Taalgebruik: Adresse

Argieffoto (Foto: Sander Sammy/Unsplash)

Dié inligting oor die skryfwyse van adresse in Afrikaans kom uit die tweede hersiene uitgawe van Skryf Afrikaans van A tot Z: Die essensiële gids vir taalgebruikers (SAAZ).

  • Gebruik syfers vir ʼn straatnommer en skryf dit ná die straatnaam:

Die huis by (NIE: in] Petersenlaan 23 is te koop.

  • Die nommer van ʼn woonstel in ʼn gebou kom ná die gebou se naam:

Dahliahof 13 [NIE: 13 Dahliahof]

  • ʼn Kantoor- of verdiepingnommer in ʼn gebou word só geskryf:

Kamer37, Administrasiegebou
5de verdieping, Kruinsig

  • Moenie (=)straat afkort nie:

Sewende Straat [NIE: Sewende Str.]

  • Skei in ʼn sin die dele van ʼn adres of bestemming met kommas:

Hulle het voorheen by Parkstraat 13, Stutterheim, gewoon.
Die vliegtuig het in Brussel, België, geland.

Teenoor sonder kommas:

Hulle het in Parkstraat in Stutterheim gewoon.
Die vliegtuig het in Brussel in België geland.

  • Geen komma of punt kom ná adresreëls wat onder mekaar in blokvorm geskryf word op ʼn koevert of boaan ʼn brief nie, en die naam van die plek of poskantoor is in hoofletters. Die poskode moet op die laaste reël van die adres verskyn:

Mr. J. du Toit
Kiewietstraat 28
HATFIELD
0083

  • Die voorsetsel saam met ʼn spesifieke straatadres in ʼn sin is by [NIE: in /te]:

Mev. Petra Pienaar woon by Parkstraat 13.
Haar dogter, wie se kinders heeldag op straat is, woon hoër op (of laer af) in die straat.

Die huis wat te koop is, is in Parkstraat.

Uitsonderings is: Die gebou is aan die Buitengracht/Heerengracht/Buitenkant in Kaapstad.
[NIE: in Buitengrachtstraat/Heerengrachtstraat/Buitenkantstraat]

  • Skryf in ʼn sin:

Die gebou is op die hoek van Jasmyn- en Roosstraat.
[NIE: h/V Jasmyn- en Roosstrate]

Dié taalbrokkie is ʼn verkorte weergawe van die oorspronklike inligting wat in die tweede hersiene uitgawe van Skryf Afrikaans van A tot Z: Die essensiële gids vir taalgebruikers (SAAZ) gepubliseer is.
Uitgewer: Pharos
Prys: R485-00*
*Prys onderhewig aan verandering 

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alice ·

Baie mense werk op ‘n vloer dan sê ek : mens was ‘n vloer en werk op ‘n verdieping. Hopelik hulle onthou dan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.