Taalgebruik: fonds of vonds

Argieffoto (Foto: Luxstorm, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Luxstorm, Pixabay)

Die Afrikaans vir funds is fondse of gewoon geld: Daar is geen geld [NIE: fondse] vir die projek nie. Gewoonlik word geld gestort of inbetaal in ʼn fonds wat met ʼn spesiale doel gestig [NIE: in die lewe geroep] is, soos in ʼn siekefonds of ʼn Kersfonds.

Soms gaan dit om ʼn begroting of geldmiddele: Die weermag se begroting [NIE: fondse] is erg besnoei.

Geld [NIE: fondse] word bewillig, gegee, geskenk of voorgeskiet vir byvoorbeeld ʼn projek, of die projek word gefinansier of gesubsidieer deur dit geldelik te steun of van kapitaal te voorsien [NIE: befonds]. Die selfstandige naamwoorde in dié verband is finansiering of subsidiëring [NIE: befondsing].

ʼn Vonds is iets wat gevind is of ʼn ontdekking wat gedoen is; die meervoud is vondste [NIE: vondse].

fooi

Die Afrikaans vir fees is geld(e), soos in inskrywings=, klas=, kurk=, dokters= en prokureursgeld, of betaling, heffing (bv. diensheffing), tarief, vergoeding en loon. Prokureurs laat betaal [NIE: vra ʼn fooi] vir ʼn konsultasie. Al hoe meer beroepslui verwys na hul vergoeding as ʼn fooi, maar gelde of tariewe is verkieslik.

ʼn Fooi(tjie) is ʼn geskenk wat in geld aan byvoorbeeld ʼn kelner of ʼn parkeeraanwyser gegee word vir ʼn gelewerde diens.

geld

Iemand sal R1 000 aan [NIE: in] prys- of omkoopgeld ontvang, en die skool- of doktersgeld [NIE: skoolfonds/doktersfooie] is verhoog. ʼn Belegging word in geld omgesit of te gelde gemaak (verouderd) [NIE: in kontant omgeskakel/omskep].

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R425-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.