Taalgebruik: angstig, gretig

Argieffoto (Foto: RobinHiggins, Pixabay)

Angstig in die betekenis “gretig”, “begerig” is ’n anglisisme

Uit die HAT-taalgids:

’n Mens hoor dikwels dat angstig gebruik word waar gretig bedoel word. Angstig is die byvoeglike naamwoord of bywoord wat van die selfstandige naamwoord angs afgelei is en angstig se betekenis hou dus met angs, vrees, bang wees verband, byvoorbeeld: Die dogter was so angstig voor die eksamen dat haar ma haar ’n kalmeerpilletjie moes ingee, of Die rooibok het angstig probeer om uit die kronkels van die luislang los te kom.

Daarenteen kom gretig van die Oudnederlandse woord grete of greyte, wat “begerigheid” beteken het. Gretig het dus te doen met iets wat ’n mens of dier begeer, wat jy graag wil hê, byvoorbeeld: Die honger kinders het gretig aan die worsrolletjies en koeldrank weggelê, of Die gretige spelers het hulle bes probeer om die keurders tydens die proewe te beïndruk.

In Engels het anxious die betekenis van “angstig” sowel as “gretig” en dit lei waarskynlik daartoe dat party mense in Afrikaans angstig wil gebruik asof dit “gretig” beteken, byvoorbeeld: Die tweetjies was baie *angstig om mekaar ná die vakansie weer te sien. As die bedoeling hier is dat hulle mekaar ná die vakansie baie graag weer wou sien, is dié gebruik van angstig ’n onaanneemlike anglisisme. As hulle bang was om mekaar te sien, sou angstig natuurlik korrek kon wees, maar dan sou die vertederende gebruik van tweetjies onvanpas wees.

Ek hou nie van flieks oor moordsake nie – dit maak my te angstig.
Ek is gretig om te hoor wat die uitslag is.

angstig
1 met angs vervul: angstig wees op ’n eensame plaas • angstig deur ’n donker bos stap.
2 wat angs uitdruk: ’n angstige blik/geskreeu.
3 wat angs veroorsaak: in angstige verwagting.

gretig
met lus en ywer; opgewonde oor iets wat gaan gebeur of iets wat jy graag wil doen; begerig: gretig wees om te leer • gretig luister • iets met gretige hande gryp • gretig uitsien na ’n vakansie • gretig uitvra na nuus van jou familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

A.J.Loois ·

Sou graag wil sien dat op een of ander manier die uitspreek van die letter “u” weer op die regte klank gebruik word.
Ure word iere
Deure word deere
Uit word yt ens.ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.