alledaags: (Eng: commonplace) die teenoorgestelde van buitengewoon en soms word dit ietwat neerhalend gebruik. OOK: Baie gewoon; wat amper elke dag voorkom: ʼn Alledaagse voorval; alledaagsheid
daagliks: (Eng: day to day) daagliks slaan op iets wat elke dag gebeur; (b.nw.) Vir elke dag, wat elke dag terugkeer: My daaglikse wandeling. (bw.) Op iedere dag, elke dag: Ons doen dit daagliks.
kan julle die verskil tussen ronde en rondte verduidelik asb. Ek sien op die program van die “community cup” rugby wedstryde wat gespeel word begin die ronde die 21ste Februarie – ek vermoed dat dit dalk rondte moet wees – ek is seker dat die “t” per ongeluk uitgelaat is – sover ek weet is ronde die beskrywing van ‘n vorm wat alles is met ‘n omtrek ewe ver van die middelpunt is en rondte word gebruik vir die rondheid – “kom ons staan in die rondte ” ens en wanneer daar ‘n wedstryd gespeel word is dit ‘n rondte van die toernooi – ek mag verkeerd wees en help my dan reg asb
Dagsê Fransie
Ek haal aan uit die boek, Skryf Afrikaans van A tot Z (NB Uitgewers, 2011): Ronde is ʼn fase of afdeling in ʼn opeenvolgende reeks, bv. in ʼn kompetisie, samesprekings of in boks. In spansportsoorte waar wedstryde ter sprake is, haal spelers (of dring hulle deur tot) die kwart-eind-, halfeind- en eindstryd. Rondte slaan op ʼn roete waarop beweeg word en wat weer by die beginpunt eindig, bv. in atletiek, motorsport, gholf en sommige wedvaarte. ʼn Gholftoernooi bestaan uit drie rondes wat elk ʼn rondte van agtien putjies behels, en ʼn skinkbord met die volgende ronde drankies word in die rondte gestuur. ʼn Mens draai in die rondte (en eindig waar jy begin het), en die konstabel/dokter het op sy rondte ʼn kwaaddoener betrap. In die volgende figuurlike uitdrukkings kan ronde of rondte gebruik word: ʼn gerug doen die ronde/rondte en die ronde/rondte van vader Cloete doen.
In die geval van hierdie rugbywedstryd is “ronde” dus die korrekte gebruik.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media
dankie dat jy my reggehelp het – ek sal my skoolgeld moet gaan terugvra