Taalgebruik: bestee, spandeer

Argieffoto

bestee ww. [het bestee]

1 uitgee: baie geld aan iets bestee.
gebruik; aanwend: aandag/sorg aan iets bestee • baie tyd aan iets bestee • ʼn groot deel van jou lewe aan jou werk bestee

spandeer ww. [het gespandeer]

1 geld bestee/uitgee: Moenie meer spandeer as wat jy verdien nie. • geld aan iets spandeer • Spandeer jou salaris verstandig.
2 tyd deurbring: • Sy spandeer die hele oggend om deur ou stowwerige … winkeltjies te snuffel (Riana Scheepers).

Albei hierdie woorde is doodgoeie Afrikaanse woorde; “bestee” is net van Germaanse herkoms en “spandeer” van Romaanse herkoms. Daar is bronne wat dit wil hê dat slegs geld gespandeer kan word, maar as ʼn mens kyk na die sitate met “(ge)spandeer” in sowel die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) as die Woordenboek der Nederlandsche Taal (WNT) is daar nie werklik gronde vir so ʼn standpunt nie. Die WAT en WNT gebruik spandeer byvoorbeeld ten opsigte van geld en tyd.

Wat “bestee” betref, maak die WAT dit duidelik dat dit ten opsigte van ʼn hele klomp goed gebruik kan word, waaronder geld, tyd, sorg, energie, middele, arbeid, aandag en studie.

Uit soektogte in dié twee omvattende woordeboeke blyk dit egter dat “bestee” baie meer gebruik word as “spandeer” en dat “bestee” ook ʼn baie wyer toepassingsgebied as “spandeer” het. Laasgenoemde word wel hoofsaaklik (maar nie uitsluitlik nie) ten opsigte van geld gebruik word, dikwels ook met die bygedagte van verkwisting.

Bron: HAT en HAT-taalgids

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.