Skatkamers van woorde

(Foto: Raphael Schaller/Unsplash)

Deur Karien Brits

Aanhangers van die tv-reeks Friends sal dalk onthou van die een episode waarin Joey die tesourus in Word met amper rampspoedige gevolge gebruik het.

Tesourusse word deesdae miskien (verkeerdelik) net as ʼn hulpmiddel in ʼn woordverwerkingsprogram beskou, maar daar is eintlik veel meer aan ʼn tesourus. Dit is daarom sinvol om op Tesourusdag (18 Januarie) by hierdie spesiale soort woordeboek stil te staan. Dit is ook die geboortedag van die leksikograaf Peter Mark Roget wie se Thesaurus of English Words and Phrases in 1852 die lig gesien het.

ʼn Tesourus is natuurlik nie ʼn prehistoriese dier wat uitgesterf het nie, maar woordsmede soos onderwysers, studente, skrywers en taalpraktisyns se beste vriend.

Die woord tesourus kom van die Griekse woord thēsauros wat stoorkamer of skat beteken. In die verlede is daar in die breë na woordeboeke as tesourusse verwys, maar ná 1852 het die woord tesourus begin verwys na ʼn spesiale woordeboek waarin die fokus op die verhouding tussen woorde is.

In gewone woordeboeke soos verklarende woordeboeke of tweetalige woordeboeke word die materiaal alfabeties aangebied. Dit is natuurlik veel makliker om die woorde alfabeties op te spoor, maar daar gaan iets van die verband tussen woorde verlore in hierdie woordeboeke.

In ʼn tesourus word woorde onder ’n kernbegrip of tesourusartikel aangebied, maar dit word nie verklaar of vertaal soos in ʼn gewone woordeboek nie.

Kom ons neem ʼn kernbegrip soos “kalm” as voorbeeld. Onder hierdie tesourusartikel word die volgende gelys:

  • byvoeglike naamwoorde (koel, rustig, stabiel, nugter)
  • selfstandige naamwoorde (kalmte, selfbeheersing, vrede)
  • bywoorde (kalmpies, op jou gemak, koelweg)
  • werkwoorde (kalm wees, kalmeer, bedaard wees, kophou)
  • uitdrukkings (hokaai, stop die lorrie; hokaai, stop die bus; so kalm soos ʼn daggawalm)

Dit is ʼn verkorte voorbeeld uit die Tesourus van Afrikaans saamgestel deur Leon en Amanda de Stadler.

Dit is soos ʼn skatkamer wat oopgaan as jy ʼn tesourus oopmaak. Jy ontdek allerhande moontlikhede wat jy nie ʼn in gewone woordeboek sou kry nie. Dit is daarom ʼn goeie hulpmiddel as jy as skryfwerk of opdragte moet doen en jy nie geykte uitdrukkings die hele tyd wil gebruik nie.

Wees net versigtig om nie ʼn tweede Joey te word nie, maar gebruik jou tesourus oordeelkundig, wys en slim.

Vir ʼn boekwurm, boekvreter, lettervreter en bibliofiel soos ek bly dit die lekkerste leesstof as jy jou eie woordeskat wil uitbrei.

  • Karien Brits is die passievolle taalpraktisyn by die Afrikaanse private hoëronderwys instelling Akademia. Sy het ʼn liefde vir tale en hul woordeskat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.