Taalgebruik: kibbel, knabbel of knibbel?

Argieffoto (Foto: Benjamin Sz-J./Pixabay)

Taalgebruikers struikel soms met die verskil tussen “kibbel”, “knabbel” en “knibbel”: ʼn  Mens kibbel oor kleinighede en jy kibbel of knibbel oor pryse as jy ʼn laer prys probeer beding. Knibbel sowel as knabbel verwys na “peusel” of “versigtig byt”.

kibbel
1 oor kleinighede twis; hare kloof: Die man en vrou kibbel heeldag. • oor nietighede kibbel.
2 afding op ʼn prys; minder aanbied as wat die verkoper vra: Marnus het die manier om altyd oor ʼn prys te k(n)ibbel. • Dit help nie om te kibbel nie; hy slaan nooit iets af nie. • Waarom kibbel? Die prys is tog billik.

Uit die HAT Taalgids: Oor knibbel en knabbel
Knibbel het ʼn wyer betekenisveld as knabbel, maar in die beteke­nis van “met die (veral voor)tande stukkie vir stukkie afbyt” is hulle dieselfde en albei ewe aanvaarbaar. In sommige kringe word gemeen dat knibbel nie dié betekenis het nie, maar volgens die WNT kom dit reeds in die 16de eeu in Nederlands voor, en die WAT bevestig die ooreenkoms in Afrikaans. ʼn Muis of ʼn rot kan dus gerus maar aan ʼn stukkie kos knibbel of knabbel en ʼn haas kan maar aan ʼn wortel knibbel of knabbel of die vis kan maar aan die aas knibbel of knabbel. Trouens, in hedendaagse Afrikaans is knabbel waarskynlik minder gebruiklik as knibbel in hierdie betekenis.

Bronne: HAT, HAT Taalgids en Skryf Afrikaans van A tot Z

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Seerot ·

Ek wil nou met jou kibbel nie, maar die woord is “redekawel”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.