Taalgebruik: Hoofletters en kleinletters

Argieffoto (Foto: rawpixel, Pixabay)

Die gebruik van hoof- en kleinletters word bepaal deur stylvoorskrifte. Hier volg ʼn paar van die belangrikste beginsels en riglyne*:

– Sinsbegin
Die eerste woord van ʼn sin (ook van ʼn aanhefvorm en van ʼn sin sonder ʼn werkwoord) begin met ʼn hoofletter, behalwe as die sin met ʼn syfer, getal of simbool begin:
Sannie hou baie van haar nuwe rooi rok.
Ek weet nie.
20 tennisspelers het op Wimbledon gaan speel.

– Eiename
Woorde wat as eiename optree, begin gewoonlik met ʼn hoofletter:
Arnold
Gertruida
Kleinjan
Afrikaans
Dinsdag
Desember

– Aanhef- en aanspreekvorme
In die aanhef van ʼn brief, ʼn e-pos of ʼn dergelike teks begin ʼn aanspreekvorm sonder ʼn eienaam met ʼn hoofletter. indien ʼn eienaam in die aanhef bygevoeg word, begin die nie-eienaamgedeelte van die aanspreekvorm met ʼn kleinletter:
Liewe Ma, My liewe Ma
Liewe tannie Viljoen
Wil Mamma nog koffie hê?
Naand, Pa.
Kom jy, sussie?
Môre, oom Piet!

– Dier en plantname
Die gewone benaminge van plante en diere begin met kleinletters:
akkerboom
alg
geelhout
perske
duif
eland
kriek

– Soortname as eiename
Soortname wat as eiename of as dele van meerledige eiename optree, kry aanvangshoofletters:
Nuwe Testament
Grondwet
Arbeidersparty
Uniegebou
Melkweg

– Eiename as soortname
Eiename wat as soortname optree, behou gewoonlik die hoofletters van hulle eienaamekwivalente:
Volkswagens
Corollas
ʼn dop Klipdrift
ʼn koekie Lux
sewe Oscars

Taalbenamings en verwante verskynsels
Taalbenamings begin met ʼn hoofletter:
Afrikaans
Engels
Hebreeus
Hoogduits
Standaardafrikaans

Geografiese name
By meerledige geografiese name, hetsy los of met ʼn koppelteken vas geskryf, begin elke deel van die naam met ʼn hoofletter:
Nabye Ooste
Persiese Golf
Stille Oseaan
Bela-Bela
Middel-Europa

Geldeenhede
Die name van geldeenhede begin met ʼn kleinletter:
dollar
euro
frank

Geologiese benamings
Die name van geologiese tydperke en formasies, asook afleidings daarvan, begin met ʼn hoofletter:
Antroposeen
Eoseen
Jurassies

Die name van gesteentes en minerale begin met ʼn kleinletter, ook dié afgelei van ʼn persoons- of geografiese naam:
graniet
chroom
kalsium

Afleidings van eiename
Afgeleide byvoeglike en selfstandige naamwoorde van eiename (uitgesonderd multiwoordeiename, saamgestelde eiename wat met ʼn koppelteken vas geskryf word, geografiese eiename en taalbenamings) kan met ʼn hoofletter of ʼn kleinletter begin:
Adamities of adamities
Hertzogiet of hertzogiet
Marxisties of marxisties

Afgeleide byvoeglike en selfstandige naamwoorde van multiwoordeiename, saamgestelde eiename wat met ʼn koppelteken vas geskryf word, geografiese eiename en taalbenamings behou die hoofletter(s), spasie(s) en/of koppelteken(s) van die basis:
New Yorker
KwaZulu-Nataller
Suid-Afrikaner
Derde Wêrelds

Eienaamverbleking
ʼn Eienaamverbleking, met inbegrip van ʼn nieletterlik of figuurlik gebruikte soortnaam wat op ʼn eienaam berus, begin gewoonlik met ʼn kleinletter:
adonis (aantreklike man) teenoor Adonis (mitologiese figuur)
amasone (strydbare vrou) teenoor Amasone (mitologiese figuur)
braille
cutex
diesel
boetebessie
plaasjapie

Afkortings
Indien die volvorm van ʼn woord wat afgekort word, met ʼn hoofletter begin, begin die afkorting van die woord ook met ʼn hoofletter:
Apr. (April)
Jes. (Jesaja)
Vr. (Vrydag)

*Hierdie inligting is ‘n verkorte weergawe van die inligting soos vervat in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe). Skaf gerus dié handleiding aan om seker te maak dat jy alle riglyne kan volg:
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
Koop die boek nou by Graffiti Boeke 
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.