blykbaar x skynbaar x klaarblyklik
Hierdie drie woorde (hulle is meestal bywoorde, maar soms ook byvoeglike naamwoorde) word baie dikwels verkeerd gebruik. Trouens, blykbaar is so dikwels verkeerd gebruik dat hy nou al ’n betekenis gekry het wat hy streng gesproke nie behoort te hê nie.
Die stam blyk= dui op ’n stelligheid, iets wat seker of duidelik is. As ons sê Dit blyk dat . . ., dan bedoel ons immers “dit is duidelik of seker dat . . .”. Dit is wat blykbaar na regte ook impliseer.
Deur jare lange verkeerde gebruik het hierdie betekenis egter grotendeels verskuif na iets waarmee jy bloot waarskynlikheid of onsekerheid aandui; jy dink maar iets is so: Hulle is blykbaar geskei, maar ek het dit nog nie eerstehands by haar gehoor nie. Blykbaar loop dus altyd die gevaar van misverstand weens dubbelsinnigheid.
’n Mens gebruik skynbaar om aan te dui dat jy nie seker is nie, dat iets so voorkom, maar dat jy dit nie as feit bevestig nie: dit skyn slegs vir jou so te wees: Hy het skynbaar staan en hengel toe die brander hom van die rots afslaan, dit wil sê ek vermoed dit is wat gebeur het, maar ek is nie heeltemal seker nie.
In klaarblyklik het ’n mens ’n dubbele stelling van sekerheid, stelligheid, duidelikheid, want klaar beteken “helder, nie duister nie” (vgl. verklaar, klarigheid) en blyklik beteken “wat geen twyfel laat nie” (vgl. blykbaar hier bo). As ’n mens dus klaarblyklik gebruik, dan bevestig jy sonder twyfel die stelligheid of sekerheid van iets: Iemand wat sê die maan is van kaas gemaak, maak klaarblyklik ’n grap.