Taalgebruik: aanlyn, virtueel, digitaal

Argieffoto (Foto: Tumisu/Pixabay)

Sommige gebruikers van Afrikaans verwar die twee woorde “aanlyn” en “virtueel” en gebruik dan byvoorbeeld “virtueel” as hulle eintlik “aanlyn” bedoel. Lees gerus dié Taaltoffie om seker te maak jy gebruik telkens die korrekte woord.

aanlyn
ingeskakel by ’n netwerk sodat inligting daarheen gestuur of daarvan onttrek kan word; aan die internet gekoppel: Sodra my rekenaar aanlyn is, kan ons die rekeningbesonderhede nagaan. • Weens ’n tegniese probleem was geen rekenaar vandag aanlyn nie; gevolglik kon ons baie min doen. • ’n aanlyn diens/dagboek • aanlyn inkopies • Ek doen al my banksake en reisbesprekings aanlyn

virtueel
1 wat betref ’n voorstelling van die werklikheid; skynwerklikheid
2 (rekenaar) wat betref die voorstelling van ’n werklike plek en bepaalde dienste daaraan verbonde deur middel van optiese beelde en gepaardgaande klank op ’n rekenaarskerm; waardeur gebruikers elektronies daartoe toegang kan verkry
’n virtuele inkopiemark • Danksy die internet kon sy verskeie buitelandse universiteite virtueel besoek om inligting oor hulle onderrigprogramme te kry. ◊ Uit die gehoor is voorgestel dat ’n virtuele Afrikaanse universiteit tot stand gebring word waar lektore voor videokameras optree en studente landswyd die lesings in spesiale lesingsale volg (Die Burger).

digitaal
1 (elektronika, rekenaar) wat ’n stelsel gebruik waarin data elektronies bewaar word of waarheen dit gestuur word deur syfers, gewoonlik nulle en ene, te gebruik: ’n digitale kamera/tydskrif • digitale speletjies
2 wat inligting in die vorm van syfers gee: ’n digitale horlosie
3 met verwysing na die gebruik van seine of inligting wat voorgestel word deur diskrete waardes van ’n fisiese hoeveelheid soos stroomspanning of magnetiese polarisasie

Bron: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (6de uitgawe)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.