Taalgebruik: Foeitog en vrolik – ʼn kopkrappery oor f en v

Argieffoto

Gebruikers van Afrikaans struikel soms oor die spelling van woorde wat met ‘n “f” of ‘n “v” begin. Hiermee ‘n paar voorbeelde.

faal x vaal: ʼn Poging of die knapste mense kan faal, maar gebruik eerder misluk. Jy druip/sak [NIE: faal] (in) ʼn toets. ʼn Kleur is vaal.

fee x vee: ʼn Fee kom in kinderverhale voor en vee verwys na diere of om iets met ʼn besem skoon te maak.

feil x veil: Die argaïese selfstandige naamwoord feil beteken “fout” en die werkwoord feil om ʼn fout te maak; vandaar feilbaar en feilloos. Iemand het sy lewe veil vir sy land as hy bereid is om sy lewe vir sy land op te offer.

fel x vel: Fel is ʼn bywoord en byvoeglike naamwoord: Die son is/skyn fel en kritiek is fel/heftig/skerp. Vel kan, benewens ʼn selfstandige naamwoord, ʼn werkwoord wees: ʼn Boom of ʼn beslissing/oordeel/vonnis word gevel. ʼn Mens het ʼn vel, en ʼn dier ʼn vel/huid/pels.

fier x vier: Fier beteken “vol regmatige trots”, terwyl vier “feestelik deurbring” of “ook een minder as vyf” beteken.

fiets x viets: Die meisie ry fiets om haar postuur viets te hou.

fonds x vonds: Die Afrikaans vir funds is fondse of gewoon geld: Daar is geen geld [NIE: fondse] vir die projek nie. Gewoonlik word geld gestort of inbetaal in ʼn fonds wat met ʼn spesiale doel gestig [NIE: in die lewe geroep] is, soos in ʼn siekefonds of ʼn Kersfonds. Soms gaan dit om ʼn begroting of geldmiddele: Die weermag se begroting [NIE: fondse] is erg besnoei. Geld [NIE: fondse] word bewillig, gegee, geskenk of voorgeskiet vir byvoorbeeld ʼn projek, of die projek word gefinansier of gesubsidieer deur dit geldelik te steun of van kapitaal te voorsien [NIE: befonds]. Die selfstandige naamwoorde in dié verband is finansiering of subsidiëring [NIE: befondsing]. ʼn Vonds is iets wat gevind is of ʼn ontdekking wat gedoen is; die meervoud is vondste [NIE: vondse].

fors x vors: Iemand is fors gebou, maar het ʼn vorsende blik.

fort x vort: ʼn Fort is ʼn vesting, en vort beteken “weg”: Die inbreker is vort met die eienaar se motor.

frank x vrank: Die frank was Frankryk se geldeenheid, en iets proe/smaak vrank.

frot x vrot: Die speletjie is frot, en vrugte wat bederf het, is vrot.

Bron: Skryf Afrikaans van A tot Z, Beter Afrikaans, Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.