Taalgebruik: alarm of wekker

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Uit die HAT Taalgids:
Alarm is ’n doodgewone, goeie Afrikaanse woord, maar soms is hy ook ’n valse vriend. Om alarm te maak beteken om ’n noodteken of -sein te gee, byvoorbeeld omdat gevaar dreig.

So byvoorbeeld sal ’n mens sê dat iemand alarm gemaak het toe sy rook uit die plafon sien borrel.

Die alarm kan ook een of ander (harde) geluid of (flitsende) lig wees wat ’n mens waarsku dat gevaar dreig, byvoorbeeld dat daar by jou huis of motor ingebreek word, of dat daar êrens ’n brand uitgebreek het, of dat die vyand aanval.

Waar kom die woord vandaan?
Histories kry ons die woord alarm uit die Romaanse tale, byvoorbeeld Italiaans all’ arme!, Spaans al arma! en Frans à l’arme!, wat telkens die uitroep “neem die wapens op!” is. Dit berus op die Latyn arma “wapens” (vgl. Engels arms = wapentuig). Mettertyd het alarm ook die betekenis aangeneem van die toestel wat die noodsein gee, en daarom sê ’n mens byvoorbeeld dat jy ’n alarm in jou motor of huis laat installeer het.

In Engels word die woord alarm of alarm clock ook gebruik om die toestel of horlosie te benoem wat ’n mens op ’n vooraf gestelde tyd wakker maak deur die een of ander geluid te maak. Dit is in hierdie betekenis dat alarm ’n valse vriend in Afrikaans word, want so ’n toestel of horlosie noem ons ’n wekker, NIE ’n alarm nie. ’n Mens stel jou/die wekker en jou/die wekker gaan af. Die werkwoord wek beteken natuurlik onder meer “om wakker te maak”; die wekker is dus letterlik die wakkermaker.

Woord:
alarm

Betekenis:
alarm [alarms; alarmpie]
1 toestel wat deur ’n geluid waarsku: Toe die alarm afgaan, het die inbreker gevlug. • Hy stel sy horlosie-alarm om hom te help onthou.
2 waarskuwende geluid: alarm maak.
3 skielike vrees deur gevaar veroorsaak; onrus; opskudding: Die slegte nuus het ’n groot alarm veroorsaak.
| vals alarm alarm wanneer daar geen gevaar is nie; situasie waarin mense verkeerdelik dink dat iets slegs gaan gebeur: Die baba makeer niks nie – dit was ’n vals alarm.

Woord:
wekker

Betekenis:
wekker [wekkers, wekkertjie]
1 horlosie/uurwerk wat gestel kan word om op ’n bepaalde tyd ’n slaper wakker te lui: Die meeste mense word elke oggend met ’n wekker wakker.
2 (weinig gebruiklik) iemand wat ’n ander wakker maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Basson ·

Ek sal nog steeds staan by die punt dat ‘n oorlosie nie ‘n ‘alarm’ het, maar ‘n wekker, my ‘wekker’ het my wakker gemaak.
M.i. is dit swak Engelse invloed, afgelei van ‘my alarm clock’.
Was geskok om te sien dis inderdaad aanvaarbaar om te praat van ‘ hy stel sy oorlosiealarm’ ! ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.