Taalgebruik: epos, e-pos

Argieffoto. (Foto: JESHOOTScom/Pixabay)

Die e-wêreld het die afgelope dekade of wat bykans ontplof. Dit het tot ’n hele reeks nuwe terme gelei, waaronder “e-pos”, “e-bankwese”, “e-winkel”, “e-boek”, “e-leer” en so meer.

In Afrikaans word hierdie hele stel terme konsekwent met ’n koppelteken ná die “e” geskryf, al is daar ’n toenemende neiging om in Engels byvoorbeeld email sonder koppelteken te skryf en al is “e” die afkorting van die byvoeglike naamwoord “elektroniese”.

E-pos verwys na briefwisseling met behulp van die internet; die stuur en aflewering van dokumente/foto’s/sketse/ens. in elektroniese formaat van een rekenaar na ’n ander of verskeie ander: iets per e-pos aan/vir iemand stuur • Sjoe, ek het vandag baie e-pos gekry. • Ek het twee e-posse van jou ontvang; wat van die derde een geword het, weet ek nie.

Let ook op dat “e-pos” ook as ’n soortnaam gebruik kan word (en dus ’n meervoud kan kry: e-posse) en as ’n werkwoord: Ons sal die rekening aan/vir u e-pos.

Die verledetydsvorm is “ge-e-pos”: Ons het die rekening gister aan u ge-e-pos. In teenstelling met ’n verledetydsvorm soos “geëet” word “geë-pos”, nie met ’n deelteken geskryf nie.

Die woord “epos” (meervoud: eposse of epe) word in Afrikaans steeds vir ’n verhalende gedig (en sekere figuurlike toepassings daarvan), waarin heldedade breedvoerig beskryf word, gereserveer; heldedig soos die Ilias en die Odussee van Homeros: ’n Voorbeeld van ’n moderne epos is D.J. Opperman se ‘Joernaal van Jorik’.

Bronne: HAT en HAT-taalgids

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eclectus ·

My gekose term is vonkpos, en vir by of “at” (@) in die adres is aapstert.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.