Taalgebruik: dier- en plantname

Argieffoto (Foto: julianhd, Pixabay)

Argieffoto (Foto: julianhd, Pixabay)

Die gewone benaminge van plante en diere begin met kleinletters:

– akkerboom, alg, bloekom, jakobregop, kikoejoe, outeniekwageelhout, perske, protea, roos, sampioen
– adder, duif, eland, erdwurm, geelslang, jakkals, knopiespinnekop, komododraak, kriek, olifant, platanna, rooiroman, silwervos, snoek, vlermuis

Hierdie reël geld ook indien so ʼn naam ʼn samestelling is waarvan die eerste lid ʼn eienaam is – ongeag of dit ʼn geografiese, plek-, persoons-, etniese of ander eienaam is, hetsy verbleek al dan nie – byvoorbeeld gaboenadder, hartmannbergkwagga, pietretiefbroodboom, sederbergghwarrie, tahitikastaiing, zambezihaai.

indien die afgeleide vorm vna veral geografiese eiename egter gebruik word, word die gebruiklike hoofletter by die afleiding behou, byvoorbeeld Kaapse kanferfoelie, Rhodesiese katjiepiering, Spaanse makriel, Transvaalse wurmslang. Indien ʼn persoonseienaam met die setsel se aan ʼn soortnaam verbind (met of sonder koppeltekens) en so die gewone plant- of diernaam vorm, word die hoofletter van die persoonseienaam behou, byvoorbeeld Geoffroy se saalneusvlermuis, Moses-se-kierie. Let op dat daar in bepaalde vakgebiede tradisioneel in sekere gevalle ook ander skryfwyses voorkom, byvoorbeeld Major Mitchell-kaketoe, Pére David-hert, Prins van Wallisheide.

Let op dat benamings van diererasse, kultivars, plantvariëteite en dergelike ook met ʼn hoofletter kan begin, byvoorbeeld jersey of Jersey, cabernet of Cabernet, hubbardpampoen of Hubbardpampoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa ·

SO lekker om hierdie te lees. Mense spel deesdae baie maklik verkeerd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.