Taalgebruik: Die verfoeilike “f” en “v”

Argieffoto

Gebruikers van Afrikaans struikel soms oor die spelling van woorde wat met ‘n “f” of ‘n “v” begin. Hiermee ‘n paar voorbeelde.

faal x vaal: ‘n Poging of die knapste mense kan faal, maar gebruik eerder misluk. Jy druip/sak [NIE: faal] (in) ‘n toets. ‘n Kleur is vaal.

feil x veil: Die argaïese selfstandige naamwoord feil beteken “fout” en die werkwoord feil om ‘n fout te maak; vandaar feilbaar en feilloos. Iemand het sy lewe veil vir sy land as hy bereid is om sy lewe vir sy land op te offer.

fel x vel: Fel is ‘n bywoord en byvoeglike naamwoord: Die son is/skyn fel en kritiek is fel/heftig/skerp. Vel kan, benewens ‘n selfstandige naamwoord, ‘n werkwoord wees: ‘n Boom of ‘n beslissing/oordeel/vonnis word gevel. ‘n Mens het ‘n vel, en ‘n dier ‘n vel/huid/pels.

fiets x viets: Die meisie ry fiets om haar postuur viets te hou.

fonds x vonds: Die Afrikaans vir funds is fondse of gewoon geld: Daar is geen geld [NIE: fondse] vir die projek nie. Gewoonlik word geld gestort of inbetaal in ‘n fonds wat met ‘n spesiale doel gestig [NIE: in die lewe geroep] is, soos in ‘n siekefonds of ‘n Kersfonds. Soms gaan dit om ‘n begroting of geldmiddele: Die weermag se begroting [NIE: fondse] is erg besnoei. Geld [NIE: fondse] word bewillig, gegee, geskenk of voorgeskiet vir byvoorbeeld ‘n projek, of die projek word gefinansier of gesubsidieer deur dit geldelik te steun of van kapitaal te voorsien [NIE: befonds]. Die selfstandige naamwoorde in dié verband is finansiering of subsidiëring [NIE: befondsing]. ‘n Vonds is iets wat gevind is of ‘n ontdekking wat gedoen is; die meervoud is vondste [NIE: vondse].

fors x vors: Iemand is fors gebou, maar het ‘n vorsende blik.

fort x vort: ‘n Fort is ‘n vesting, en vort beteken “weg”: Die inbreker is vort met die eienaar se motor.

frank x vrank: Die frank was Frankryk se geldeenheid, en iets proe/smaak vrank.

frot x vrot: Die speletjie is frot, en vrugte wat bederf het, is vrot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Moenie praat van die donderbye by die kis nie en so baie ander. Waar jy aangespreek word as i in plaas van u. Waar jille gaan yteet het. Dit is iets wat my vreeslik grief want ons is op skool geller om behoorlik uit te spreek en nie om woorde yt te spreek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.