Taalgebruik: eenmaal, een maal

Argieffoto. (Foto: Ben White/Unsplash)

Gebruikers van Afrikaans struikel soms oor die verskil tussen “eenmaal” en “een maal”.

Wanneer “eenmaal” (een woord) gebruik word verwys dit na ʼn onbepaalde oomblik in die verlede of toekoms of na ʼn besliste, onveranderlike gebeurtenis. “Een maal” (twee woorde) vorm deel van ʼn woordgroep en verwys na ʼn enkele oomblik.

een’maal b.nw.
1 Op ‘n sekere, onbepaalde tydstip of by ‘n sekere geleentheid in die verlede: Daar was eenmaal ‘n koning — as begin van ‘n sprokie of ander verhaal • Toe hy eenmaal op reis was.
2 Op ‘n sekere, onbepaalde tydstip of by ‘n sekere geleentheid in die toekoms: Jy sal eenmaal spyt hê. As daar eenmaal ‘n groot reën kom…
3 As iets wat reeds al (klaar, onherroeplik) gebeur het of die geval is; soos die gang van sake is; as voldonge feit; vir goed, onvermydelik, gewis, onomstootlik: Dit is nou eenmaal so, daar is niks aan te verander nie. Jy is nou eenmaal die geseënde van die Here (Gen. 26:29) • Hoe gou dat hul net soos ‘n wind verdwyn, en, eenmaal weg, nie wederom verskyn (Ber. Ps. 78:14) • Omdat die mens nou eenmaal deur klein griefies en ontberinge beïnvloed word (Sangiro) • As jy eenmaal jou naam geteken het, is jy vas. Dit moet nou eenmaal gebeur. Ons het nou eenmaal die moeite gedoen. Die eenmaal opgewekte wantroue. Ek is nou maar eenmaal so. Ons weet dit nou eenmaal. As hy eenmaal kwaad word, sal ons niks bereik nieDié is eenmaal (geselstaal), daar is nie die minste twyfel aan nie.

een maal woordgroep Ook een keer
’n enkele maal/keer: Ek was een maal/keer daar en nooit weer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.