Om die Engelse sin “The cyclist won the race three years in a row” in Afrikaans te vertaal as “Die fietsryer het die wedren drie jaar in ʼn ry gewen”, word om al die konvensionele redes as anglisisties beskou.
In die eerste plek is in ʼn ry ʼn letterlike vertaling van “in a row” en in die tweede plek verdring dit ouer, eie woorde en uitdrukkings, soos agtereenvolgens en ná mekaar. Dit is dus beter om te sê: “Die fietsryer het die wedren drie jaar agtereenvolgens gewen.” Of: “Die fietsryer het die wedren drie jaar ná mekaar gewen.”
In ander kontekste is die kollokasie in ʼn ry in Afrikaans egter lankal reeds ingeburger. Vergelyk die sin: “Die graadeentjies moet in ʼn ry voor die klaskamer vir hulle juffrou wag.”
Indien jy vir gebruik in die bostaande konteks ʼn suiwerder uitdrukking as in ʼn ry verlang, kies dan maar ná mekaar.
Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke
Ek het die vraag nou al baie gevra en nog nooit ‘n antwoord gekry nie; Hoekom word slegs die woorde, frases en sêgoed wat uit Engels geleen word as “verkeerd” gesien? Dit het selfs ‘n skeldnaam “anglisisme”. Die woorde en sêgoed wat ons van ander tale af geneem het vir onsself word slegs leengoed of iets dergliks genoem. Ek het nog nooit van ‘n Xhosasisme, Vendasisme, Fransisme, Germanisme of Latynisme gehoor nie. Het ons na al die jare nog steeds ‘n probleem met die Engelse? Die Boereoorlog is darem nou al meer as 110 jaar verby.
In my onkunde sê ek nog altyd “agtereenvolgend”
Maar volgens die reels is ek natuurlik verkeerd.
Ek kyk na taal op ‘n baie simplistiese manier.
Die doel van ‘n taal is om ‘n boodskap of idee aan iemand anders oor te dra sodat daardie persoon dit net soos jy verstaan. As ‘n taal dit regkry het dit geslaag. Dis hoekom daar so baie dialekte van elke taal bestaan. Mense wil nie ingehok word met reëls en regulasies op iets so persoonlik soos jou taal nie. Sit riglyne neer, maar om ‘n woord of frase as “reg” of “verkeerd” te brandmerk is volgens my “verkeerd”. Stap in ‘n kroeg in na 10 en gaan vertel hulle, hulle praat die Taal verkeerd. Sterkte!