Taalgebruik: onthou, herinner, herinnering

Argieffoto (Foto: AbsolutVision/Pixabay)

Talle gebruikers van Afrikaans struikel oor gebruik van “onthou”, “herinner” en “herinnering”.

onthou x herinner

Hierdie onthou be­teken “in die geheue (kan) oproep; nie vergeet nie; in ag neem”. Dit is dus iets wat iemand self doen. As ’n mens dus sê Ek onthou jou, dan bedoel jy “ek het jou nie vergeet nie” of “ek weet wie jy is”. Hiervoor is die Engels gewoonlik remember.

Herinner word veral op drie maniere gebruik: Die eerste is wederkerend, byvoorbeeld Ek herinner my nog die dae toe . . ., dit wil sê “ek onthou nog die dae; ek roep nog die dae in my geheue op”.

Die tweede manier behels iets wat ’n mens aan iemand anders doen, naamlik om te pro­beer voorkom dat daardie persoon iets vergeet, byvoorbeeld: Ek herinner jou aan vanmiddag se vergadering, of Herinner my asseblief om kaas te koop as ons winkel toe gaan. Die Engels vir hierdie tweede gebruik is gewoonlik remind. Die belangrike hier is dat onthou NIE in hierdie betekenis gebruik kan word nie: ’n mens kan nie iemand *onthou om iets te doen nie.

Die derde gebruik behels dat iets ’n mens aan iets anders laat dink. Byvoorbeeld: Dié poeding herinner my so aan my ma, of Die enorme begraafplase herinner aan ’n verskriklike oorlog lank gelede.

herinner

Let op die spelling van hierdie woord – met slegs een h. Dit beteken “opnuut in die geheue roep of plaas; weer dink aan”. Dit is ’n ou Germaanse woord wat bestaan uit die voorvoegsel her= plus =inner (“inwendig, binne-in” – innerlik) en word op veral twee maniere gebruik: Een mens herinner ’n ander, byvoorbeeld Ek herinner u graag aan die vergaderingSandra herinner haar ma aan die in­kopies wat sy moet doen. Die ander gebruik is ’n deftiger manier van sê “(ek) onthou”: Ek herinner my die dae toe . . .Sommige ou mense herinner hulle nog die swaarkry van die oorlogstyd. In eersgenoemde gebruik is onthou NIE ’n sinoniem vir herinner nie: Dit is dus verkeerd om te sê *Onthou my dat ek die inkopies gaan doen of *Onthou my asseblief van die vergadering.

Herinner (ww) 
1 Laat dink aan: Dit herinner my aan my kinderdae. My suster herinner my altyd so aan ons moeder.
2 Die aandag vestig op; indagtig maak: Hy het my aan my belofte herinner. Herinner my tog dat ek vanaand na die uitsending moet luister. Hy raak so vergeetagtig dat hy aan alles herinner moet word.
3 (refleks.) Weer in die geheue, voor die gees roep, te binne bring: Ek kan my dit nie meer herinner nie.

Herinnering (s.nw) (herinnerinkie)
1 Daad, proses van herinner: Die herinnering aan vervloë dae. Iemand iets in herinnering bring, daaraan laat dink. Iets in herinnering hou, dit onthou.
2 Vermoë om jou iets te herinner; geheue: Hy het ‘n lewendige, helder, vae herinnering aan die gebeurtenis.
3(a) Voorstelling wat jou uit die verlede bygebly het: Die herinnering van ‘n wonderlike vakansie.
(b) Iets wat ‘n mens jou herinner: Herinneringe uit die verlede opteken.
4(a) Middel om die gedagtenis lewendig te hou, die gedagte aan iets terug te roep: ‘n Geskenk ter herinnering aan ‘n lekker vakansie. ‘n Merkteken as herinnering aan die oorlog.
(b) Iets wat moet dien om mens iets te laat onthou: Hierdie brief is ‘n herinnering van volgende week se vergadering.

Bronne: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), HAT Taalgids

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. -Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.