Taalgebruik: ingedagte, in gedagte

Argieffoto. (Foto: JESHOOTScom/Pixabay)

Die woordpaar “ingedagte” en “in gedagte” laat menige taalgebruiker struikel.

Ingedagte (een woord) is ʼn bywoord en byvoeglike naamwoord wat “afgetrokke”, “verstrooid” of “in gedagtes versonke” beteken:

  • Ingedagte staar sy by die venster uit en hoor nie die kind roep nie
  • Oupa vryf ingedagte oor die bol van sy pyp terwyl hy toonloos by homself neurie
  • As ek ingedagte is, vergeet ek soms wat om my aangaan.

Wanneer in gedagte (twee woorde) los geskryf word dan is “in” ʼn voorsetsel en “gedagte” gewoon ʼn selfstandige naamwoord wat “handeling of proses van te dink” beteken:

  • (diep) in gedagte versonke wees
  • diep in jou eie ge­dagtes versonke wees
  • in swaarmoedige gedagtes verval

Die vorm in gedagte (twee woorde) hou verwys daarna om “iets in ag te neem” of “daarmee rekening te hou”:

  • ʼn Mens moet in gedagte hou dat…
  • Hou in gedagte dat belasting nog bygevoeg moet word

Bronne: Skryf Afrikaans van A tot Z, Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (6de uitgawe) en HAT Taalgids  

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.