Eien en uitken is sinonieme en gaan albei om die uitkenning [EERDER AS: identifisering] van ʼn enkeling sonder dat hy met iemand anders vergelyk word: Oorledenes word geëien of uitgeken.
Uitken word ook gebruik wanneer een persoon tussen ʼn aantal ander uitgewys word op byvoorbeeld ʼn uitkenningsparade of wanneer jy iets tussen ʼn klomp ander uitken.
- recognise herken, byvoorbeeld iemand wat jy vantevore ontmoet het
- admit erken, toegee: Jy erken dat jy ʼn fout gemaak het
- acknowledge erken, insien, aanvaar: Iemand word as ʼn deskundige erken, ʼn nuwe staat word erken, iets is ʼn erkende feit, ontvangs van betaling word erken
erken [het erken]
1 insien en toegee: erken dat iemand reg het • ’n erkende feit • as ’n deskundige erken word.
2 aanvaar; aanneem: ’n nuwe staat erken.
3 getuig van; melding maak van: die ontvangs van geld erken.
4 openlik uitkom vir; bely: ’n fout erken • iets ruiterlik erken • jou skuld (aan ’n misdaad) erken.
herken [het herken]
1 weer ken; eien: Hoewel hulle mekaar meer as twintig jaar gelede laas gesien het, het sy hom dadelik herken.
2 iemand/iets aanwys as ’n persoon/ding met wie of waarmee jy vroeër reeds kennis gemaak het; identifiseer; uitken: iemand herken aan ’n foto van hom/haar wat jy in ’n koerant gesien het • ’n wysie herken.
3 weet wie s’n dit is: Herken jy hierdie hoed?
eien [het geëien]
1 herken (as eiendom): gesteelde beeste eien.
2 uitken; identifiseer: ’n verdagte rower eien.
uitken [ken uit, het uitgeken]
uit ’n groep aanwys; die identiteit bevestig van; herken; identifiseer: ’n boer wat sy skape/beeste een vir een kan uitken • ’n misdadiger op ’n uitkenningsparade uitken • Ná al die jare is ek seker ek sal hom steeds dadelik in ’n skare kan uitken.