Taalgebruik: Baan of laan?

Argieffoto (Foto: Counselling, Pixabay)

In ʼn dorp of stad, of op ʼn plaas, word daar na ʼn pad of straat – veral een met bome langs die kante – dikwels as ʼn laan verwys: “ʼn Pragtige eikelaan.” “In ʼn laan opry na ʼn ou plaashuis.”

Só ʼn pad word partykeer ook ʼn “laning” genoem, maar die woord laning verwys eintlik na ʼn ry bome of struike, gewoonlik van dieselfde soort, en nie ʼn pad nie.

Wanneer vervoeringenieurs na ʼn “laan” verwys, het hulle gewoonlik egter ʼn ander soort pad in gedagte: een wat hulle vakkundig onderskei van ʼn baan. Op ʼn deurpad, sê nou maar die een tussen Johannesburg en Pretoria, is daar gewoonlik twee duidelike kante. Aan die een kant van dié deurpad beweeg die verkeer van suid na noord, en aan die ander kant van noord na suid. Volgens die WNNR se lys pad- en vervoerterme, wat in 1986 gepubliseer is, word elk van dié twee dele van ʼn deurpad ʼn “rybaan” genoem, of, soos ons in die gewone spreektaal sê, ʼn “baan”.

Die suid-noord-baan en noord-suid-baan is elk in stroke verdeel, waarop die verkeer beweeg. In Engels word sulke stroke “lanes” of “traffic lanes” genoem. En in vaktaal, in Afrikaans, “lane” of “verkeerslane”.

Die bane en die lane van ʼn deurpad moet dus nie met mekaar verwar word nie.

Gestel daar is ʼn botsing en die baan is toe. Dit sal beteken dat die hele pad van noord na suid of suid na noord gesluit is. Dan is al vier of vyf die lane ook toe, wat ʼn groot verkeersopeenhoping veroorsaak en motoriste moet alternatiewe roetes vind.

As egter net die laan waarin die ongeluk gebeur het, gesluit word, bly die ander lane oop. Die verkeer vloei dan stadiger, maar motoriste kan steeds die pad gebruik.

ʼn Mens kies dus ook die stadige laan, die middellaan of die vinnige laan, en jy verwissel van laan, nie van baan nie.

Gestel ʼn mens ry op ʼn enkelteerpad met ʼn stippellyn in die middel. Weerskante van die lyn ry motors in teenoorgestelde rigtings. So ʼn pad is ʼn verkeersbaan met twee lane – een in elke rigting. Dit is met ander woorde ʼn enkellaanpad.

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Judge Dredd ·

Miskien moet mense maar net aanvaar dat daar meer as een woord kan wees om iets te beskryf.

Gwen ·

Ek stem saam, Judge. Daar is jou manier en die regte manier.

Esmé Smit ·

Is dit net ek of weerspreek hierdie artikel ditself? In paragraaf 3 word elk van die twee kante (noord na suid of suid na noord) van n deurpad ‘n “rybaan” genoem (ongeag hoeveel lane elke baan het), maar in die laaste paragraaf noem die outeur dit ” ‘n verkeersbaan met twee lane – een in elke rigting”. Sekerlik moet dit volgens die WNNR se definisie ” ‘n deurpad/pad met twee bane – een in elke rigting” wees? Dan het elke rigting ‘n enkellaan.
Vra maar net!?

IK ·

Geen wonder daar is so baie trompop botsings want daar word nie mooi verstaan of daar in ‘n baan, laan, pad of wat ookal gery word. Die beste is maar om die middel/skeiding van die pad te probeer vasstel. Dit kan nogal ‘n uitdaging wees waar die verf verdwyn het wat laas uit apartheid se tyd dateer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.