Taalgebruik: Geslagsname van wildsbokke

Argieffoto (Foto: Matthieu Joannon/Unsplash)

Watter wildsbokke van die manlike geslag noem ʼn mens ʼn ram, en watter ʼn bul? En wat die vroulike diere betref: Wanneer praat ʼn mens van ʼn ooi, en wanneer van ʼn koei?

Na aanleiding van ons bekende plaasdiere – skape en bokke het ramme en ooie, en beeste het bulle en koeie – is die logiese aanname dat die grootte van die wildsbok bepaal of dit ʼn ram en ʼn ooi, of ʼn bul en ʼn koei is.

Tradisioneel word die afmetings van die mooi Laeveldse wildsbok die njala (Tragelaphus angasit) as maatstaf gebruik om die geslagsnaam van ʼn wildsbok te bepaal. As ʼn manlike wildsbok groter as ʼn njalabul is, word dit ʼn bul genoem, en as dit kleiner is, ʼn ram.

Dieselfde geld wildsbokke van die vroulike geslag: As die dier groter as ʼn njalaooi is, word sy ʼn koei genoem, en as sy kleiner is, is sy ʼn ooi.

Volgens Reay Smithers se boek The Mammals of the Southern African Subregion is die gemiddelde skofhoogte van njalaramme 112 cm, en hulle gemiddelde massa 108 kg. Die gemiddelde skofhoogte van njalaooie is 97 cm, en hulle gemiddelde massa 62 kg.

Nog ʼn maatstaf wat gebruik word om die geslagsnaam van ʼn wildsbok te bepaal, is glo om tussen die vroulike dier se agterbene na die voorkoms van haar uier te kyk. As die uier vier spene het, is dit ʼn koei en die manlike dier dienooreenkomstig ʼn bul; as die uier twee spene het, is die vroulike dier ʼn ooi en die manlike dier ʼn ram. Die kriterium werk nie vir die olifant nie, want die vroulike dier het twee mammae tussen haar voorbene, elk met ʼn tepel. Maar niemand gaan seker twyfel of ʼn olifant van die vroulike geslag ʼn koei en die manlike dier ʼn bul is nie. Die grootte van die dier is hier deurslaggewend.

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Parmantige samaritaan

Mm dankie vir hierdie interssante berig.

Johan

Baie interessant behalwe dat die spene inligting nie korrek is nie. Alle wildsbokke BEHALWE die Alcelaphine familie (Hartbeesste, Wildebeeste, Blesbokke, Tsessebe) het 4 spene, selfs die klein bokkies soos Duikers en Klipspringers. Net Alcelaphines en zebras het 2 spene