Taalgebruik: dien, bedien

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

dien1 ww. [het gedien]
1 in diens wees; werk: in ’n raad/komitee dien • Hy dien as onderwyser.
2 as heer erken; hulde bewys aan; aanbid: die Here dien.
3 bruikbaar wees vir; gebruik word as: Twee eenvoudige houtkissies dien as bedkassies.
4 beoefen; bevorder: die waarheid dien • Moenie die sonde dien nie.
5 iem. van … dien aan iemand iets verskaf: iemand van raad/advies dien.
6 (deftig) moet; behoort: Jy dien dit te weet.
7 verhoor word: Die saak sal môre voor die hof dien.

be·dien ww. [het bedien]
1 iemand bystaan/dien/help; iemand gee wat hy/sy vra/nodig het/bestel: middagetes aan tafel bedien • klante in ’n winkel bedien. Opmerking: ’n Mens kan eet- of drinkgoed bedien (aan mense), of mense bedien (met eet- of drinkgoed).
2 sorg dra vir die (behoorlike) werking van iets: ’n kanon/masjien/skakelbord bedien.
3 iem. van … bedien (formeel) aan iemand iets verskaf: iemand van raad/advies bedien.
4 jou van … bedien (formeel) van iets gebruik maak: Op politieke vergaderings het hy gewoonlik Afrikaans gepraat; slegs by hoë uitsondering het hy hom van Engels bedien.
5 verkondig: Die Evangelie bedien.

Die jare lange twispunt is egter die gebruik van bedien saam met kos en drank. Die meeste normatiewe bronne voer aan dat ’n mens slegs mense kan bedien, nie kos en drank nie, en dat jy dus mense met drankies of koffie of sout­happies of ’n bord kos bedien (alternatief: kos word, na gelang van omstandighede, voorgesit, opgedien, opgedis of opgeskep en drank word aangebied of geskink). Die ma of gasvrou kon dus nie die ete “bedien” nie, maar moes dit opdien of voorsit en by ’n staanonthaal moes die kelners die eet- en drinkgoed ronddien.

En natuurlik is dit volkome korrekte en nuttige werkwoorde. Beteken dit egter dat ons in Afrikaans nie eet- en drinkgoed magbedien sonder om ’n anglisisme te begaan nie?

Indien dit wel anglisisties was om te sê dat eet- of drinkgoed bedien word – en ’n kollokasie soos die Nagmaal bedien, wat lank reeds ook in Nederlands voorkom, laat ’n mens daaroor wonder – dan is die talle trefslae daarvan in die WAT, wat bewys dat dit al baie lank in Standaardafrikaans voorkom en deur betrou­bare skrywers en die WAT se redaksie gebruik word, tog seker bewys dat dit volledig in Standaardafrikaans ingeburger is.

Bron: HAT en HAT Taalgids

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.