Taalgebruik: fisiek, fisies

Argieffoto (Foto: alexramos10, Pixabay)

Na regte het fisiek betrekking op die liggaam en beteken dit dus “liggaamlik”. ’n Mens gaan dus dokter toe vir ’n fisieke (dit wil sê liggaamlike) ondersoek, en iemand is fisiek swak of sterk. Fisiek staan dus wat mense betref, min of meer teenoor geestelik. ’n Mak­like manier om dit te onthou, is om te dink aan die Engelse woord physique, wat die Longman Dictionary of Contemporary English (Harlow: Pearson Education Limited, 2009) definieer as “the size and appearance of a person’s body”. Fisiek pas dus by physique.

Daarenteen het fisies betrekking op die stoflike, tasbare werklikheid, die natuur, die heelal, die fisika. Dit beteken dus “natuurlik”. As sodanig staan dit dus teenoor die verstan­delike, die intellektuele, die geestelike.

In die praktyk loop die gebruik van dié twee woorde egter baie deurmekaar, deels seker ook omdat Engels dieselfde afleiding, physical, gebruik om sowel physique as physics af te lei. Van die twee Afrikaanse woorde kom fisies verreweg die algemeenste voor; dit oortree baie meer op die terrein van fisiek as wat laasgenoemde op sy terrein oortree. By die lemma fisiek sê die WAT “dikwels ook fisies”, maar by fisies sê hy “selde ook fisiek”. Ook sekere tegniese, soos mediese, woordeboeke handhaaf nie konsekwent die verskil tussen fisiek en fisies nie. Die noukeurige gebruiker sal dit egter wel doen.

Bronne: HAT Taalgids

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.