Taalgebruik: aasvoël, buffel, fossiel

(Foto’s: Pixabay)

Metafore is woorde wat mense in een woord beskryf, gegrond op sekere karaktereienskappe of op grond van wat hulle doen. Hierdie woorde is figuurlike beskrywings van persone, waar die eienskappe van ʼn ander saak metafories op mense oorgedra is.

Hier is enkele voorbeelde:
aasvoël – iemand wat op ander teer, wat ander misbruik
baanbreker – iemand wat voorloop in ʼn belangrike saak, wat eerste iets vernuwends doen
belhamel – iemand wat die leier van kwajongens of oproermakers is
buffel – ʼn nors, ongepoetste of kortaf persoon
fossiel – iemand wat aan verouderde idees vasklou
geitjie – iemand wat baie kwaai is
geluksvoël – iemand wat baie gelukkig is
heethoof – iemand wat in sy ywer te ver gaan, ʼn opvlieënde persoon
jakkals – iemand wat baie skelm is
jansalie – ʼn lamsakkige persoon
kapokhaantjie – ʼn selfversekerde, parmantige meneer
knapsakboer – iemand wat op baie klein skaal boer
laventelhaan – iemand wat sy uiterlike oordrewe versorg
maltrap – iemand wat uitbundig verspot is
naguil – iemand wat ure lank in die nag wakker bly
parasiet – iemand wat op ander mense teer
rammetjie-uitnek – iemand wat grootpraat, voor op die wa is
spekskieter – iemand wat leuens vertel
swartskaap – iemand wat sy familie of groep (kollegas of spanmaats) in die skande steek
terggees – iemand wat graag ander mense terg
tjekboekboer – iemand wat net vir die genot daarvan boer
trapsoetjies – iemand wat baie stadig is
uilspieël – iemand wat poetse bak en soos ʼn harlekyn lyk en optree
vlagswaaier – ʼn oordrewe patriotiese persoon
voorbok – die een wat die leiding neem
windlawaai – iemand wat grootpraat en nie veel beteken nie
wynvlieg – iemand wat baie alkohol drink

Hierdie inligting is oorspronklik in Pharos Afrikaansgids gepubliseer.
Skaf gerus dié gids aan:
Uitgewer: Pharos
Prys: R295-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R236-00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.