Taalgebruik: Akuutteken (´)

Argieffoto (Foto: Wilfried Pohnke/Pixabay)

Dié inligting oor die gebruik van die akuutteken in Afrikaans kom uit die Afrikaanse woordelys en Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe).

Oriëntasie:
Die akuutteken (´) word in Afrikaans net op vokaalletters en diftonge geplaas.

Reël 4.1 (volgens die AWS se indeling van spelreëls): Die akuutteken word in bepaalde sinskontekste gebruik om betekenisonderskeid en woordsoortverskil by andersins identiese woorde aan te dui.

  • diéteenoor die (Ek kan dié/die man nie verstaan nie)
  • teenoor na (Die polisie het ʼn intensiewe ondersoek gedoen ná/na die voorval)

Opmerking: Die akuutteken kan ook by geleentheid en volgens keuse gebruik word om betekenis- of woordsoortverskil aan te dui, byvoorbeeld:

  • álteenoor al (Hy het ál/al sy werk gedoen);
  • nóúteenoor nou (Die voormalige vyande het nóú/nou saamgewerk);
  • omtréntteenoor omtrent (Ná die klimtog was ons omtrént/omtrent disnis).

Reël 4.2: Die akuutteken word gebruik om beklemtoning aan te dui.

  • bóg, ék, fýn, húlle, kán, níks
  • én… én, nóg… nóg, óf… óf
  • déúr, dúúr, één, kóéi, kóúd, kráái, láát, móét, móói, néé, ongelóóflik
  • dié, héilig, hiér, lúi
  • kóéël, réën, spiéël

Opmerking: Die akuutteken word nie op ʼn i geplaas as dit saam met ʼn ander vokaalletter voorkom nie, byvoorbeeld lúi, maar sodra die i die enigste vokaalletter is, kan dit beklemtoon word, byvoorbeeld dítwílwít. Kyk ook reël 4.4.

Reël 4.3: Die akuutteken as beklemtoningsteken verdring nie ʼn ander diakritiese teken wat ʼn spellingsvereiste is nie.

  • dié, héilig, hiér, lúi
  • kóéël, réën, spiéël

Reël 4.4: Die akuutteken word gebruik in woorde van vreemde herkoms in hul oorspronklike spelvorm.

attaché, auto-da-fé of auto-de-fé, cliché, détente, née, négligé, procédé, séance

Opmerking: Sommige leenwoorde word met die akuutteken en sommige met die gravisteken geskryf omdat daar gehou word by die spelvorm van die taal waaraan die woord ontleen is.

Reël 4.5: Die akuutteken word gebruik in sommige eiename van vreemde (hoofsaaklik Franse) herkoms in hulle oorspronklike spelvorm.

  • Asunción, Mahé
  • Cronjé, Esmé, Fouché, Kotzé, Maré, Naudé, René

Opmerking: Sommige van dié eiename word met die akuutteken en sommige met die gravisteken geskryf omdat daar gehou word by die spelvorm van die taal waaraan die woord ontleen is.

Dié taalbrokkie is ʼn verkorte weergawe van die oorspronklike inligting wat in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe) verskyn.
Uitgewer: Pharos
Prys: R490-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke 

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.