Taalgebruik: as, indien, wanneer

Argieffoto (Foto: RyanMcGuire/Pixabay)

Taalgebruikers struikel soms met die gebruik van “as” en “wanneer”. Iemand sal soms dus sê: “As ek in die oggend wakker word”, terwyl dit eintlik “wanneer” moet wees.

as
1 op voorwaarde dat; ingeval; indien: As jy gaan, sal ek ook gaan.
2 wanneer; sodra: As die wind begin waai, moet jy die vensters toemaak.
3 gebruik om vergelyking aan te dui: Dit gaan daar slegter as hier by ons. • Hy is groter/kleiner/slimmer/ens. as sy broer.
4 gebruik om ʼn teenstelling aan te dui: Ek verdien iets beters as dit.
5 in die hoedanigheid van: as spreker/voorsitter optree • as vriend met iemand praat.
6 behalwe: Wat kan ek anders sê as dat dit die waarheid is?

indien
1
 op voorwaarde dat; mits: Ek sal jou help indien dit nodig is. • Indien dit die geval is, moet ek jou gelyk gee.
2 as; ingeval: Indien hy sou versuim om die skulderkenning te betaal, moet hy voor die hof verskyn. • Die situasie kan net verbeter word indien strenger maatreëls toegepas word.

wanneer
Bywoord
watter tyd: Wanneer begin jy? • Wanneer sal die stryd tog verby wees?
al van wanneer (af) geruime tyd al: al van wanneer (af) staan en wag.
van wanneer af het jy die reg om … wie het jou (die) toestemming gegee om…: Van wanneer af het jy die reg om op my plek te parkeer?
Voegwoord
op die tyd; as: Wanneer hy praat, luister almal. • Wanneer hy kwaad word, vlug hulle.

Uit Engels:
if as/indien, wat op onsekerheid of moontlikheid dui: As dit nie binnekort reën nie, sal die boere hul vee moet begin voer. Wanneer ʼn veronderstelde moontlikheid op as volg, word die hulpwerkwoord sou in die bysin gebruik, teenoor sal vir ‘n besliste moontlikheid in die hoofsin: As die plan sou misluk, sal ons van voor af moet begin.
when wanneer, wat op ʼn bepaalde tyd dui: Wanneer [NIE: as] ek soggens opstaan, is dit nog donker.
were it not for… As die minister nie ingegryp het nie, kon dit ʼn groot verleentheid gewees het [NIE: as dit nie vir die minister se ingryping was nie, kon… ].
the minister was quoted as saying… na berig word, het die minister gesê… , of: volgens die koerant/tydskrif het die minister gesê… [NIE: as sou die minister gese het… ].
stir-frying is when… roerbraai is die gaarmaakmetode/tegniek/proses waarvolgens… [NIE: roerbraai is wanneer… ].

Bronne: WAT en Skryf Afrikaans van A tot Z

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.