generiese” of ongemerkte vorm beskou word. Dit is die vorm waaroor almal ewe neutraal is en wat geskik is vir gebruik in formele kontekste, dit is nie die vorm wat deur ʼn enkele faksie van die taalgemeenskap as die norm aanvaar word nie. Hoewel my eie kind (op pad na een en twintig) nog steeds van ʼn mys praat, gaan ek beslis nie voorstel dat dit as alternatiewe spelvorm vir muis in die AWS opgeneem moet word nie; ek ken slordige taalgebruik as ek dit hoor, en ek weet honderdduisende van my taalgenote ken dit ook. Die feit dat mense dus ʼn ding op ʼn bepaalde manier sê, beteken nie dat die taalgemeenskap bereid is om die informele uitspraak of spelling in formele gebruiksituasies te aanvaar nie.

  1. Die beginsel van gelykvormigheid. As ons Grondbeginsel 2 slaafs sou navolg, sou die homofone waarna ek in 1 hier bo verwys het nie bestaan het nie, en sou ons gemaklik groot, boot, loot, noot, sloot, doot, broot en potloot kon skryf sonder dat ʼn wenkbrou daaroor lig of ʼn rooi streep daaronder getrek word. Maar Grondbeginsel 3 kwalifiseer die ons-skryf-soos-ons-praat-beginsel, en ons moet dit in berekening bring wanneer ons oor spelling praat.

Dit is ook hierdie laaste beginsel wat dit vir ons moontlik maak om vir jong (en ouer) taalaanleerders die gesukkel met die slotklanke duidelik te maak. Die gelykvormigheidsbeginsel vereis naamlik van ons om ʼn woord en sy geflekteerde en afgeleide vorme eenvormig te spel. In Grondslagfasetaal beteken dit ons skryf ʼn woord se meervoud en enkelvoud dieselfde. Kyk byvoorbeeld na hierdie lysie:

  • kant x kante teenoor land x lande
  • nasaat x nasate teenoor saad x sade
  • beet x bete teenoor eed x ede
  • boot x bote teenoor brood x brode
  • voet x voete teenoor vloed x vloede

Deur bloot die woord se meervoudsvorm op te roep, word die verwarring uitgeskakel. Selfs moeilike gevalle waarmee ervare skrywers kleitrap, word so opgelos: Wanneer is dit byvoorbeeld ent en wanneer is dit end? Sit ʼn mens op die ent of die end van die kerkbank? Hou jy daarvan as die ent of end van die fliek gelukkig is? Is dit nog ʼn lang ent of end huis toe? Het ʼn bed ʼn voetenent of ʼn voetenend? Maak meervoude:

  • Mense hou daarvan om op die ente van kerkbanke te sit.
  • *Ek hou daarvan as die ente van flieks gelukkig is.
  • Hulle moes lang ente huis toe stap.
  • Die beddens se voetenente was almal voos.

Teenoor:

  • Mense hou daarvan om op die eindes van kerkbanke te sit.
  • Ek hou daarvan as die eindes van flieks gelukkig is.
  • *Hulle moes lang eindes huis toe stap.
  • *Die beddens se voeteneindes was almal voos.

Hierdie paradigma sê vir jou ʼn kerkbank het ʼn ent of ʼn end (albei meervoude werk), ʼn fliek het net ʼn end, ʼn afstand is net ʼn ent en ʼn bed het net ʼn voetenent.

Daarmee kom ek dan aan die (ent/end) van hierdie blog. [Kies die regte vorm tussen die hakies.]

VivA-groete

Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Taalgebruik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

3 Kommentare

Dorothy ·

Die kinders wou hulle dood lag toe ek praat van ‘n kolwyntjie. Hulle het so gestry en gesê dis ‘n cupcake. Later was dit tot ‘n muffin. Die taal word so gemeng. Good buy

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.