Taalgebruik: Is dit regtig ‘n anglisisme?

Argieffoto (Foto: Wilfried Pohnke/Pixabay)

Nie alles wat soos Engels lyk of wat uit Engels afkomstig is, is ʼn anglisisme nie. Maar is ʼn woord of uitdrukking dan wél anglisisties?

HAT Taalgids

Nie alles wat soos Engels lyk of wat uit Engels afkomstig is, is ’n anglisis­me nie. Daar is minstens drie belangrike redes hiervoor:

  • Afrikaans en Engels is albei Ger­maanse tale en het dus noodwendig sekere dinge (soos woordeskatelemente) gemeen.
  • Sowel Afrikaans as Engels het ryklik by Romaanse tale geleen, wat ook sekere oor­eenkomste meebring.
  • Afrikaans en Engels bestaan al minstens twee eeue naas mekaar in Suid-Afrika, en dit is dus onvermydelik dat hulle mekaar beïnvloed het.

Tog het elk van dié twee tale sy eie “stem” en sy eie manier van dinge sê: sy eie unieke aard. Eers wanneer Engels die eie aard van Afrikaans aantas, kan ’n mens van ’n anglisisme praat.

VivA Advies

Die uitdrukking “hardloop uit tyd uit” is byvoorbeeld anglisisties, want dit is uit die Engels oorgeklank (“run out of time”) en daar is ‘n Afrikaanse uitdrukking daarvoor (die tyd is verstreke).

Die weglating van “die” voor “meeste” is anglisisties (“most people”) en die gebruik van die aanwysende voornaamwoord sonder die konsep waarna daar verwys word (“hierdie is ‘n oulike meisie” in plaas van “hierdie meisie is oulik”) is ook anglisisties (“this is…”).

Gebruikers moet egter waak teen ‘n sogenaamde “anglisismejag”. Afrikaans het heelwat woorde uit Engels geleen, en leen steeds. Dit is ‘n natuurlike proses wat Afrikaans verryk eerder as verskraal. Veral vaktaal steun sterk op Afrikaans se Romaanse erfenis, en sulke woord moet nie as anglisisties beskou word nie. Die gebruiker wat twyfel word aangeraai om te steun op woordeboeke en vakterminologielyste. Indien ‘n woord of uitdrukking op hierdie wyse gestandaardiseer is, is die gebruik daarvan in standaardtaalkontekste geldig.

Lees ook Sophia Kapp, senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se rubriek “Taalsuiwerheid – kry jou anglisisme aangespreek en jou lingo in lyn” hier op Maroela Media.

Bron: HAT Taalgids en VivA Advies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Daar is dikwels woorde uit ouer tale, wat later deur verskeie ander tale aangeneem is. Baie van hierdie woorde, is dus nie uit engels aangeneem nie, maar parallel met Afrikaans en vele ander tale, uit die brontaal aangeneem.
Woorde wat dus dikwels klink asof dit uit engels sou uitspruit, deel dus eerder ‘n paralelle efenis van ‘n ander, ouer taal, eerder as dat dit uit engels vererf is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.